Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Deernisvolle medelye kan ’n mens help om ‘n meer genuanseerde begrip van Bybelse leringe te verkry, skryf Kruger du Preez
Die debat oor die Israel-Palestynse oorlog kan maklik verval in ’n historiese debat oor die reg van Israel om steeds die Palestyne te bombardeer en te verhonger of nie. Dikwels loop die debat homself te pletter oor die vraag: Is Israel steeds die uitverkore volk van God of nie? ’n Mens kan dit vermy deur deernis en medelye as hermeneutiese uitgangspunt te neem. Hieroor stem alle welmenende Christene en teoloë tog saam. Vergun my dus asseblief om kortliks iets meer te sê oor hierdie invalshoek of bril waarmee ons enige konflik moet benader.
LEES OOK | Algemene Sinode-besluit 2023: Palestina en Israel
Die hermeneutiese benadering van deernisvolle medelye, beklemtoon die verstaan en toepassing van die Skrif deur die lens van deernis, medelye, empatie en konkrete sorg vir ander.
Hierdie perspektief prioritiseer kwesbaarheid: Dit gee die nodige aandag aan die kwesbares en gemarginaliseerdes in Bybelse narratiewe en pas hierdie bewustheid toe op kontemporêre kontekste. In ons geval dan die Israel-Palestynse oorlog veral in die Gasastrook.
- Hierdie invalshoek beklemtoon empatie: Dit moedig lesers aan om met empatie met veral gemarganaliseerde en verontregte Bybelse karakters om te gaan. Dit moedig mense aan om hulleself empaties in te leef in die Bybelse narratiewe – die ervarings en emosies van Bybelfigure. Vanuit hierdie deernisvolle, empatiese interpretasie van die Skrif spoel dit natuurlik spontaan oor na empatie met die lydende mense, en dan in ons geval – veral die vrouens en kinders in Palestina maar natuurlik ook in Israel.
- Die situasie word gesien deur die bril van geregtigheid: Die hermeneutiese sleutel van deernisvolle medelye staan nie teenoor reg en geregtigheid nie. Tewens, die Skrif word veral geïnterpreteer deur die lens van reg en geregtigheid – dit pleit juis vir die regte en waardigheid van alle individue, veral die onderdruktes, ontworteldes, beseerdes, verhongerdes en gemarginaliseerdes.
- Dit lei tot die kweek van medelydende aksie: Dit inspireer lesers om Bybelse leringe in medelydende aksies te vertaal, ander aktief te dien en geregtigheid heel konkreet te bevorder. Dink hier aan die verhaal van die vermeerdering van die brode. Daar staan dat Jesus die mense “innig jammer” gekry het. Daarna gaan Hy oor tot aksie en voed die skare. Dit is dan juis die kritiek op die NG Kerk dat daar min deernisvolle, medelydende aksie is teenoor veral die Palestyne – selfs nie duidelike openbare standpuntinname nie.
Deur ’n hermeneutiese benadering van deernisvolle medelye aan te neem, kan lesers:
- ’n Meer genuanseerde begrip van Bybelse leringe verkry.
- Meer empatie ontwikkel vir alle mense van alles gelowe – Jode en Moslems.
- Waardigheid en geregtigheid vir almal bevorder – Israel en Palestina.
Hierdie hermeneutiese perspektief moedig mense aan om met die Skrif om te gaan op ’n manier wat beide intellektueel maar ook medelydend gedrewe is. Ons medelye gaan dan na die staat Israel se gyselaars en die oorblewendes van die gruwelike inval op 7 Oktober. Maar ons medelye gaan ook na die Palestynse gevangenes, die land en infrastruktuur wat in puin lê, die duisende weduwees en wese wat treur, wat ontwortel is, wat verhonger word …
Ek herhaal: Die vraag is nie soseer nou wie is reg en wie is verkeerd nie maar wie het ons deernis en medelye nodig? Bloot op grond van die oorweldigende statistieke en gruwelbeelde op TV, moet ons medelye meer by die Palestyne lê – nie by Hamas nie – maar by die Palestynse weduwees en wese. Kom ons sê dit openlik – dit is wat van ons as Protestante verwag word en dit is wat onse Here ook van die NG Kerk verwag …
Ek sluit met Psalm 72:13-14 uit Die Boodskap waar daar veelseggend staan:
Die Here sal die mense help wat swaarkry en deur ander sleg behandel word. Hy sal arm mense beskerm. Hy sal hulle beskerm van mense wat hulle onderdruk en sleg behandel, want almal is vir Hom baie kosbaar en belangrik.
VRAAG: Waar lê die meeste van God se deernis en medelye in hierdie onverkwiklike oorlog wat deur selfs Israeli’s deesdae beskryf word as ’n “nie meer regverdige” oorlog aan die kant van Israel nie?

Die vraag is of medelye genoeg is? Geregtigheid en waarheid lê tog in dieselfde betekenisveld. Ons skuld dit aan ons lidmate om ń meer genuanseerde Teologiese begronding veral met betrekking tot sake soos uitverkore volk, vrede van Jerusalem, interpretasie van veral ou Testamentiese verwysings ens. te verduidelik. Ons skuld dit ook om ons eie apartheidsverlede te verdiskonteer en nie ń tweede keer stil te wees nie. Ons skuld die wêreld ń duidelike profetiese getuienis in die verband.
Nee, ek skuld niemand niks nie. Hoeveel skuld gaan ons aanhou dra? Ek vra weereens: hoe lank gaan die NG Kerk nog moet jammer wees? Moet ons kinders ook jammer sê? En hulle kinders? – niemand kon nog hierdie vraag antwoord nie, almal is tog net te bly om ons te laat skuldig voel oor dinge waaraan ons geen aandeel gehad het nie.
Die vraag is of medelye genoeg is?
Ek kies geen kant nie. Sien ook nie moderne Israel as die uitverkore volk nie. Ek is gekant teen alle geweld. Ek wil hê die oorlog moet stop. Soos ek dit verstaan sal die oorlog stop die oomblik as Hamas die gyselaars teruggee. Lees ek dit mis? Vra die skrywer en verdedigers van die Palestyne nie dat Hamas alle onskuldige gyselaars moet vrylaat nie?