Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief | Oor geleentheid by Groote Kerk: ‘Liturgiese ruimte behoort aan God alleen’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Tinus Diedericks van Bredasdorp skryf: Weereens, met diepe erns rig ek hierdie brief aan die kerk se herders, opsieners en lidmate na aanleiding van die onlangse gebeure in die Groote Kerk, Kaapstad, waar die Verenigde Nasies se verslaggewer Francesca Albanese toegelaat is om te spreek binne die liturgiese ruimte.

LEES OOK: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

Op 28 Oktober 2025 het Italië se VN-ambassadeur, Maurizio Massari, in ’n openbare verklaring gesê Albanese se verslag “An international genocide” is “sonder geloofwaardigheid en onpartydigheid”, en dat sy die VN se gedragskode vir spesiale verslaggewers verontagsaam het deur politieke vooroordeel en gebrek aan integriteit te toon. Wanneer selfs haar eie regering haar werk as onbetroubaar verklaar, waarom sou ons kerk haar platform gee binne ’n heiligdom gewy aan die Here? Sal die kerk haar distansieer van die gebeure?

LEES OOK: ‘Hieroor was die intergeloofsgeleentheid by Groote Kerk vir my traumaties’

Die NG Kerk se belydenis stel onomwonde dat die liturgiese ruimte afgesonder is vir aanbidding, nie vir politieke betoging nie. Deur ’n internasionaal omstrede politieke figuur binne die kansel toe te laat, het die kerk die onderskeid tussen heilig en onheilig vervaag en lidmate se vertroue in die geestelike integriteit van die kerk geskaad.

Ter opsomming! Die liturgiese ruimte behoort aan God alleen, die kansel aan die Woord alleen, en die kerk aan Christus alleen. Wanneer die kerk hierdie orde verbreek, verloor sy haar geestelike gesag en haar getuienis word ’n politieke eggo. Daarom is die beskerming van die liturgiese ruimte nie konserwatisme nie, dit is heiligheid in aksie.

Hierdie voorval is nie bloot ’n organisatoriese insident nie, maar ’n dogmatiese krisis. Die Bybel waarsku: “Oordeel begin by die huis van God” (1 Pet 4:17). Ek roep die moderatuur en die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake op om rekenskap te doen oor hierdie besluit en die heiligheid van die NG Kerk se liturgiese ruimtes te herstel en beskerm.

Met eerbied en ernstige kommer.


Kerkbode het ds Riaan de Villiers, ’n leraar by Groote Kerk in Kaapstad, om kommentaar genader

 

Riaan de Villiers skryf: Op Sondagmiddag 26 Oktober 2025 was daar ’n vergadering in die Groote Kerk in Kaapstad waartydens Francesca Albanese vrae van die meer as 1 500 Suid-Afrikaners teenwoordig beantwoord het.

Ons kerkgebou word gereeld oor die afgelope dekade gebruik vir gesprekke rondom geregtigheid, versoening en vrede. Hierdie was weer so ’n geleentheid, en ook in lyn met die aanbeveling van die WRK se sentrale kommitee aan lidkerke, om die Palestyne in hulle strewe na vryheid by te staan.

Geborg

Ons leef ook met ’n historiese bewussyn in die gemeente en is bewus van hoe die kansel al ingespan is vir die bevordering van ideologieë en die belange van sekeres bo ander. Ons besef ook as gereformeerdes dat daar tye kom in die geskiedenis waarin ons ons op ’n besonderse manier moet skaar by die onderdrukte en vervolgde in belang van hulle en ons almal se vryheid. Ons ondersteun die beginsels van nie-gewelddadige protes waarvan kerkleiers soos Desmond Tutu en Beyers Naude vir ons voorbeelde was. Ons bely Jesus is Here en volg Hom as die weg, waarheid en lewe.

Aangesien daar ’n diverse groep Suid-Afrikaners by die vergadering was is ’n verteenwoordiger van die Joodse, Moslem- en Christengeloof gevra om in drie minute te sē wat hulle geloof oor geregtigheid en vrede sê asook ’n gebed vir vrede te doen.

Ons verwelkom almal wat geregtigheid, vrede en die beginsels van die koninkryk van God bevorder. Ons glo die kerk is opgemaak uit lewende stene en ons is verbind aan die lewende stene in Gasa, Bethlehem, Jerusalem en oral oor die wêreld.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Brief | Oor geleentheid by Groote Kerk: ‘Liturgiese ruimte behoort aan God alleen’”

  1. Na aanleiding van Ds Riaan se verwysings na “Ons bely Jesus is Here en volg Hom as die weg, waarheid en lewe” en dan ook “Ons verwelkom almal wat geregtigheid, vrede en die beginsels van die koninkryk van God bevorder”.

    Daar is geen ware geregtigheid buiten God nie, daar is geen ware vrede buiten Christus nie, en die beginsels van die koninkryk van God begin by, en eindig in, Christus alleen, tot eer en verheerliking van God alleen. Met ander woorde: geregtigheid, vrede en die beginsels van die koninkryk van God is slegs en alleen in God-drie-enig te vind.

    Dit bring my by die vraag: het die Moslemse imams, vanaf die Groote Kerk se kansel, hierdie beginsels van die koninkryk van God bevorder en is daar in Jesus Christus se Naam vir vrede gebid, of ruik ek ‘n rokie van Universalisme?

    Sonder om ‘n “Bybelversieoorlog” te begin, dink ek onwillekeurig aan 2 Kor. 6:14 wat lees: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?” en ook Psalm 127: 1 wat lees: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.”

  2. ROBERT BARRIE - NAMIBIA

    Die beginsel dat die Woord in die kerk verkondig sal word is ignoreer … en omskep in ‘n saal waar eensydige politieke retoriek emosioneel aangemoedig word

  3. In ons gemeente het ons reeds iemand wat die NG Kerk bedank het as gevolg van hierdie gebeure. Nie omrede een gemeente gedwaal het nie, maar omrede die kerkleierskap se stilswye hierrondom oorverdowend is. “Stilbly is mos saamstem” het ons die kinders geleer.

Comments are closed.

Scroll to Top