Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep

In ’n eerste vir die NG Kerk het drie gemeentes die opsie uitgeoefen om ’n liggaam te stig waar lidmate teologies eerder as geografies verenig binne ’n kerkverband wat dié Vrystaatse gemeentes glo te liberaal is.

 

“Die aard en karakter (van die nuwe groepering) is ’n behoudende teologie,” luidens ’n skrywe deur leiers in die betrokke gemeentes. “Dit moet ’n teenvoeter wees vir die liberale verstaan van die Skrif, waar waarheid subjektief verstaan word eerder as objektief.”

Die gemeentes staan bekend as die “Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat”, ’n eerste van sy soort, volgens ds Joe Müller, wat as skriba optree. Ds Ulrich Ohlhoff is die voorsitter. Sewe ander mans was betrokke by die stigting op 13 Junie 2025 by NG Kerk Harrismith, volgens Müller. Die drie gemeentes wat die nuwe ring gevorm het, is NG Harrismith, NG Kroonstad en NG Parys-Suid.

Ohlhoff het per e-pos aan Kerkbode gesê: “Ek dink dit is belangrik om te let dat ons as gemeentes die stigterslede is, maar dat die Vrystaat Sinode die kategoriale ring geskep het … Ons gemeentes het gekies om die opsie uit te oefen en dan die eerste stigters van die ring te word.”

Ds Jan Lubbe, die moderator van die Algemene Sinode het dit by navraag beaam: “Die konstituering van die teologies-kategoriale ring in die NG Kerk Vrystaat, is die uitvloeisel van ’n voorstel van die moderamen aan die buitengewone sinode van die Vrystaat op 3 Oktober 2024. Ons het dit gesien as ’n moontlikheid waarop gemeentes wat dieselfde teologiese oortuiging deel oor byvoorbeeld selfdegeslagverbintenisse, binne ons amptelike kerkordelike bestel, by mekaar ’n tuiste kan vind al deel hulle nie dieselfde geografiese streek nie.”

Die stigterslede van die Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat op 13 Junie 2025 te NG Kerk Harrismith Moedergemeente
Voor van lings na regs: Ds Joe Müller (Skriba), Ds Ulrich Ohlhoff (Voorsitter) en Ds. Fanie le Roux (O/Voorsitter)
Agter van lings na regs: Oudl. Cobus de Jager; Oudl. Danie Minnaar; Oudl. Cobus Kriek;
Oudl. Roelof van Wyk; Oudl. Willem Burger en Diak. Dries Kotzé | Foto: Verskaf

Steeds deel van die NG Kerk

Die buitengewone sinodesitting in die Vrystaat was een van twee sulke sittings wat in dié streek gehou is om kerkskeuring af te weer. Verskille in die NG Kerk spruit veral uit die 2019 en 2023 Algemene Sinode-besluite oor selfdegeslagverbintenisse. By beide geleenthede het afgevaardigdes besluit dat daar ruimte moet wees “vir kerkrade en predikante wat hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig, asook vir hulle wat nie hulle weg daartoe oopsien nie.”

Die ring is steeds deel van die NG Kerk, maar noem ’n uiteenlopende reeks sake waaroor hulle verskil met beide die Vrystaatse en die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Die nuwe ring se leiers nooi ander uit om by hulle aan te sluit. Hulle voeg by: “Omdat die kategoriale ring op teologiese gronde berus, is dit belangrik dat die gemeentes wat so ’n skuif oorweeg op dieselfde bladsy is met die teologiese inhoud van ons gespreksraamwerk. Dit is ’n gespreksdokument en is nog nie afgehandel nie. Bykomende gemeentes sal deel vorm van die inhoud van die dokument.”

LEES OOK: Vrystaat Sinode: Nabetragting van ’n afgevaardigde: ‘Kompromie skep ruimte terwyl ons verder leer,’ sê leraar oor Vrystaat se versoek rondom verbintenisse by afgelope sinodesitting

Dié voorlopige dokument van 14 bladsye gee wel aanduiding oor dié ring se standpunt oor sake soos onder meer selfdegeslagverbintenisse en die duiwel, twee onderwerpe wat die afgelope dekades dikwels as funksie van Skrifgebruik in die NG Kerk debatteer word.

