‘n Belangrike tema vir die kerk is “generasionele trauma”, die gevolge en die genesing daarvan, volgens ds Danie Mouton.
“Die rede hoekom dit belangrik is om steeds oor die geskiedenis te praat, is omdat die sosiale dinamika van die 19de eeu nog springlewendig is,” het Mouton by die vergadering van die Sinode van Oos-Kaapland in ’n voorlegging verduidelik. Mouton se pleidooi vir deeglike bewustheid van die invloed wat die geskiedenis op die hede het, is goed aangevul deur die praktiese teoloog prof Yolanda Dreyer se bydrae oor die reuse-invloed wat kinderjare (die “family of origin”) en “sosiale diskoers” (die patriarge en matriarge se aanmatigings) het op dominees se geestelike welstand. In die gees van dié dieper kyk na dié twee goed – die persoonlike geskiedenis en die landsgeskiedenis – het Kerkbode ouderling Koos Scheepers (76) ’n bietjie oor sy lewe uitgevra. Scheepers, van NG Kerk Kareedouw, is een van 180 afgevaardigdes by NG Kerk in OosKaapland se sinodesitting hierdie week in Gqeberha.
Die sinode bestaan uit 12 ringe en 101 gemeentes. Hierdie streek verteenwoordig meer as 40 000 belydende en 8 000 dooplidmate van die NG Kerk.
