Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jacques Nel van Toronto (Presbytery of Pickering, Presbyterian Church in Canada) skryf: Christenwees en kerkwees het ook te make met die politieke sfeer. Ook binne die gereformeerde tradisie was daar nog altyd weerstand teen ’n wêreldvermydende vroomheidsleer. Daar was by sommige selfs sprake van ’n geheiligde publieke sfeer. Of dit haalbaar is, bly ’n ope vraag. As die koninkryk waarvan Jesus praat wel nie van hierdie wêreld is nie, beteken dit nie dat dit van ’n ander wêreld is nie. Wel dat dit totaal andersoortig is as die wêreld se koninkryke. Dit is in die wêreld deur Homself en in sy volgelinge. Hulle is met sy Gees vervul. Lig maar dan steeds lig vir die wêreld. Sout maar sout in die kos en nie sout op die rak nie.
LEES OOK: ‘Kerk se roeping is nie om neutrale gespreksruimte vir wêreldgodsdienste te wees’
Wat dit alles behels, word vir ons uitgespel in die Bergrede en elders. Teenwoordig maar dan ’n teenwoordigheid met ’n groter geregtigheid as dié van die Fariseërs. Ietwat paradoksaal is dit dan nie die geregtigheid van die selfversekerde Fariseër, wat homself beter ag as die tollenaar nie. Dit is die geregtigheid van ’n tollenaar wat sy geregtigheid elders as in homself moet vind. Wat op sy bors slaan en sê: Wees my, arme sondaar, genadig. Is hierdie gesindheid te alle tye by ons aanwesig, sal al ons praat oor Gasa en die oggend van 7 Oktober met afgryse en wroeging wees. Nêrens hoort daar ’n sweempie van triomf nie. Dit sal wel iets anders wees as om net weer die politieke spel van vooraf te speel. As ’n kerk met politieke foute in die verlede, skop ons nou net weer die bal van die ander kant van die baan, dit sal fataal wees.
LEES OOK: ‘Hieroor was die intergeloofsgeleentheid by Groote Kerk vir my traumaties’
Wat ons nie kan doen nie, is om stil te bly. Lees maar die Ou Testament-profete. Van Habakuk en Amos tot by Esegiël. As Daniël in sy naggesigte drie diere en ’n verskriklike vierde dier uit die onstuimige see van die nasies sien opkom (Daniël 7) dan het ons te make met die Babiloniërs, die Perse, die Grieke en dan laastens die Romeine. Die vierde verskriklike dier wat dan ’n samevoeging van al die vorige diere is, in Johannes se visioen op Patmos (Open 13). Wat vra wie is jou Heer en Meester? Die keiser in Rome wat homself god genoem het op die munte? Of die Een wat uit die dood opgestaan het? Het dit nie ook te make met die politiek nie? Maar dan ook baie meer. As Esegiël praat van dié wat met swaard in die hand staan en gruwels doen (Esegiel 33) dan is daar min twyfel oor wat ter sprake is.
Stilbly kan ons nie. Maar gemaklik wees met die wêreld se gruwels nog minder. As die kerk profeteer ook oor die sake van die dag, moet dit wees met ’n gans ander stem as die stemme van die wêreld. Ons ongemak mag wees dat ons soms te veel van die wêreld se stem vanuit die kerk hoor. Ons was al meermale baie verkeerd. Ons wil nie weer te lig bevind word nie. Ook sien Johannes op Patmos ’n visioen van die vals profeet (Open 13) Wat horings het soos ’n lam maar praat soos ’n draak. In al die gepraat oor die gebeure in die Midde-Ooste, ook vanuit die kerk, met wie se stem praat ons?
