Die skrywer Bettina Wyngaard sê sy dink nie ’n mens kan die toekoms van Afrikaanse boeke in die breë skei van Afrikaanse boeke wat spesifiek oor geloof en teologie gaan nie.
“Ek dink nie in dit wat ons lees, moet ons noodwendig ’n onderskeid maak tussen geloofsboeke en ‘ander boeke’ nie,” sê die Anglikaanse nuwe voorsitter van die Andrew Murray Desmond Tutu-prysfonds. Heléne Meissenheimer gesels met haar oor temas soos versoening, geregtigheid en haar hoop dat die prysfonds al meer beweeg weg van “die een is NG en daai een is Anglikaan … maar dat ons onsself net as ’n groep gelowiges sien wat probeer om gehalte Christelike teologiese literatuur hoofstroom te maak”.
Lees ook meer oor vanjaar se pryswenners van die Andrew Murray Desmond Tutu-prysfonds: Cas Vos wen Andrew Murray-prys + ander wenners vir 2025 bekend
Ons praat ook oor boeke wat vrae vra oor God en geloof. Vir haar is die Bybel ’n rigtingwyser, sê Bettina, maar voeg by, “as ons nie behoorlik aandag gee aan die vrae wat gevra word nie, dan dink ek is ons besig om ons eie Christenskap in ’n boksie te sit … ek glo dit en ek het dit nog altyd geglo, Jesus aan die kruis is groter as enige vraag wat enigeen van ons kan vra”.