Sinkroniseer: Die kuns om in pas met God te leef deur Zander van der Westhuizen
Uitgewer: Bybelkor, 2025
Resensent: Rethie van Niekerk
Van der Westhuizen begin deur te sê dat hy nie ’n dagstukkieboek tipe ou is nie. Die lewe is daarvoor te morsig. Hoewel Sinkroniseer dus soos ’n dagstukkieboek lyk, is dit nie bedoel om elke dag soos ’n dagstukkie gelees te word nie. Dit is eerder ’n metronoom wat jou begelei om die ritme van die lewe te vind. Hiervoor sluit Van der Westhuizen by die Prediker se seisoene aan (soos ons dit lees in Prediker 3), maar maak dit ook eietyds vir ons wêreld.
So word die boek ingedeel in verskillende tye: ’n tyd om stil te word, te skep, ’n leier te wees, lief te hê, ’n tyd vir vrede, saamwees, eenvoud – om net enkele van die 16 ritmes te noem.
Met eenvoudige vertellings en gedagtes word die leser dan in elkeen van hierdie ritmes ingenooi. Elkeen van die ritmes word afgesluit met suggesties vir ’n geloofsgewoonte wat ’n mens help om die spesifieke ritme in te oefen. Die skrywer se vertellings is treffend en onverwags.
Met 216 bladsye het ek gedink hierdie werk gaan swaar in my hand en kop lê. Maar die bladuitleg is ruim, vol oop spasies en leë ruimtes. Dit is heel gepas. Van der Westhuizen nooi sy leser rustig in die ruimte in. Daar is spasie om te dink, te wees, te word.
Ek is persoonlik diep geraak deur van die ritmes. Sinkroniseer bevat van die beste verduidelikings van “teenwoordigheid” wat ek nóg raakgeloop het. Met die lees van die woorde “Daar is ’n nuwe oorlog vir jou tyd. Een van die wapens in hierdie oorlog is digitale geraas,” kon ek diep sug … en asem skep.
Sinkroniseer se proteswysheid help jou om “vreugde te vind in die musiek wat jy maak.”
Beskikbaar by Bybel-Media.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
