Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Johannes Mouton van Table View Gemeente skryf: “Mense weet nie wat om met diversiteit te maak nie!” So sê my vrou toe sy onlangs sommer net bietjie afpak oor hoe frustrerend dit soms is om die godsdienstige en kulturele verskille binne haar werksplek te bestuur. Haar ervaring verwoord ’n groter gesukkel om diversiteit te omarm. Ons sien dit in die wêreldwye opkoms van identiteitspolitiek. Die verdagmakery tussen verskillende rasse en gelowe. Dit speel uit in die stryd vir die behoud van Afrikaans. En ons sien hoe mense na voorstede trek wat meer homogeen is om daarvan te ontsnap.
LEES OOK: Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep
Dit is natuurlik ook nie vreemd in die kerk nie. Dikwels hoor ons: “Hoe is dit moontlik dat die Gees ons so verskillend kan lei? “Hoe kan een gemeente iets sê en ‘n ander gemeente iets anders?” “Hoekom moet ons Engels akkomodeer, daar is genoeg Engelse kerke?” En ek wonder of dit nie ook agter die onlangse stigting van die teologies-kategoriale ring in die Vrystaatse sinode lê nie.
Hoekom wil ons mekaar so graag in die kampe van Afrikaner, Afrikaan, Afrikaanses, Engelse, wit en swart, sogenaamde teologiese liberales en behoudendes injaag? Hoekom wil ons so graag na enklawes en lewensruimtes van eendersheid emigreer? Kortom: Waarom sukkel ons so met diversiteit? Hoekom is ons so bedreig daardeur?
Diversiteit is ’n gawe van God. Dit verrium ons denke en ons menswees. Dit verras ons, daag ons uit, laat ons wegkyk van onsself, breek ons benoude grense af. Ons sien dit in die eerste gemeente in Handelinge. Ons sien dit in die gemeentes wat deur Paulus gestig is en sy briewe aan hulle waarin hy pleit dat hulle bymekaar moet bly ten spyte van die verskille tussen hulle. Ons sien dit in God se skepping.
Daarom, al is dit soms ’n uitdaging, is die besluite van die Algemene Sinode in hierdie verband wel hoopvol. Enersyds bevestig dit die één ding wat ons wel aanmekaar bind, naamlik ons verbondenheid aan en in Christus, en andersyds vier dit ons diversiteit. Eenheid en eensgesindheid dus, nie eendersheid nie. God kan immers nie ingeperk word en in mensgemaakte boksies ingedruk word nie. Of is dit dalk juis waarvoor ons bang is?

By die lees van hierdie brief is, vir my, die opvallendste kennerk daarvan die eensydigheid van die skrywer se benadering. Beweeg na eendersheid is niks anders as ontvlugting van diversiteit is die boodskap wat ek lees. Dit mag wel waar wees, maar is dit werklik die enigste motief. Kan, soos tans in die NG Kerk, die beweeg na “eendersheid” dalk toegeskryf word aan growwe dwaling waarvan baie denkende en behoudende gelowiges duidelik afstand wil neem? Ek vermoed dat laasgenoemde op kerklike terrein eerder die motivering is as “vrees” vir diversiteit. Meeste gelowiges wat probeer wegkom van die inklusiewe benadering van die Algemene Sinode se “ruimhuis” besluite, beweeg weg omdat daardie besluite die waarheid van die Evangelie in baie opsigte subjektief maak en ondergeskik stel aan kultuur. Ons het dus tans in die NG Kerk met die waarheid as ‘n relatiewe werklikheid te doen – tipiese post-modernistiese denke. Dit is waarom ons “migreer” na ruimtes waar die evangelie van Jesus nog as objektiewe waarheid van verlossing en versoening verkondig word.