DIE #IMAGINE-BEWEGING, WAT LAASJAAR DIE TIEN JAAR MERK VERBY GESTEEK HET, SIEN NIE NET ’N GROEI IN GEWILDHEID ONDER TIENERS NIE, MAAR OOK DAT AL HOE MEER VRYWILLIGERS OF SPREKERS JONGMENSE IS WAT OP EEN OF MEER VAN HIERDIE INTERKERKLIKE NETWERK SE EERSTE KAMPE WAS.
“Dis wonderlik om te sien hoe een generasie #imagineers ’n volgende generasie oprig en dien!” So vertel ds Anriëtte de Ridder, een van die stigterslede van hierdie beweging wat sedert 2014 mense uit verskillende kerke verenig om jongmense te help om ’n beter toekoms vir hulleself en vir Suid-Afrika te verbeel.
Hierdie jaar het 2 429 jongmense uit 341 gemeentes op 116 dorpe “#imagineers” geword, soos wat deelnemers genoem word. Dit wys groei op laasjaar toe 2 170 jongmense van 121 dorpe en 371 verskillende kerke op Bothaville in die Vrystaat en Bredasdorp in die Overberg gekamp het. Vanjaar was daar ook ’n derde kampplek, Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.
Die getallegroei is dalk nog nie by die meer as 6 000 wat in 2016 (die jaar wat hierdie inisiatief vanuit die NG Kerk as nie-winsgewende organisasie geregistreer is) #imagine se kampe bygewoon het nie, maar groot getalle by die jaarlike feesnaweke is nie hul hooffokus nie. Op hulle webblad staan dié ekumeniese beweging wil gemeentes help om jongmense te bemagtig en betrokke te maak by hulle kerke én ook mense uit verskillende gemeenskappe bymekaar uitbring.
Luister ook na hierdie podsending met ds Anriëtte de Ridder.

‘Maak golwe’
Vanjaar se tema was Dors. Drink. Deel. Maak golwe. Almal woorde wat kom uit die storie van die Samaritaanse vrou met wie Jesus gepraat het by die put soos vertel in Johannes 4. De Ridder verduidelik die golwe verwys na die golwe wat hulle die jongmense uitgedaag het om in hulle gemeenskappe te gaan maak.
Dit sluit aan by #Imagine se ander oogmerk, om jongmense te inspireer om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.
Senzo Madiba is een van die terugkerende “#imagineers” wat so ’n storie het om te vertel.
Sy ouma dood is dood toe hy 11 of 12 was, sê hy later by navraag aan Kerkbode. Sy was die een wat hom op haar eina-staatstoelae versorg het in KwaZulu-Natal. Na haar dood was hy op sy eie. Om te oorleef het hy begin steel. Toe kom haal sy pa se nuwe vrou hom (sy ouers is geskei kort na hy gebore is) en bring hom Johannesburg toe.
“I was a lonely broken boy that did bad things,” sê die jongman wat vandag so vol selfvertroue sy storie, mikrofoon in die hand, voor duisende jongmense kan vertel.
In die stad het sy pad gekruis met die mense van MES, ’n Christelike hulporganisasie wat mense help met tweede kanse in die lewe. Senzo vertel hy het beleef hierdie mense sien potensiaal in hom raak waarvoor hyself blind was. Dit was MES se mense wat hom na kampe gebring het soos dié aangebied deur die #imagine-beweging. Dit was by een van hulle #imagine-naweke dat sy geloofsreis saam met God begin het. Dit het sy lewe het verander.
Vandag gee hy terug. Hy werk vir MES as groepleier van nasorggroepe vir tieners uit areas soos Scottsdene, Belhar en Maitland, van die Kaap se armer woonbuurte en die laaste ses jaar kom vertel hy sy storie by die #Imagine-kampe.


