Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Een van die laaste tafelgesprekke op die eerste dag van die sinodevergadering het gehandel oor ’n skrywe deur prof Piet Naudé, wat op vooraf-versoek deur gemeenteleiers ’n brief geskryf het “asof uit die eerste eeu”. Lees die brief hieronder.

Sinodesitting in Oos-Kaapland (Dag 1) Só wil sinodegangers ‘probleemstories’ aanvul in soeke na bruikbare toekomsvisie + Piet Naudé pen ’n ‘Pauliniese’ brief

In Maart vanjaar het ’n groep van meer as 40 plaaslike leiers van Sinode Oos-Kaapland in Gqeberha ’n “storiemuur” gebou om die verhaal van bediening in dié streek sedert 1990 in hulle eie woorde te probeer vasvang “en te vra hoe God in hierdie verhaal aanwesig was?”

Vandeesweek is 180 verteenwoordigers van gemeentes regoor die sinodale streek weer voor die spreekwoordelike muur in die Baai. Maar nou is die vraag: “Wat is dit wat die Here op sleutelgebiede deur ons wil doen? Waarheen nooi Hy ons om saam met Hom te gaan?”

Bron: ngkok.co.za

‘A future in your past’

Dr Frederick Marais van die Skool vir Innovasie aan die Hugenote Kollege het as fasiliteerder opgetree met die saamstel van die storiemuur en is steeds betrokke met die bestuur van die proses waar dit van 13 tot 16 Oktober, tydens die vergadering van dié streeksinode, ontgin en bespreek word.

“Die storiemuur van 2025 toon hoe die sinode sedert 1990 deur politieke verandering, ekonomiese verval, morele krisisse en interne verdelings beweeg het – maar ook hoe vergifnis, vernuwing, diensbaarheid en tegnologiese aanpassing telkens nuwe roetes oopgemaak het,” luidens die omvattende verslag oor die projek.

Dr Frederick Marais

Die teorie agter hierdie benadering tot dink oor die toekoms is eenvoudig: “Find a usable future in your past”. Dit is wat lidmate en leiers van hierdie streek probeer doen.

Die werkswyse put insigte uit die narratiewe benadering wat sê mense en gemeenskappe kan ’n “probleemverhaal” aanhou vertel, waar die verteller fokus op probleme wat herhaal en gebeure wat herhaaldelik skeefloop. Maar daar is ook alternatiewe verhale aanwesig. “Indien hierdie hoopvolle, alternatiewe uitkomste met mekaar verbind word, skep dit uitsig op ’n hoopvolle toekoms,” luidens die kerk se navorsingstuk oor die Storiemuur-projek.

NG Kerk in OosKaapland bestaan uit 12 ringe en 101 gemeentes. Hierdie streek verteenwoordig meer as 40 000 belydende en 8 000 dooplidmate van die NG Kerk.

Prof Piet en Paulus

Een van die laaste tafelgesprekke op die eerste dag van die sinodevergadering het gehandel oor ’n skrywe deur prof Piet Naudé, wat op vooraf-versoek deur gemeenteleiers ’n brief geskryf het “asof uit die eerste eeu”.

Die skryfopdrag aan Naudé, ’n voormalige voorsitter van die Sinodale Kommissie Oos-Kaapland en emeritus-professor, was om vanuit die Woord ondersoekend te kyk na die kerk se geloofslewe in Oos-Kaapland. “Die skrywe bevestig ons geloof, maar daag ons ook uit. Dit is bedoel om die proses van geloofsonderskeiding in ons sinode te ondersteun,” luidens ’n voorwoord tot die skrywe, wat in die sakelys gepubliseer is.

