Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ouerskap is ’n aanpasbare, deernisvolle en kreatiewe proses

Parenting different deur Sarah Hayden

Uitgewer: GP Putnam’s Sons, 2025

Resensent: Irma Nel

In ’n wêreld waar ouerskapboeke soos vervelige herhalings van dieselfde ou resep voel, bied Parenting different deur Sarah Hayden ’n welkome nuwe benadering. Dit is ’n boek wat jou laat dink, glimlag en soms selfs sug van verligting. Met ’n kombinasie van persoonlike verhale, navorsingsgebaseerde insigte en praktiese wenke, neem Hayden haar lesers op ’n reis wat nie net oor kinders gaan nie, maar oor gesinne wat floreer te midde van verskille.

As ouer van ’n seun wat op die spektrum is, het ek dit waardevol gevind. Hayden, wat soos baie van ons nie ’n standaardouer is nie, verwys na haar eie, haar kinders en haar kliënte se ontdekking van hulle uniekheid en bydraes tot ons samelewing. As ’n maatskaplike werker en perdeterapeut, fokus sy veral op ouers wat kinders met unieke behoeftes grootmaak. Dit sluit “neuro-sparky” (haar nuutskepping vir neurodiverse) kinders, kinders met chroniese siektes en gesinne met ’n onkonvensionele gesinsdinamika in. Sy beweeg weg van die idee dat suksesvolle ouerskap beteken om aan sosiale verwagtinge te voldoen (dankie tog!). Sy beklemtoon eerder dat ouerskap ’n aanpasbare, deernisvolle en kreatiewe proses is.

Alexander den Heijer se aanhaling: “When a flower doesn’t bloom, you fix the environment in which it grows, not the flower,” beeld pragtig haar uitgangspunt uit: Kinders se unieke samestelling moet heeltyd in gedagte gehou word, sodat hulle kan blom, eintlik meer floréér in die lewe.

Een van die boek se grootste sterkpunte is die eerlike en toeganklike skryfstyl. Dit voel soos ’n gesprek met ’n vriendin wat jou regtig verstaan. Die praktiese wenke word aangebied sonder ’n prekerige toonaard. Die wyse waarop sy kulturele verskille en gesinsdiversiteit in ag neem, maak die boek ook relevant vir ’n wye ‘spektrum’ lesers.

Daar is tog dele waar die benadering te idealisties voel. Haar pleidooi na ouerlike geduld en selfregulering is inspirerend, maar vir ouers in krisisomstandighede kan dit uitdagend wees. Daar is ook baie min aandag gegee aan finansiële of strukturele uitdagings wat gesinne in minderbevoorregte posisies in die gesig staar.

Ten spyte hiervan is Parenting different ’n waardevolle toevoeging tot ’n wêreld waar alle kinders nie in die boksies pas nie. Dit herinner ons daaraan dat die doel nie is om kinders in ’n vorm te dwing nie, maar om ruimte te skep vir wie hulle werklik is. Díe boodskap is een van hoop, buigsaamheid en onvoorwaardelike liefde. Dit help nie net kinders groei nie, maar ouers moet ook.

Beskikbaar by Takealot.

Ds Irma Nel is predikant by Nuutbegin NG Kerk in Randfontein.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top