Ander kom terug as predikante, jong volwassenes en studente om gebedstasies te bou, is leiers vir die tieners, bied werkswinkels aan of kom as vrywilligers.
So was Trunette de Jongh en Carli Hugo by van die eerste kampe en is altwee vandag NG dominees. Louis Potgieter, wat in 2017 as tiener op ’n kamp was, was vanjaar as mediese dokter op een van die mediese spanne.
Tinarie Brown, ‘n organiseerder by die Vrystaatse kamp vertel sy het agtergekom baie van hulle vrywilligers was self as tieners by #imagine-kampe en kom terug om, soos sy dit stel, “die volgende generasie te bedien”.
“Dis wat die beweging aan die gang hou,” voeg sy by.

Genoeg geld bly ’n uitdaging
Soos elke jaar bly geld ’n uitdaging. Van die kinders het nog nooit gekamp nie maar hulle ouers kan nie tente of matrasse kan bekostig nie. De Ridder vertel vanjaar moes hulle as organiseerders byvoorbeeld tente huur, darem gedeeltelik geborg, vir 200 van die kinders wat die kamp by Bredasdorp bygewoon het. Gemeentes of groepe borg ook jaarliks van die jeuggroepe om te kan gaan selfs al is die kinders nie van hulle gemeente nie. So borg die NG Gemeente Welgemoed al vir ’n paar jaar ’n jeuggroep uit Khayelitsha se vervoer. Hierdie jaar het hierdie jongmense besluit hulle wil bydra en het 20 van hulle groep die helfte van die vereiste R750 per kind kon insamel. Dit terwyl baie van hulle kom uit huishoudings wat op staatssubsidies oorleef.
Lees ook: Kyk: #imagine2023: ‘Die Bybelstudie-werkswinkels was oorvol’
Vir meer hoe oor hoe borgskappe werk, besoek #imagine se webblad.

Só beleef tieners #imagine
Die organiseerders doen jaarliks moeite om deur opnames hulle vinger op die pols te hou van hoe jongmense die kampe beleef. De Ridder vertel die laaste twee jaar was musiek en lofprysing bo-aan vir 83% in antwoord op die vraag waar hulle Jesus ervaar.
Nog 45% het die gebedstasies genoem en 23% het die werkwinkels uitgelig waar hulle prakties geleer het hoe om ’n verskil te maak. Die sprekers, kleingroeptyd, vriende, gesprekke met leiers en die “Care team” is ook uitgewys.
Buiten die musiek, het 50% die naweek in geheel uitgelig op die vraag om drie dinge te noem wat hulle gehelp het om in hulle geloof te groei. Vir nog 33% was dit die tyd in gebed, en 20% die Bybel.
Ander dinge wat genoem is, sluit in dat hulle kans gekry het om hulle seer en swaarkry te verwerk, tyd in kleingroepe en tyd met Christenvriende.
Sowat 24% het genoem dat hulle vir die eerste keer aan Jesus ’n oorgawe gemaak het of ’n hertoewyding gemaak het.
De Ridder verduidelik dit is vir hulle by #imagine ook belangrik om jongmense aan tieners van ander rasse en agtergronde bekend te stel. So het die helfte van die deelnemers genoem dat hulle ’n vriend op #imagine gemaak het wat kom uit ’n ander ras / kultuur / agtergrond as hulle eie. Nog 25% het verder genoem dat hulle graag sulke vriende wil maak.

‘Klomp tieners besig om kerk te wees’ – ‘n predikant vertel hoe sy #imagine ervaar
Om so ’n #imagine-naweek mee te maak is ’n belewenis wat haar diep geraak het, vertel ds Annelet Slazus van Parow wat al ses keer op Bredasdorp gekamp het. Sy sê: “Wat my regtig die naweek getref het … as ek, en ek dink baie ander mense, deesdae oor die NG Kerk, of sommer net kerk dink, dink ’n mens aan al die koerantopskrifte en urelange vergaderings waar daar gepraat word oor hoe “kerk-wees” moet lyk. Die naweek van #imagine was daar nie een keer bloot gepraat oor wat is kerk-wees nie, maar elke oomblik was die klomp tieners besig om kerk te wees. Sonder vergaderings, sonder agendas, sonder uitkomste of stemmery. Krom, en skeef, en verskillend, laf en hard, diep en biddend, bekend en nuut, ongemaklik en tuis, maar als saam-saam en langs mekaar”.
- Berig is aangepas na publikasie.