“In soverre as wat daar erkenning gegee wil word vir (selfdegeslagverbintenisse), buite die huwelik om, is dit die ring se beleid dat geen erkentenis, buite die tradisionele huwelik tussen ’n man en ’n vrou, uit die Skrif geregverdig kan word nie. Dus is sulke verbintenisse on-Skriftuurlik en ’n gruwel in God se oë aangesien dit alles vernietig soos God dit geskape het.” Die dokument voeg by oor “Geestelike oorlogvoering”: “Ons glo in die fisiese bestaan van die duiwel en dat sy strategie is om die kerk van Christus te mislei en te vernietig”.

‘Nie noodwendig ideaal of permanent’

Op die vraag hoe lidmate in die breër NG Kerk die presedent wat nou geskep is, moet verstaan, het Lubbe gesê die “vestiging van ’n teologies-kategoriale ring is nie noodwendig die ideaal òf ’n permanente reëling nie; ons het dit in die afgelope maande ook ervaar toe hierdie betrokke gemeentes in gesprekke met hulle vorige ringe en buurgemeentes was en hulle besluit om na só ’n ring te verskuif, moes verduidelik. Daar ís vrae, en daar ís persepsies van mekaar en pyne oor sulke verskuiwings, maar vir nóú is dit nodig dat lidmate die vryheid van hulle gewete en assosiasie met mekaar kan deel en dit in vrede ook aan ander kan gun, binne die NG Kerk Vrystaat. Ons sal dit volgende jaar by ons volgende sinode weer evalueer.”

LEES OOK: Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse

Oor die vraag of hy saam stem met die nuwe ring se verwysing na twee strome binne die NG Kerk, het Lubbe gesê: “Daar is sekerlik ’n sterk groepering van lidmate en leraars in die Vrystaat wat hulleself ‘behoudend’ sal noem, maar of daar ’n noemenswaardige ‘vrydenkende’ of ‘vrysinnige stroom’ in die NG Kerk Vrystaat is, betwyfel ek sterk. Die oorgrote getal gemeentes, leraars en lidmate in die Vrystaat sal hulleself eerder in ’n gematigde middelgrond tuisvind, soos verlede jaar ook in die besluite van die buitengewone sinode duidelik geword het – besluite waarin ons ons uitdruklik verbind het aan die Skrif, as Woord van God; aan ons gereformeerde belydenis oor Christus en sy kerk, en aan ’n bepaalde siening van die huwelik en seksuele etiek. In plaas van om mekaar te bly veroordeel en in allerlei strydpunte te verval, het ons gekies om met wedersydse respek vir mekaar ruimte te bied en ook in die wyse waarop ons ons verskille hanteer, ’n Christelike getuienis te probeer lewer. Ons is regtig nie só ’n groot kerkverband in die Vrystaat (149 gemeentes, 147 leraars, ± 65 000 lidmate) dat ons verdelings wat net nóg seer bring, kan bekostig nie. Ons roeping – ‘om lig in die donkerte te wees; vir God, mekaar en die wêreld’ – verg ’n sterker eenheid en elke gemeente met húlle bediening in húlle konteks, is daarin van belang. Laat ons mekaar daarin ondersteun,” het Lubbe gesê.

Lees ’n dokument verskaf deur die skriba van die Teologies-Kategoriale Ring van die Vrystaat hieronder. – Red.


Ring stigting artikel

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

8 thoughts on “Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep”

  1. Die besluit van die buitengewone sinode was dat daarmee ruimte gelaat word dat gemeentes wat verskil van die sinode se besluit saam kan groepeer. Die idee was dat hulle op hierdie manier saam kan praat oor dit wat hulle glo. Ek dink die siening van ‘n teenvoeter in die kerk is strydig met die besluit. Dit het eerder daaroor gegaan om elkeen te gun om sy eie standpunt te handhaaf sonder om die een wat van jou verskil te veroordeel of te probeer aanval. Die idee is dat ons mekaar se standpunte respekteer en leefruimte gun vir mekaar.

