Kind deur Graham Allcott
Uitgewer: Bloomsbury Publishing, 2024
Resensent: Anje Zeeman
“Kindness is the quiet power that makes work better.” So bied Graham Allcott in Kind ’n vars perspektief op die rol van vriendelikheid in die werkplek. Deur ’n kombinasie van persoonlike ervarings, navorsing en praktiese riglyne, moedig hy lesers aan om vriendelikheid nie net as ’n morele deug nie, maar as ’n strategiese bate te beskou.

Allcott argumenteer dat vriendelikheid nie net ’n sagte eienskap is nie, maar ’n kragtige instrument wat empatie en vertroue bou, wat uiteindelik lei tot ’n gevoel van veiligheid. Hierdie veiligheid bevorder kreatiwiteit, beter besluitneming, hoër vlakke van lojaliteit en betrokkenheid, en uiteindelik hoër produktiwiteit en winsgewendheid. Met behulp van navorsing uit verskeie velde, toon Allcott hoe vriendelikheid produktiewe en positiewe werkskultuur aanmoedig.
Allcott se eie reis begin met die geboorte van sy seun, Roscoe, wat met ’n unieke kromosomale afwyking gebore is. Deur sy seun se interaksies met ander het Allcott die krag van vriendelikheid in aksie gesien. Roscoe se vermoë om ander te inspireer deur sy teenwoordigheid en die vriendelikheid wat hy ontvang en gee, het Allcott se begrip van vriendelikheid verdiep.
In die boek ontmasker Allcott drie algemene mites oor vriendelikheid: die idee dat slegte mense suksesvol is; die oortuiging dat vriendelike mense maklik gemanipuleer word; die persepsie dat vriendelikheid net vir idealiste is.
Vir die Christelike leser is hierdie boek ’n waardevolle herinnering aan die Bybelse beginsels van liefde en genade. In Matteus 5:9 sê Jesus: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Allcott se benadering bevestig hierdie beginsel deur te wys dat vriendelikheid nie net ’n morele plig is nie, maar ’n manier om die teenwoordigheid van God in ons daaglikse interaksies te weerspieël. Vriendelikheid vorm natuurlik ook deel van die vrug van die Gees, maar hier herinner Allcott ons dat hierdie vrug nie net vir my vriende en familie bedoel is nie, maar ’n daadwerklike verskil in my werksplek kan maak.
In ’n wêreld wat dikwels gekenmerk word deur verdeeldheid en konflik, is Kind ’n uitnodiging om die krag van vriendelikheid te herontdek en toe te pas. Dit herinner ons daaraan dat ons as Christene geroep is om lig en sout in die wêreld te wees, en dat vriendelikheid ’n kragtige manier is om die liefde van Christus te deel.
Allcott se boek is nie net vir besigheidsleiers of professionele persone nie, maar vir almal wat geroepe voel om ’n verskil in hulle leefwêreld te maak. Dit is ’n praktiese gids wat ons help om die beginsels in ons daaglikse lewe te integreer en sodoende ’n positiewe impak op ons omgewing te hê.
Beskikbaar by Wordsworth.
Ds Anje Zeeman is predikant by Parke-gemeente in Kraaifontein.