Naudé skryf onder meer: “’n Kleiner-wordende NG Kerk beteken nie ’n kleiner-wordende koninkryk van God nie. Dit moet julle ook tot selfondersoek en geloofskreatiwiteit dring: Is ons gemeentes regtig plekke waar dit nie saak maak of iemand wit of swart, ryk of arm, Afrikaans of Engels of Xhosa, gay of straight is nie, maar almal een is in Christus? (Gal 3:26-28). Of is die NG Kerk oor die algemeen en ook in die Oos-Kaap – in teenstelling met die Nuwe Testament – ’n laaste vesting om kulturele identiteit te beskerm? Is daar geleenthede tot groter samewerking onder mekaar en met ander geloofsgenote? Of is die idee dat elke gemeente ‘outonoom’ is, ’n rookskerm om nie regtig vir mekaar om te gee nie? En word ‘gereformeerdheid’ so eng vertolk dat ekumene met ander op die dorp en in die streek swaar van die grond af kom? Word die kerkgeboue en kerksale as dienssentrums gesien wat bakens van hoop in gemeenskappe skep wat swaar deur werkloosheid, hongersnood en ineengestorte staatsdienste getref word? Of is ons infrastruktuur en mensepotensiaal ‘ons s’n’ wat in ‘ons’ behoefte moet voorsien?

“Die Skrifte leer dat die wêreld die koms van Christus sal glo op grond van die liefde wat hulle onder ons sien.”

Geborg

Hier volg die skrywe wat doelbewus in die “styl” van Paulus geskryf is. (Bron: https://ngkok.co.za/sinode2025/sakelys/Sakelys2025-DOKBUNDEL-finaal.pdf


 

’N BRIEF AAN DIE GEMEENTES IN DIE PROVINSIE OOS-KAAP

VAN “PAULUS”, ’N DIENAAR VAN DIE EVANGELIE

 

Van Paulus wat die eerste Christene vervolg het, maar deur God se genade en radikale ingrype, ’n dienaar van die evangelie geword het.

Aan die 101 gemeentes en meer as 45 000 lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oos-Kaapse provinsie.

 

Ek groet julle in die Naam van ons drie-enige God, Skepper en Onderhouer van hemel en aarde wat die gang van die geskiedenis bepaal; ons Verlosser wat bevryding en heling bring; en die Trooster wat julle steeds in die waarheid lei en as Voorspraak gedurig vir julle intree.

 

VERLEDE

Soos Israel van ouds, moet julle nie die groot dade van God onder en met julle vergeet nie. Die versoeking is om in vandag se probleemstories vas te val en die genadepad wat agter lê te vergeet.

Sedert 1792 is God deur sy vrye genade aan die werk onder julle te midde van beduidende historiese gebeure in die grensgebiede wat die land se geskiedenis tot vandag wesenlik beïnvloed. Ek verbly my in die sendingwerk, evangelisasie en maatskaplike sorg wat uit julle geledere soveel seën vir ander gebring het. Julle loon in die hemel is groot.

Stilweg deur die eeue is gemeentes gestig en uitgebou. Ons eer ons voorgangers – leraars, ouderlinge, diakens en vele vroue wat met oorgawe gedien het al was hulle vir so lank van die amptelike bediening uitgesluit. “Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het” (Heb 13:7). Laat ons nie vergeet nie dat die Pinkstergebeure ’n vervulling was dat seuns en dogters, jongmense en oumense gesigte sal sien en drome sal droom oor die uitdra van die evangelie.

Laat ons nooit moeg word om terugskouend die wonder van ons eie verlossing te vier nie. Uit louter genade is ons gered. Ons geloof is ’n gawe van God. Selfs ons volharding en die feit dat ons nog as sinodale verband hier is, is geen basis om te roem nie en is die vrug van die Heilige Gees se werk in ons.

Julle verteenwoordig – soos deur God beskik – die kosbare tradisie van die Reformasie wat deel vorm van die katolieke kerk. Staan vas en verbly julle in die helderheid van die Skrifte, die krag van die geloof, die vrygewigheid van genade en die redding deur Christus alleen.

Herinner mekaar aan die gawes van die credo’s en belydenisskrifte wat na geloofskonsensus vir ons die woorde gee om oor die groot dade van God te praat en te sing.