  2. Johan Raubenheimer

    Hartseer. Tragies. Tyd sal wys dat sulke besluite later inplof op jouself. Tyd is die beste leermeester in die geval.

  3. Albin Bowler

    Vreemd dat slegs mans deel vorm van die stigtingsvergadering (bestuur?). Gehoop om dames te sien en hul opinies ook te hoor.

  4. Jean Oosthuizen

    Sogenaamde eenheid in die NG Kerk is besig om ‘n al hoe groter klug te word. Mens kan slegs bymekaar hou wat bymekaar hoort. Die verskillende teologiese strome in die NG Kerk is lankal so groot dat dit geensins meer saam in een kerk hoort nie. Die kerk probeer om alles vir almal te wees en in die proses het die kerk geen eie identitteit meer oor nie behalwe dat hulle soos kat en hond onder mekaar veg.

  5. Danie Kruger

    Miskien moetons versigtig omgaan in ons uitinge teenoor mekaar. ‘Teenvoeter’ dui op interne stryd, nie verdraagsaamheid nie.

  6. Hennie Blomerus

    Hierdie drie Gemeentes het die regte Kerklike roete gevolg met die stigting van hierdie ring. Voeg bymekaar wat bymekaar hoort, nerens in die Bybel word selfdegeslag verbindinge goedgekeur nie, die Bybel is baie duidelik hieroor, die huwelik is tussen ‘n man en ‘n vrou, klaar, niks anders nie. Dit word duidelik in die Ou Testament en Nuwe Testament gestel. Die probleem in die NG Kerk het begin met die “Ruim Huis” metafoor waar almal en alles gehuisves word, ter wille van. Dit kan nie ontken word nie dat daar vandag in die NG Kerk twee duidelike teologiese strome is nie. Mag die Kerk weer terugkeer na die waarheid van die Bybel en na GOD Drieenig.

  7. Fanie le Roux

    OPENINGSBOODSKAP TEOLOGIES- KATEGORIALE RING

    My openingsboodskap as oudste leraar op die Ringsitting van die eerste sitting van die Vrystaat Teologies-Kategoriale Ring in sitting te Harrismith op 13 Junie 2025 :

    SKRIFLESING: Spreuke 17:14

    SPREUKE 17:14 AFR83
    Om rusie te begin, is om ‘n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.

    Die Boodskap vertaal dit so:

    Spreuke 17:14 DB
    ’n Rusie begin altyd klein en word dan erger en erger. Dit is soos ’n damwal. Eers is die lek klein, en dan breek die wal. Keer die rusie voordat dit te ver gaan…

    Hierdie vers laat my dink aan TV programme van rampe waar damwalle breek. Eers begin die breuk klein en dan word dit geleidelik en later eksponensieel groter totdat die wal skielik heeltemaal meegee.
    En dan gaan alles verlore.
    Groot verwoesting volg.

    Is hierdie vers ‘n waarskuwing?

    Ja, vir seker. ‘n Getwis eskaleer gewoonlik. Dit word ‘n afwaartse spiraal wat skielik kan vererger. Net soos ‘n damwal wat breek.

    Jesus sê ons moet ons vyand liefhê en vergewe want die wraak kom Hom toe. Wraak roep weerwraak op wat gou kan vererger. Net soos ‘n damwal wat breek.

    En hoe stop jy dit? Dis bykans onmoontlik.

    Wat van die skade wat aangerig word?

    Ons bevind ons vandag in ‘n unieke situasie. Eintlik maak ons geskiedenis. Dis die eerste ring in die NG kerk se meer as 350 jaar se geskiedenis, wat as Teologies-kategoriale Ring op teolgiese gronde saamgestel word en nie geografies nie.

