Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boek: Verhaal van 200 jaar se kerkmusiek in die NG Kerk onthul: Iets het hier in Suid-Afrika met hierdie musiek gebeur

De Kinderharp, Hallelujas & Afrika Nyimbo’s: Verborge liedereskat in die NG Kerk Argief 1824-2024 deur Isabel Murray

Uitgewer: Clairvaux Uitgewershuis, 2024

Resensent: Siegfried Louw

Miskien het jy ook al vir ’n sjokoladeproe by ’n wynplaas opgedaag. Hulle bring so ’n pikante bordjie met ’n stukkie sjokolade op en begin vir jou die storie van die sjokolade vertel. Aanvanklik is ’n mens nie baie lus vir die storie nie – jy is meer lus om die sjokolade te begin eet! Die wonder is egter dat die storie van die sjokolade en die vervaardiging van die wyn jou sintuie aanwakker vir die smaakervaring.

De Kinderharp, Hallelujas & Afrika Nyimbo’s is ’n boek wat jy nie eintlik van voor tot agter deurlees en dan is jy klaar daarmee nie. Dit is ’n boek wat iewers in jou huis moet lê, waar jy soms kans kry om ’n stukkie te proe, terwyl jy die groter storie agter die betrokke paar bladsye gelees kry. Dit vertel die verhaal van twee honderd jaar se kerkmusiek in die NG Kerk. Sodra jy begin deurblaai en hier en daar ’n wysie of ’n strofe herken, kry die boek ’n lewe van sy eie.

Tydens die boekbekendstelling, is grepe van die vertellinge aan die gehoor meegedeel. Van die musiek is uitgevoer, terwyl ons verhale daaragter kon inneem. “Ek kon myself en wie ek is, in die stories herken,” sê dr Lisel Joubert in reaksie op die bekendstelling.

Inderdaad. Die boek vertel die storie van ons liedereskat. Dit is vrygewig met informasie oor liedere, maar vertel sodoende baie meer oor wie ons hier aan die Suidpunt van Afrika is. Dit is volgeprop met verhale oor liedere en die ervarings daarvan. Die liedere het verskillende herkomste. Sommige is hoogkerklik, ander voel soos volkswysies en party is meesleurende hartsmusiek. Terwyl jy deur die boek werk, ontluik ’n gewaarwording in jou binneste: Iets het hier in Suid-Afrika met hierdie musiek gebeur. Dit het van allerhande oorde af hierheen gekom, maar dit was slegs die begin. Hier het die musiek óns s’n geword. Met “ons” word verwys na ’n baie wye groep mense.

Isabel Murray kry dit reg om ’n hartroerende verhaal te vertel. Sy help ons om raak te sien dat liedere en teologie dalk van ander plekke af na Afrika toe kan kom, maar dat daar ’n misterie bestaan oor hoe God dit alles hier ons eie laat word het.

Die singende duif op die voorblad, met ’n skitterwit gloeiende son daaragter, maak eers sin as jy ’n rukkie met hierdie boek gesit het.

Beskikbaar by die skrywer teen R650 per eksemplaar.

 

Dr Siegfried Louw is predikant in sinodale diens vir predikantebegeleiding by die Sinode van Wes-Kaapland.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top