Dit is nou reeds 1 700 jaar dat die woorde van Nicea (325) onder ons lewe en die drie-enige God bely en verkondig. Saam met die Apostolicum, die Formuliere van Eenheid en die Belharbelydenis help dit ons om in ooreenstemming met die Skrifte in elke tyd nuut oor God te praat.

Geborg

En dit troos ons om te weet dat ons maar een hoofstuk is in die lang storie wat God geskryf het nog voor ons daar was. En dat Hy nog steeds as Outeur van die geskiedenis voortgaan om te skryf. Ons is briewe van Christus. En ander wat ná ons kom, sal lees van die werk van God in die Oos-Kaap.

 

HEDE

Die Heilige Gees druk dit op my hart om in julle huidige situasie in te spreek:

Dit is verblydend dat julle die ampte uitbrei en losbreek uit die strik-idee dat slegs een tipe leraar vir die bediening geskik is. Laat ek julle herinner: Die eerste amp is dié van gelowige profeet, priester en koning (1 Pet 3:15). Alle ander “ampte” kom daarna. En God voorsien bedienaars vir verskillende situasies en behoeftes as ons met onderskeiding na Hom luister. Ons self het as apostels begin, maar later leraars, profete, bedienaars, evangeliste en ander bygevoeg om seker te maak die evangelie word uitgedra in ooreenstemming met die konteks, as beliggaming van die gawes wat die Gees uitstort, en as antwoord op die geestelike nood van mense.

Die krimpende getal lidmate en gemeentes moet julle nie in die eerste plek moedeloos laat nie. Daar is verskuiwings waaroor julle nie beheer uitoefen nie. Die volle katolieke kerk is steeds teenwoordig waar twee of drie in God se Naam vergader, die Skrifte gelees en die sakramente bedien word. En dit is goed om te sien dat gemeentes – daar op grondvlak – kreatief werk om die erediens in stand te hou en – soos dit hoort – meer volhoubaar is as formele predikantsposte. Dit is ook die wil van God dat middele nie op ’n sentrale “hoofsentrum” spandeer word nie maar direk aangewend word in ringe waar God se mense die beste weet hoe om die evangelie gestalte te gee. Julle ringsverhale is helder tekens van God se koninkryk waarop julle trots en dankbaar kan wees.

’n Kleiner-wordende NG Kerk beteken nie ’n kleiner-wordende koninkryk van God nie. Dit moet julle ook tot selfondersoek en geloofskreatiwiteit dring:

Is ons gemeentes regtig plekke waar dit nie saak maak of iemand wit of swart, ryk of arm, Afrikaans of Engels of Xhosa, gay of straight is nie, maar almal een is in Christus? (Gal 3:26-28). Of is die NG Kerk oor die algemeen en ook in die Oos-Kaap – in teenstelling met die Nuwe Testament – ’n laaste vesting om kulturele identiteit te beskerm? Is daar geleenthede tot groter samewerking onder mekaar en met ander geloofsgenote? Of is die idee dat elke gemeente “outonoom” is, ’n rookskerm om nie regtig vir mekaar om te gee nie? En word “gereformeerdheid” so eng vertolk dat ekumene met ander op die dorp en in die streek swaar van die grond af kom? Word die kerkgeboue en kerksale as dienssentrums gesien wat bakens van hoop in gemeenskappe skep wat swaar deur werkloosheid, hongersnood en ineengestorte staatsdienste getref word? Of is ons infrastruktuur en mensepotensiaal “ons s’n” wat in “ons” behoefte moet voorsien?

Die Skrifte leer dat die wêreld die koms van Christus sal glo op grond van die liefde wat hulle onder ons sien.

Dit is met onsteltenis en hartseer dat ek hoor van strydpunte wat julle en die breër NG Kerk se onderlinge verhoudings skaad. Dit is asof die duiwel altyd weer ’n nuwe soort mens-vraag onder julle in die NG Kerk stel en julle in die strik laat trap om daarvan ’n saak te maak wat vervreemding, afskeiding en selfs vyandskap werk:

Eers was dit die vraag na kerklidmaatskap van swartmense; toe die vraag na vroue in die lerende amp van ouderling (om nie van hoede in die erediens te praat nie); toe die vraag na kinders se deelname aan die Nagmaal; en nou onlangs die vraag na seksuele identiteit in verband met huwelik en ampsbediening.

