Maar verlos ons van die Bose! deur Ernst Conradie
Uitgewer: CLF Uitgewers, 2025
Resensent: Juanita Greyvenstein
Waarvoor bid ons wanneer ons pleit dat God ons verlos van die Bose? Vra ons dalk vir bevryding van misdaad en korrupsie? Vra ons vir hulp om ons eie talente te ontwikkel? Of pleit ons miskien dat die menswaardigheid van alle mense erken sal word? Hierdie vrae ontbloot hoe ons as moderne mense die goeie nuus van ons verlossing verstaan. Wanneer gelowiges eerlik nadink oor hoe hulle redding verstaan, word dit gou duidelik: Ons verlossingswoordeskat het skraal geword.
Prof Ernst Conradie se sorgsame navorsing op die gebied van eko-teologie en ekumeniese denke word wêreldwyd erken. In Verlos ons van die Bose! bied hy ’n noukeurige en toeganklike verkenning van ons verstaan van verlossing, wat spreek tot die uitdagings van ons kontemporêre wêreld.

Conradie neem lesers op ’n reis deur die landskap van verlossing – een wat die werklikheid van boosheid ernstig opneem en terselfdertyd die hoop op nuwe lewe, geregtigheid en vrede beklemtoon. Conradie verhelder vir moderne gelowiges hoe ons verstaan van verlossing gevorm word deur verskillende persepsies van dit waaruit ons verlos word, hoe ons verlos word en waartoe ons verlos word.
Verlos ons van die Bose! bied vir gelowiges ’n woordeskat om verlossing weer eg en relevant te verwoord in ’n wêreld vol lyding en onreg. Dit bring drie sleutelperspektiewe op verlossing saam: bevryding van magte van onreg en vernietiging, versoening van gebroke verhoudings, en sosiale transformasie wat ware gemeenskap bewerkstellig. Hierdie insigte word nie net teoreties aangebied nie – Conradie gebruik bekende en toeganklike metafore, soos die dryfsand waarin mense vasval, die snoeiproses wat nuwe vrug dra en die hoeksteen waarop die huis van God gebou word, om die omvang van verlossing te skets.
Conradie betrek ook ons gereformeerde liedkultuur – die Liedboek en Sionsgesange – om te wys hoe ons tradisie al lank worstel met die betekenis van verlossing. Hy bring hierdie erfenis in gesprek met die dringende vrae van vandag – soos klimaatsverandering en strukturele onreg. Hierdie boek bied nie eenvoudige antwoorde nie, maar is ’n hoopvolle, kritiese stem vir ’n kerk wat vandag wil getuig – nie van goedkoop troos nie, maar van die ware krag van Christus se verlossing.
Verlos ons van die Bose! is ’n pastorale en profetiese uitnodiging aan gemeentes, leraars en gelowiges om weer ernstig te vra: Wat verkondig ons as goeie nuus? Hoe leef ons dit uit? En wie sluit ons in wanneer ons bid: “Verlos óns van die Bose”?
Beskikbaar by CLF.
Ds Juanita Greyvenstein is predikant by die NG Kerk Krugerwildtuin en verskaf pastorale berading aan kinders en volwassenes uit diverse agtergronde.
