Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
ek bly steeds ’n swerwer
op soek na ware noord
Hierdie lirieke, uit Elvis Blue se “Beloofde Land”, het my laat wonder: Is ons nie almal maar op ’n manier sowel tuis as ontuis – in ons families, die plekke waar ons woon en werk, die kerk – nie? Waar kom ons werklik tuis? Is dit noodwendig altyd sleg om vreemd en ontuis te wees? Is dit noodwendig altyd goed om tuis en ingeburger te wees?
Swerwery mag gewoon ’n gegewe wees van menswees. “Lewe en sterwe is swewe en swerwe,” skryf NP van Wyk Louw in sy gedig “Seemeeu”.
Maar daar is ook heelwat wat disoriënterend en verwarrend mag wees daaraan om te swerf, veral as dit nie uit eie keuse gebeur nie. Dalk bied hierdie egter aan ons die geleentheid om dieper ondersoek in te stel na dit waarin ons veranker is: Wat is ons ware noord? Wat oriënteer ons in ons soeke en omswerwinge? Is dit bloed, familie, volk? Taal en kultuur? Beloftes en geloftes? Geskiedenis? Grond? Geloof? Kerk en kerkverband en sinodes en gemeentes? Waarheen keer ons terug in ons omswerwinge? Waarin en by wie is ons tuis?
In die Bybel lees ons van heelwat swerwers. Dink aan die vervloeking van Kain, nadat hy sy broer Abel vermoor het, om ’n doellose swerwer te wees (Genesis 4:12). Binne die Joodse geloof speel die bekende belydenis dat Jakob ’n rondswerwende Arameër was (Deuteronomium 26:5) en die herinnering aan die Israeliete wat vir veertig jaar in die woestyn rondgeswerf het (Numeri 32:13) ’n belangrike rol. Ons kan dink aan die dissipels – Simon en Andreas, Jakobus en Johannes – wat weg geroep word om Jesus te volg in sy omswerwinge (Markus 1:16-20). Trouens, Jesus self word as ’n swerwer beskryf: as iemand wat geen plek het waar hy sy kop kan neerlê nie (Matteus 8:20). Dit is hierdie Jesus se volgelinge wat, volgens Paulus, as swerwers bekend sou staan (1 Korintiërs 4:11).
Hierin kom ons die Verbondsgod van Israel, die swerwersvolk wat hulleself meermale in vreemde lande – Egipte, Assirië, Babilon (maar ook in geen land, in die wildernis) – bevind, teë. Die Evangelies vertel die verhaal van Jesus, die swerwerseun van God, wat pal aan die beweeg is en nêrens finaal ingeburger kom nie. Dit is hierdie Jesus wat die kerk bly vooruitgaan – met sy kruisiging, opstanding, en hemelvaart – en dit is deur swerwers wat die evangelie tot aan die uithoeke van die aarde verkondig sou word.
Die Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas skryf positief oor die waarde en dissipline van swerf, in sy boek Wilderness wanderings (2011). Daarin beskryf hy Christene as diegene wat opgelei is om met nuuskierigheid en moed – maar ook geloof en selfvertroue – te soek, te wonder, en te swerf. Om vanuit die troos van die evangelie te leef is om nomadies te (kan) leef, as diegene wat alles kan verloor (dalk selfs ’n plek in die kerk) omdat ons diepste identiteit buite ons veranker is.
In sy boek Eccentric existence (2009) voer die Amerikaanse Gereformeerde teoloog David Kelsey juis aan dat die sin en betekenis, waarde en waardigheid van ons bestaan nie in onsself gesetel is nie, maar buite ons behoue bly – in die drie-enige God wat in verhouding met ons tree. Goddelike inisiatief om ons te skep, tot vervulling te bring, en te verlos veranker ons in ’n realiteit groter as onsself, buite onsself. Dat ons lewe en troos en diepste identeit eks-sentries is – buite die sentrum van onsself – beteken dat ons vry is om te soek, wonder, en swerf.
Ons kom hierdie temas ook in kuns teë. In die Katolieke kapel op Heroldsbaai, genaamd die Stella Maris (Latyns vir “ster van die see”) hang ’n skildery wat Maria en die Jesuskind uitbeeld. In die agtergrond van die skildery loop ’n skip wat vasgevang is in ’n groot storm op die rotse, en word Maria uitgebeeld as die heenwyser en rigtingwyser te midde van die storms van die lewe. Die troos vir die swerwers op daardie skip is dat hulle nie alleen of verlore is nie: Maria en die Jesuskind is ware noord.
Dit het my herinner aan die gebed vir swerwers: ’n gebed vir soekers en dromers en ontnugterdes en verwerptes wat vra om God se seën vir diegene wat reis en twyfel en swerf; en na genade om te kan onttrek en ’n plek te kan verlaat; en vir beskerming van diegene wat oordeel en spot; en krag om die reis te onderneem. Dit is soms nodig om die grense van wat ons ken te verlaat, lui die gebed, sodat ons kan soek na nuwe maniere van sien en leef en wees. Wie weet wat ons alles van onsself en mekaar, van God en die wêreld in ons omswerwinge kan ontdek? Miskien het ons juis die swerwers nodig …
Geseënd is die swerwers.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen gekoppel.