Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Rudi Swanepoel kyk terug op sy ervaring as een van vier Suid-Afrikaners wat ’n onlangse beraad by die Carter-sentrum in Atlanta bygewoon het in ’n soeke na vrede in die Midde-Ooste.
Dis einde Julie 2025.
Dit voel of die wêreld maller as ooit is.
Ek is in Amerika, die land wat ek aan die een kant bewonder vir baie dinge en aan die ander ietwat minder van hou as bv. voorheen. Die redes vir beide is kompleks.

Dis weens ’n besoek in 2006 dat ek weer hier is. Destyds was dit ’n teologie-konferensie in New Haven waar o.a. Miroslav Volf gepraat het. Dis daar waar ek mede-teoloë ontmoet het waarvan een later ’n vredes-aktivis sou word.
Hierdie keer is dit ’n vredesberaad in Atlanta, gereël deur Churches for Middle East Peace.
Ek arriveer ’n paar dae voor die amptelike verrigtinge begin in Washington DC en is lekker spiteful: ek neem ’n foto voor die Capitol en plaas dit op Facebook met die byskrif: ‘Nog ’n (soort van) Afrikaner besoek Washington.’ Ek vermoed dit laat hier en daar iemand glimlag en laat nog ’n paar frons van verontwaardiging of iets anders.
Washington DC is ’n fassinerende plek. Wat mens sien, beïndruk jou. Omdat dit hoogsomer is, is dit lowerryk en groen en mooi. Waar ek bly en beweeg (’n klipgooi van Capitol Hill af) voel dit silwerskoon en super veilig. Jy weet net jy is in die hartjie van ’n gewigtige plek; jy voel dit in jou diepste derms.
My gasvrou en -heer is lief en gul. Ek kom en gaan soos ek wil en draf die een oomblik Withuis toe en die volgende verby die Lincoln Memorial. Dit is drukkend warm en byna alles voel geheel en al onwerklik.

’n Paar dae later vertrek ons Atlanta toe vir die konferensie. Dit word by die Carter-sentrum gehou – ’n plek van groot betekenis vir baie mense. Dis ’n paar dinge: deels bewaarplek (Jimmy Carter se derduisende boeke is daar), deels museum (jy loop verby beelde en geskenke en foto’s wat jou asem wegslaan) en deels vergaderplek. Allerlei name was al hier byeen om te besin oor hoe om die wêreld ’n bietjie meer leefbaar en draaglik te maak – vir almal.
Die beraad strek oor twee volle dae. Ons is ongeveer 120 mense: die grootste gros van die VSA, ’n kleiner groep van die Midde-Ooste en vier Suid-Afrikaners. Omdat ek neig om stadig van begrip te wees, neem dit my ’n rukkie om te begin uitpluis hoekom daar Suid-Afrikaners (ook) is.
Dit word duidelik: hulle kyk na ons. Hulle kyk op na ons. Hulle soek hoop dat vrede moontlik is, dat twee (of meer) uiteenlopende groepe wat lank in stryd met mekaar geleef het, dieselfde land kan deel en in betreklike vrede kan saamleef.
Die tweede oggend besef ek: hulle kyk REGTIG op na ons.
Die ander ding wat my ’n rukkie vat, is om die ooreenkomste en verskille tussen die RSA en Palestina / Israel te begin bedink. Een van die groot verskille wat my mettertyd tref is dit: die proporsionele persentasie Christene in Suid-Afrika (voor, tydens en na apartheid) was dramaties groter as in Palestina/Israel.
Jesus het ’n verskil gemaak.
Die ooreenkomste is relatief duidelik, maar tog eiesoortig in die huidige krisis. Grond word geleidelik geneem/beset. Mense word gedwing om te verhuis. Hulle middele word ontneem of weerhou, hulle menswaardigheid vertrap.
Maar nou word hulle met stelselmatige akkuraatheid gedood, konsensus word bereik dat dit ’n volskaalse volksmoord is soos wat tot heden dagens toe nog nie in Suid-Afrika gebeur het nie.
Vergelykbaar, in sommige opsigte. Onuithoudbaar erger in baie ander.
Die besprekings is lewendig en dringend. Hoeveel kinders gaan dood van honger in ons etenstyd?
Planne word gemaak, besluite geneem, taakgroepe gevorm.
Tussendeur is daar die menslike kontak, die koffiegesprekke, die stories.
En dan, die gebede.
Hier bid ’n Palestynse (Christen) omie. Hy klink soos iemand se oupa, want hy ís iemand se oupa. Hy is snaaks en slim en lief. Hy is ook ernstig dat die stroping en moord en oorlog moet einde kry.
Hy maak my hart warm.
Ek is die enigste wit Suid-Afrikaner daar. My drie swart sibbe is vriendelik verby met my. In ’n private gesprek met Thabo Makgoba (aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk in SA) verseker hy my dat ons kan en moet saamwerk, dat hy wil hande vat, saam wil bou aan ’n beter Suid-Afrika vir almal.
Ek verdien nie sy gulhartigheid en genade nie. Toe hy wegstap, is my hart weer warm.
Ek wonder hoeveel van my kerk se mense in sy oop arms sal inloop.
Die beraad eindig.
Die afgetrede kapelaan van Emory Universiteit neem my op ’n kort toer van Atlanta. Ons besoek die Martin Luther King Memorial. My hart word warm toe ek die inskripsie op Coretta Scott King se graf lees.

Dit is 1 Kor. 13:13: ‘En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde.’ Ek weet dat ek hieroor moet preek as ek teruggaan Suid-Afrika toe.
My tyd in die VSA staan einde se kant toe met nog ’n draai in Washington DC. Nog stap, kyk, draf en museums.
Ek besoek o.a. die Air and Space Museum (een van die 19 Smithsonian Museums) en ’n foto tref my. Dis een van die (swart vroulike) wiskundiges wat die uiters komplekse berekeninge gedoen het wat ruimtereise moontlik gemaak het. (Die fliek ‘Hidden Figures’ het ook oor hulle gegaan.)
By die huis gekom, vra ek my gasheer hoe lank voor hulle huidige president daardie geskiedenis gaan herskryf.
Dit sal NOOIT gebeur nie, verseker hy my. (Dit begin toe wel gebeur, ’n skamele drie weke later.)
My gedagtes maal soos etiketlose kledingstukke in ’n werkende wasmasjien.
Nou en dan kan ek een ding van iets anders onderskei en begin ek my gedagtes platstryk en opvou.
- As volgelinge van Jesus hulle nie gaan beywer vir menseregte en vrede nie, wie gaan?
- Op watter punt kan mens nie langer stilbly nie?
- Het ek al enige opofferings gemaak om my vir ’n meer regverdige wêreld te beywer?
- Wat van die voortgaande onregte in my eie land en die res van die wêreld? Bly ek daaroor stil?
- Ek besef dat ons elkeen IETS moet doen: tasbaar help, praat waar ons kan, luister wanneer ons moet. Bid. Onbetrokkenheid is nie ’n opsie nie.
- Ek is van voor af trots (met al die bagasie en drama) om ’n Suid-Afrikaner te wees.
En ek is van voor af lief vir Jesus. Hy is die wêreld se enigste hoop.
Ds Rudi Swanepoel is leraar by Aan-die-Berg gemeente.
