Hierdie is ‘n uittreksel uit Wag-’n-bietjie, ‘n nuwe boek deur Hennie van Deventer. Die boek, uitgegee deur Naledi, kan bestel word by naledi.co.za. Die prys is R275.
Tydens die eerste 17 jaar in ons bosplek, Sabiepark, was ons naaste bure Van Heerdenmense, oorspronklik van Klerksdorp. Hul huis se naambord het in ’n stadium ongetwyfeld iewers op ’n straathoek gepryk: Van Heerdenstraat. Tipies soos straatname in ’n stadium geskryf is.
Een herinnering aan daardie tyd is ’n verwoestende aanslag van ’n trop opgewerkte bobbejane op hul huis seker so 20 jaar gelede.
Ek het op my stoep sit en koerant lees toe ’n oorverdowende kabaal langsaan losbars. Bobbejane, het ek dadelik besef. Dit was toe ook so. Die huis het sleg deurgeloop. Letterlik al die glasware is verwoes, meubels is gebreek (onder meer ’n soliede tafel) en mure is liederlik besmeer. Ek sou wou gaan probeer red, maar man-alleen was ek magteloos.
Die hele storie het ek later by die parkhoof, Gerrie van Niekerk, gehoor. Een van die Van Heerden-kinders was ’n leraar op Stilfontein. Ander Stilfonteiners het in hul dominee se huis kom vakansie hou. Op die laaste middag ry hulle vir oulaas deur die Krugerhek wildtuin toe. Ongelukkig laat hulle na om seker te maak dat elke venster dig gegrendel is. Ene bly op ’n skrefie oop.
Toe die twee laatmiddag by die huis kom, tref hulle die huis in volslae chaos aan. Soos net ’n trop bobbejane ’n plek kan verwoes en deurtrek met ’n stank wat jou laat terugdeins. Hulle het soos ontredderde kinders op Gerrie se skouer gehuil.
Van ’n laaste vleisie op die kole was daardie aand natuurlik nie sprake nie. Ook nie van huis toe gaan die volgende dag nie. Trouens, die bobbejane het hul “vakansie” met dae verleng. Maar toe was dit geen luilekker vakansie meer nie, wel klipharde werk om die dominee se huis skoon te kry en stukkende inhoud so ver moontlik te vervang. Van die goed moes hulle uit Nelspruit laat aanry, 100 kilometer weg.
’n Tweede herinnering is van ’n seun wat kort nadat ons ingetrek het, in die sop was oor ’n waaghalsige avontuurtjie in die Sabierivier. Hy het op die rotse gaan rondklouter tussen seekoeie en krokodille. Een van die oewereienaars, Hans Wilereker, het hom voorgekeer, sy naam uit hom gepers en sy ouers by die algemene jaarvergadering ingelig. Hulle was nie geamuseer nie.
Daardie dominee wie se huis dit was, was ds. Francois van Heerden (64) van Stilfontein en die klein kwaaddoener, sy seun, Rupert (31), wat in 2018 in geheimsinnige omstandighede in die pastorie se studeerkamer in ’n gesinstreurspel doodgeskiet is.
Die oggend het ds. Van Heerden nog gewoon nagmaal aan sy gemeente bedien, die middag het ’n pa-seun-gesprek agter geslote deur raaiselagtig albei se lewe gekos. Die gemeente was verslae. Hy was dekades lank hul leraar.
Vreemd genoeg het ons en die Van Heerdens se vakansies in Sabiepark nooit juis oorvleuel nie. Uit daardie vlugtige ontmoeting was my indruk egter dat hy ’n besadigde, eerbiedwaardige en wellewende mens was. Maar slegte dinge kom ook goeie mense oor. Dit weet ons mos.
Die eerste en enigste pa-seun-drama in ’n pastorie was die Stilfontein-treurspel nie. Ses jaar tevore, in November 2012, is ook die historiese gemeente Kerkenberg op Harrismith in die Oos-Vrystaat deur ’n moord in die pastorie tot in sy fondamente geskud.
ln ’n blindelingse aanval is die leraar, ds. Willem Brits (60) en sy aanstaande skoonseun, Gerhard Vermeulen (25) met ’n byl doodgekap en die pastoriemoeder, mev. Dorothea Brits (59), ernstig verwond. Die gemeente het nog verdwaas gesteier oor die nuus, toe kom die volgende skok: die Britse se seun is in hegtenis geneem.
Martin Brits (28), ’n aanneemseun, en Elliot Mhlambi (41), sy handlanger, het skuld beken. Albei is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis weens die moorde en nog ’n klomp tronkstraf vir die aanranding en verwante misdade. Martin was net ses weke oud toe hy in sy nuwe ouers se lewe gekom het en is as eie kind grootgemaak.
Wat kon die motief vir die sinnelose daad gewees het? Daaroor hoef nie bespiegel te word nie. Martin Brits was agter sy erfporsie, ’n plaas, aan en Elliot Mhlambi is belowe dat hy sy hap sou kry. Martin het blykbaar snuf in die neus gekry dat die plaas na ’n ander seun sou gaan as hy nie vinnig ingryp nie.
In die tronk het Martin tot inkeer gekom en by sy ma en by sy broers en susters om vergiffenis gepleit. Mev. Brits se antwoord was dat sy hom vergewe, maar dat hy die gevolge van sy daad moes dra.
Hoekom die arme Vermeulen ook met sy lewe moes boet, was onverklaarbaar. Hy was bloot op die verkeerde plek op die verkeerde tyd, het dit geblyk. Gierigheid was duidelik ook die motief vir seker Suid-Afrika se bekendste pastoriemoord: dié op die sprankelende ds. Liezel de Jager (38) van die NG gemeente Suidkus op Amanzimtoti aan die KwaZulu-Natalse Suidkus. Die jong ma van twee kinders is op 13 Oktober 2021 ná ’n drafsessie met ’n speelgoedgrafie in die oprit van die pastorie verwurg en daarna keel-af gesny. Lomp pogings is aangewend om dit soos ’n seksmisdaad te laat lyk.
Haar warkop-man, Werner (43), met ’n lang geskiedenis van uiters vreemde optredes, onstabiele gedrag en verkondiging van leuens, is deur almal verdink, maar is twee jaar ná haar dood eers deur die trae polisie vasgetrek. In hierdie verspilde tyd was Werner weens sy onverskilligheid verantwoordelik vir nog twee mense se dood in ’n motorongeluk.
Lewenspolisse van miljoene rande sou Werner by ds. Liezel se dood toeval. Volledige besonderhede is in die hof geopenbaar. Hy het gebieg dat hy net agt maande voor haar dood nog R3,29 miljoen tot die begeerlike neseier toegevoeg het met ’n ekstra polis op haar naam. Hy sou die enigste begunstigde wees. Min twyfel het bestaan wat sy dryfveer was om van sy vrou ontslae te raak.
Sommer vroeg in die verhoor het Werner in aanhouding sy eie lewe geneem. Dit het ds. Liezel se ouers en ander naastes, ook haar gemeente, van ‘n klomp antwoorde ontneem. Dit het hulle egter die trauma van ‘n uitgerekte verhoor gespaar waarin elke nare aspek van die treurspel in die pastorie op Amanzimtoti van nuuts af van voor tot agter oopgevlek sou word.
‘n Mens wil amper half verlig wees oor die einde van die tragiese sage.

