Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Bepeins ’n slag die groot invloed van klein alledaagse stu-kragte

The Housefly Effect: How Nudge Psychology steers our behaviour without us even knowing

Deur Eva van den Broek en Tim den Heijer

Uitgewer: HarperCollins, 2025

Resensent: Waldemar Stumpfe

 

The Housefly Effect is ’n handige boek vir jouself of gespreksgroepe wat graag meer wil besin oor hoe om in die oomblik en meer deurdag te leef.

In hulle boek wys die skrywers hoe menslike gedrag daagliks gestuur word deur sogenaamde “nudge”-psigologie – sagte stu-kragte, sonder dat ons dit noodwendig agterkom. Tog stuur hierdie kragte ons in ’n bepaalde rigting om besluite te neem.

Die metafoor van ’n gewone huisvlieg wys hoe ons keuses dikwels nie deur rasionele denke nie, maar deur omgewingsinvloede gevorm word. Onbenullige faktore laat ons toe om soms belangrike keuses te beïnvloed waartoe ons heel moontlik nie sal instem as ons meer doelgerig oor die aangeleentheid besin het nie.

Advertensies, winkelsentrums en sosiale media gebruik taal, ruimtes en idees op só ’n manier dat dit die brein aanmoedig om in ’n sekere rigting te reageer. Aangesien die brein voorkeur gee aan kortpaaie, is dit hier waar die subtiele invloed van hierdie stelsels inskop.

Konsepte en voorbeelde

The Housefly Effect gee talle voorbeelde uit die alledaagse lewe: soos supermarkte wat vars en gesonde produkte aan die begin plaas sodat kopers hulleself teen die einde “beloon” met ‘n lekkerny vir hulle goeie keuses aan die begin. Skielik stem meer mense tot orgaanskenking in, want dit word voorgestel as die standaardkeuse. Konsepte soos die “laaste ervaring”-effek – wat ons hele herinnering oor ’n aangeleentheid beïnvloed – en die krag van herhaling, wat sekere gedrag of idees meer normaal laat voel, word bespreek. Daar is selfs voorbeelde van “placebo”-invloede: soos verkeersligknoppies wat dalk niks doen nie, maar tog die persoon in beheer laat voel en meer geduldig sal laat wag.

Vir ons as gelowiges bring hierdie insigte ’n belangrike geestelike uitdaging: As ons so maklik beïnvloed word deur alledaagse stu-kragte, hoeveel te meer moet ons bedag wees op die Tik-Tok gewildheidsteologie, die algoritme wat skielik ook nou my “navorsing” oor ’n saak staaf?

Die boek se afdelings en temas leen hom daartoe dat dit baie sinvol in gesprek/dissipelskapgroepe of ’n vindingryke preekreeks aangewend kan word. The Housefly Effect herinner ons daaraan dat ware dissipelskap insig verg – om te weet wat ons dryf, en om bewustelik keuses te maak wat in lyn is met God se Woord. Dit help om te besin oor hoe diep ons beïnvloedbaar is – en hoe nodig dit is dat ons, met die hulp van die Gees, meer deurdag moet optree om eg en vry te leef.

Beskikbaar by Exclusive Books.

Ds Waldemar Stumpfe is predikant by die NG Gemeente Biggarsbergvallei op Dundee.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top