Encore deur Johan Pienaar
Uitgewer: Swart Swaan Uitgewers, 2025
Resensent: Clifford Heys
Nota van die redaksie: Hierdie resensie is op 2 April gereël, met Clifford Heys wat “Encore” resenseer, terwyl Johan Pienaar “Ars Moriendi” sou resenseer. Dr Pienaar se “groot oorstap” het egter onverwags op 20 Mei gekom, toe hy skielik oorlede is. Hierdie resensie dien derhalwe nie net as ’n resensie nie, maar ook as ’n huldeblyk vir ’n vrugbare lewe.
As ek slegs een enkele sinnetjie toegelaat word vir ’n resensie, sou dit wees: “Johan Pienaar se ENCORE is ’n ‘ja’ en ’n ‘móét’ vir enige kleingroep binne en buite ’n aftree-oord”.
Ek kan nie dink aan ’n beter teenmiddel vir daardie swart hond wat jou snags uit jou slaap kom hou nie.
My motivering: Eerstens, die buiteblad vang jou oog. Jy kan hierdie boek op die rak nié miskyk nie. Die naam Johan Pienaar sal maak dat jy die boek optel. Die vrolike kleurfoto’s en gepaste aanhalings aan die begin van elke hoofstuk sal maak dat jy die boek nie weer kan neersit nie. Die inhoudsopgawe sal maak dat jy die boek koop. Die boek sal maak dat jy dit aan jou Bybelstudie/kleingroep gaan bekendstel. Jou entoesiasme sal maak dat die groep sal inkoop. Die Nadinktyd aan die einde van elke hoofstuk sal maak dat julle nóú voluit sal leef!
Die skrywer neem jou op ’n sabbatsreis. Sy geesdrif, humor en kwinkslae sal maak dat jy wil saamstap.
Soms laat hy jou voor die spieël staan om te vra: “Wat maak jou so uniek?”
En as jy nog swaar dra aan ’n sak skuldgevoelens, sal jy gou gewys word hoe om dit aan die voet van die kruis neer te lê en ligvoets voort te stap.
Pienaar is ook baie realisties. Hy weet ons grootmense kan ook bang word – soos vir misdaad, siekte, dimensie, kanker, Parkinson en die dood. Hy het raad uit die Skrif.
Hy help jou ook om die dood – sonder vrees én goed voorbereid – in die oë te kyk. Dit is die dag “wanneer die groot oorstap kom”. En wat word van dié wat agterbly?
Ten slotte: Ek móét Swart Swaan Uitgewers gelukwens én bedank!
Beskikbaar teen R160 by Rita Pienaar: pienaar1411@gmail.com of 072 259 6237.
Dr Clifford Heys is ’n emeritusleraar van die NG Kerk.