    Ons drie gemeentes het dit so versoek en die versoek is deur die Vrystaat Sinide toegestaan. Vandag is ‘n spesiale geleentheid want ons konstitueer as ‘n nuwe Ring van die Sinode van die Vrystaat.

    Dit het gebeur omdat daar sterk verskille van mening in ons kerk ontstaan het vanweë besluite veral rondom selfdegeslag verhoudings en ook ander omstrede sake.

    Ons besef vanmôre die groot verantwoordelikheid wat op ons rus. Hierdie vers is uiters aktueel vir die pad wat hierdie Ring vorentoe sal.moet loop. Vir ons is hierdie woorde soos ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig op ons pad.

    “Moenie rusie maak nie” sê die Bybel vir ons vanmôre: dit kan skade maak. Rusie het die potentsiaal om te eskaleer en mense net verder uitmekaar te dryf met onberekenbare skade aan verhoudings, gemeentes en die Koninkryk.

    Hier aan die begin op ons nuwe pad neem ons hierdie waarskuwing ter harte en onderwerp ons ons aan die wysheid daarvan.

    Maar ons wil nie net voorkom dat die damwal breek nie, ons wil ook verhoed dat, waar daar reeds breuke voorkom dit verder sal wegkalwe . Ons wil heelmaak en regmaak. Ons wil gate wat ontstaan het of mag ontstaan herstel. Ons wil dus keerwalle bou. Ons wil nie rusie maak of moeilikheid maak nie; ons wil voorkomend en herstellend optree.

    Damwalle wat wil breek dreig dat kosbare inhoud verlore kan gaan. Ons wil verhoed dat die kosbare inhoud van die dam, die lewendgewende water, tot niet kan gaan. Die kosbare inhoud wat verlore kan gaan is die heilige en onfeilbare Woord van God wat die grondslag van alle bestaan is. Hierdie Woord wat in sy totaliteit van God afkomstig is en daarom as ten volle gesagvol eerbiedig en aanvaar moet word, dit beteken dat die Bybel foutloos en waar en dus ook genoegsaam is. Voeg daarby die Belydenisskrifte wat van die Bybel afgelei is en wat die suiwer leer van die Skrif weergee; wat ons nie alleen help om koers te hou nie maar ook om dwaling te onderskei en te beveg. Ons beskou dus Artikel 1 van die Kerkorde asook die drie formuliere van Eenheid asook die lidmaat- en ampsbeloftes wat ons plegtig afgelê het, as binded vir ons gewete. Verder het ons ons daaraan verbind om enige leer wat hiervan afwyk te af te wys, te weerstaan en te beveg.
    So erken ons dan byvoorbeeld die Bybelse Ortodokse Christelike Tradisie van die afgelope meer as 2000 jaar wat bepaal dat ‘n huweik slegs uit een man en een vrou in ‘n permanente verbintenis toelaatbaar is. Ons is beslis nie fundamentaliste of Biblisiste nie, maar ons onderskryf van harte Artikel 1 van ons kerkorde en daarmee saam dan ook die ryk erfenis van die Gereformeerde leer.

    Rusie wil ons nie maak nie. Ons wil hierdie waarskuwing van Spreuke 17:14 ernstig opneem. Ons doel is slegs maar om die wil van God te soek en Hom te verheerlik.

    Tot die taak van die Ring behoort die toesien dat die lidmate en gemeentes na behore deur die Woord bedien word en dat na hulle geestelik omgesien moet word. Dit wil ons as Ring dan ook graag doen.

    Ons wil rusiemaak ten alle koste vermy – dit bring skade en verlies mee. Ons wil eerder keerwalle bou en damwalle behou. Ons wil wat kosbaar is, bewaar.

    Die Boodskap vertaal dit so:

    ” ’n Rusie begin altyd klein en word dan erger en erger. Dit is soos ’n damwal. Eers is die lek klein, en dan breek die wal. Keer die rusie voordat dit te ver gaan”

    Fanie le Roux

Comments are closed.

Scroll to Top