Messages of hope for South Africa saamgestel deur Anemari Jansen
Uitgewer: Koorsboomstories, 2025
Resensent: Rethie van Niekerk
Mooi. Dit is die eerste woord wat by ’n mens opkom wanneer jy Messages of hope for South Africa in jou hande hou. Die kleurvolle glanspapier en deurlopende volkleurfoto’s verleen nie net skoonheid nie, maar getuig ook subtiel van die skrywers se hoop vir Suid-Afrika.

Messages of hope for South Africa is ’n versameling essays deur ’n diverse groep skrywers. Sommige stemme is goed bekend aan Kerkbode se lesers, ander minder so. Bykans elke bydrae verweef hoop en geloof. Skrywes wissel van filosofies tot prakties. Veral die narratiewe getuig treffend oor hoop vir hierdie land van ons.
Jansen beskryf die boek as haar liefdesbrief aan Suid-Afrika, maar dan ’n ongeromantiseerde liefdesbrief – ’n liefde wat om eerlikheid vra. Sommer met die wegtrekslag vra Stefaans Coetzee reeds om die aard van dissipelskap. Hoekom, wonder hy, lyk ons land soos dit lyk, as 80% van ons Christene is? Hendri Hofmeyr praat oor Suid-Afrika by die kruispad tussen hoop en wanhoop, terwyl Jaco Strydom op kenmerkende wyse vertel van die ontdekking dat daar op sy studentedorp meer kerke as straatkinders was. “Ek is nie dood nie,” is Leilani Basson se verrassende invalshoek.
In die lees van Messages of hope gaan jy waarskynlik ’n stem of drie raakloop waarna jy nog nie vantevore geluister het nie. Juis hierin lê die waarde van hierdie versameling, in die moontlikheid van nuwe, onverwagse perspektiewe. Dalk moedig dit jou aan om te reflekteer oor wat hoop vir jou beteken en hoe jy kan bydra tot hoop vir Suid-Afrika.
Beskikbaar via Koorsboomstories.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