Elkeen van hierdie vrae is opsigself belangrik en in die oomblik moeilik om te deursien. Die kerk in ekumeniese verband stry ook dieselfde stryd en deur die eeue – van die eerste gemeentes in Handelinge – was daar ongemaklike vrae en strydpunte.

Maar ons weet mos dat die Heilige Gees ons – vanweë ons eie vooroordele, eiebelang en sondige natuur – stadiger tot insig lei as wat gemaklik is. Terwyl ons in die stryd is, raak ons blind en kyk eers later met verbasing terug dat alles so duidelik en eenvoudig is.

Wag op die Here en wag geduldig op mekaar soos Christus geduldig was met ons.

Maar geeneen van hierdie strydvrae hef ons eenheid in Christus op nie. En geeneen van hierdie vrae is genoeg gronde om struktureel en persoonlik van mekaar weg te stap nie. Die verskeurde NG Kerkfamilie – wat die APK en ander Afrikaanse kerke insluit – is en bly ’n skandvlek op die getuienis dat Jesus se verlossing ons almal erfgename van Christus maak.

Elke afskeiding maak van ons vyande van die kruis.

Hou dus aan om sonder ophou te bid en te dink en om mekaar met Christelike liefde en verdraagsaamheid vas te hou. Die geloof-waardigheid van die evangelie is op die spel.

 

TOEKOMS

Julle is medewerkers van God om te bou aan die toekoms van die koninkryk in die Oos-Kaap. Hy kan ook sonder ons werk. Die klippe sal dit uitroep. Maar sy weg loop deur die liggaam van Christus.

Julle het reeds moedige stappe geneem om ’n storie van hoop te help skryf. Hoop vir julleself maar ook hoop vir ander. God het in die geskiedenis deur sy algemene genade mense (selfs heidense konings), instellings (selfs die VN) en uitvindsels (soos die boekdrukkuns, TV en nuwe tegnologie vandag) gebruik om sy Naam uit te dra. Maak dus gebruik van wat voor oë is en laat die Gees julle skerp insig gee om geleenthede vir die kerk en koninkryk te sien in mense, toestande en instellings wat op die oog af negatief werk:

Korrupsie is ’n kans vir waarheidspreke en etiese opleiding; ineenstorting van dienste is ’n kans vir barmhartigheid en profetiese kritiek; sosiale media bied die kanale om jongmense te win en te behou en diegene te bereik wat ver is. En nog vele meer.

My innige gebed is dat God julle in staat sal stel om die dinge waarop dit aankom, reg te onderskei. “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Jesus Christus kom” (Fil 1:6).

Laat ons mekaar herinner: Duisend jaar is vir God soos ’n nagwaak. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Waarin lê ons waarborg opgesluit?

In die feit dat ons kinders van Abraham is en dus ingesluit is in God se ewige verbond met Israel en die nuwe volk van God. Elke keer as julle die brood breek en die wyn proe of die water van die doop sien, herinner julleself dat ons nie aan die wigte en teenwigte van die geskiedenis, kultuur, ekonomie en politiek uitgelewer is nie. Nee, ons is verbondsmense wat weet dat God – meestal ten spyte van sy eie halsstarrige volk – nooit die werk van sy hande laat vaar nie. Al lei Hy ons soms deur die woestyn en ballingskap ter wille van ons geestelike heil en om die eer van sy heilige Naam. Christus is die opgestane Hoof van die kerk en Hy is ’n Koning wat nie sonder onderdane sal wees nie. Ook nie in die Oos-Kaap nie.

 

SEËNGROET

Groete aan almal wat aan God behoort deur Jesus Christus en die werk van die Heilige Gees.

Die genade van ons Here, Jesus Christus, sal by julle wees en bly.

Piet Naudé

Augustus 2025

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top