Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Wat is die Bybelse argument vir of teen die erkenning van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? André Bartlett se standpunt.

Dinkstof | Verstaan die Ou Testament: Die betekenis van trane in Josef se “rags to riches”-verhaal

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Josef se storie in Egipte is ʼn klassieke verhaal van wat in Engels beskryf kan word as “from rags to riches”. Aan die begin van Genesis 39 is hy ʼn slaaf in Potifar se huis. Twee hoofstukke later is hy die farao se regterhand en het net die farao meer mag in Egipte as Josef. Hoe het dit gebeur? Genesis 39 vertel vir ons aan die begin dat “die Here met Josef was”. Die afwesige God van Genesis 37 is terug in die verhaal in hoofstuk 39, terug met mening! Sias Meyer vertel meer. 

Waar Josef se vaardigheid met drome hom aanvanklik juis in die pekel laat beland het, red dit hom nou uit die tronk, wanneer die skinker Josef tog wel onthou. Die farao aanvaar Josef se interpretasie van sy droom en stel Josef aan om te beplan vir die toekoms van sewe vet jare en veral vir die sewe maer jare. Alles loop mooi, maar dan eendag, daag Josef se broers op. Eish! Wat gaan Josef nou doen? Wat sou ons gedoen het?

LEES OOK: Josef en God se afwesigheid

Josef begin om kat en muis met sy broers te speel. Hoekom? Gaan dit oor wraak? Moontlik, want hy is om verstaanbare redes kwaad vir hulle. Hulle het hom sy vryheid gekos en van sy familie ontneem, veral sy pa en sy volbroer Benjamin. Josef beskuldig sy broers daarvan dat hulle spioene is. Hy weet dit is nie waar nie. Hy weet hulle is net desperaat om kos vir hulle families te besorg, maar hy volhard met sy foltering. Josef huil vir die eerste keer in 42:24 wanneer Ruben verwys na die “misstap teen die kind”, ʼn duidelike verwysing na Josef. Hy huil ʼn tweede keer wanneer Benjamin uiteindelik voor hom staan in 43:30. En dan teiken Josef juis vir Benjamin deur sy eie beker in Benjamin se bagasie te laat plant. Wat voer Josef in die mou?

LEES OOK: Levitikus en die liefde 

Josef huil vir ʼn derde keer wanneer hy uiteindelik in hoofstuk 45 sy identiteit aan sy broers bekend maak. Josef se eerste vraag is of sy pa nog leef. Die broers skrik hulleself boeglam en doodstil. Dit is ook te verstane. In 45:5 begin Josef vir die eerste keer verstaan waarom alles gebeur het (2020-vertaling): “Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van die lewens dat God my voor julle uit gestuur het.”

Dit is asof Josef se pogings tot wraak en gepaardgaande huilery alle onduidelikheid weggewas het en nou verstaan hy hoekom alles juis só moes gebeur het. Sodat God lewens kon red. Dit is waarom God oënskynlik afwesig was aan die begin. Dit is waarom Josef juis op hierdie alleenpad moes loop. Josef se nuutgevonde insig word alles ontketen deur die toespraak van Juda aan die einde van hoofstuk 44, die einste Juda wat Josef laat verkoop het. ʼn Mens wonder wat Juda so verander het.


Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top