Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Christo Lombaard van Pretoria skryf: Die Rapport-berig onder die opskrif “Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie’” verwys.
Die opskrif skep die eerste-oogopslag-indruk, dat ons hier ’n duiwelaanbidder het wat by die Universiteit van Pretoria werk. Die openingsin van die berig lei daardie indruk ’n stap verder: Hierdie Satanis werk by die Fakulteit Teologie!
LEES OOK: UP reageer op Rapport-berig – Verklaring deur Kuratorium
Gegewe die afgelope jare se onbeholpe verdagmakery, in sekere kringe, van hierdie fakulteit, kan ’n mens raai dat die onderliggende nuuswaardigheidsin hier kon wees, iets soos: “Aha! – die plek waar dominees, nogal, opgelei word, het jouwerklikwaar ’n duiwelaanbidder in diens!” Hierdie onderliggende “maar-sien-jy-nou-net!”-nuuswaardigheidsinspeling word nie prontuit in die berig gestel nie, maar sterk geïmpliseer. En sinspeling tel onder die mees kragtige vorme van betekenisgewing: Dit skep ’n sentrale verstaanskonteks. Dit bepaal indrukke.
Natuurlik word dit effens later in die berig verduidelik, dat amper-doktor Kapp ’n “navorsingsmedewerker” is van die Departement Godsdiensstudies. Kapp was naamlik die afgelope jare ’n doktorale student in hierdie vakgebied, waarbinne alle nagraadse studente vanselfsprekend ’n “navorsingsmedewerker” is. Hoe dan anders? – ’n Doktorale kandidaat is uiteraard ’n navorsingstudent.
Is amper-doktor Kapp (sy gradeplegtigheid vind later vanjaar plaas) egter ’n personeellid van die Fakulteit Teologie? Nee. Van UP? Nee. Trek hy ’n UP-salaris? Nee. Gee hy klas by UP? Nee. Praat hy namens hierdie fakulteit en/of universiteit? Nee, nie in sy standpunt oor Ernst Roets of oor enige ander saak, geestelik of beestelik, nie.
Nou hoekom dan hierdie tipe teendeel-insinuasies in die opskrif en in die openingsfrase van die berig? Dalk maar, een van daardie gevalle waar nuussin en berigopskrif nie na wense was nie. Die gevolg is ’n wanvoorstelling – soos wat dit ook gou en goed aangedui is op die “Tristán Kapp”-Facebook-blad. Bedoeld of per abuis, dra die berig die werklikheid darem regtig nie mooi regverdig oor nie.
- Prof Christo Lombaard is professor en hoof van die Departement Praktiese Teologie en Sendingwetenskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy doktorsgrade is in die Kommunikasiekunde en in die Teologie. As gereelde bydraer tot die nuusmedia, skryf hy ook hier in sy persoonlike hoedanigheid.
Om vir Hoffie Hofmeyr aan te haal:
As navorsingsgenoot is die betrokkene nl die selferkende satanis Dr Tristan Kapp wel nie amptelik in diens van die Fakulteit Teologie nie en ook nie ‘n betaalde dosent in die Fakulteit nie. Dit kan egter nie ontken word dat hy wel as ‘n navorsingsgenoot amptelik gekoppel is aan die Fakulteit en aan die Dept Godsdiensstudies nie. Hy neem naamlik op grond van die taakomskrywing vir ‘n navorsingsgenoot, deel aan navorsing in die Fakulteit en Departement, skryf artikels in naam van die Fakulteit en Departement, en bied by geleentheid minstens aan gevorderde studente lesings aan. Een van sy plasings op Facebook vertoon hom bv waar hy juis ‘n lesing in een van die Fakulteit se seminaarkamers aanbied. Dit wil se die persverklaring deur die Kuratorium bevat nie die volle waarheid nie, en is dus in sekere opsigte “vals en misleidend”. Daar is ongetwyfeld ‘n duidelike verbintenis tussen die betrokkene en die Fakulteit Teologie, iets wat deur die verklaring ontken word.
Prof Hofmeyr se verheldering sal natuurlik geld vir elke ander doktorale student in die Department ook. Dr Kapp se “betrokkenheid” is dus nie op sigself opspraakwekkend of besonder noemenswaardig nie, behalwe vir die feit dat sy publieke persona geneig is om vromes na hul pêrels laat gryp. Solank studente nie hul geloofsoortuigings – ateïs, boeddhis, kommunis – verklap nie, mag hulle maar ‘n graad by die Departement kry en navorsing doen.
Johannes Richter en Prof Hoffie Hofmeyr belig dié saak deursigtig en ons waardeer die Herderskap en Intergiteit wat hulle openbaar. Die saak blyk nie maklik afgemaak te word deur verklarings nie.