Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Kerk se roeping is nie om neutrale gespreksruimte vir wêreldgodsdienste te wees’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Julian Olivier van Groblersdal skryf: Met groot waardering lees ek die gesprek rondom die Groote Kerk se gebruik van die liturgiese ruimte vir ’n VN-gesprek oor Israel en Gasa. Tog wek die verduideliking van ds Riaan de Villiers ’n noodsaaklike teologiese vraag: Kan die beginsels van die koninkryk van God werklik gedeel word deur mense of godsdienste wat die Koning self verwerp?

LEES OOK: Lesersbydraes by die Briewe-afdeling  

As die kerk glo dat Jesus Christus die enigste Middelaar tussen God en mens is (1 Tim 2:5) en dat niemand die Vader kan ken behalwe deur Hom nie (Joh 14:6), dan is dit onmoontlik om van die koninkryk te praat sonder Hom wat regeer. Die koninkryk is nie bloot ’n stel morele ideale nie, maar die werklikheid van Christus se heerskappy deur sy Gees in die lewe van wedergebore mense (Rom 14:17).

LEES OOK: Oor geleentheid by Groote Kerk: ‘Liturgiese ruimte behoort aan God alleen’

Ek verstaan en deel die verlange na ’n geloof wat sigbaar word in dade. Dietrich Bonhoeffer het immers tereg gesê dat Christenskap ’n geloof in aksie is. ’n Lewe van gehoorsame navolging van Christus in ’n gebroke wêreld. Maar Bonhoeffer se eie lewe getuig ook dat ware geloofsaksie nooit die onderskeid tussen Christus en die wêreld mag uitwis nie. Aksie sonder onderskeiding word uiteindelik ongehoorsaamheid, al lyk dit moreel regverdig.

LEES OOK: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

Wanneer die kerk dus praat van “gedeelde beginsels van die koninkryk” tydens intergeloofsbyeenkomste, raak sy in gevaar om dieselfde fout as Israel te maak: om die Here te probeer dien saam met die gode van die nasies (2 Kon 17:33). Dit is nie gasvryheid nie, maar sinkretisme – en dit is in stryd met die Woord.

Ons gereformeerde belydenis leer dat die koninkryk daar bestaan waar Christus deur sy Woord en Gees regeer (Heidelbergse Kategismus, Sondag 12 en 48). Om dan mense wat die Seun verwerp ’n liturgiese platform te gee om oor “die koninkryk van God” te praat, ondermyn die unieke getuienis van die kerk.

Ons behoort beslis vir vrede te bid en die lyding in Gasa en Israel te betreur. Maar die kerk is nie geroep om ’n neutrale gespreksruimte vir wêreldgodsdienste te wees nie. Sy is geroep om te getuig van die enigste Naam waardeur daar verlossing is (Hand 4:12).

Mag ons met sagmoedigheid, maar ook met helderheid, vasstaan in die waarheid dat die koninkryk van God nie deur morele samewerking kom nie, maar deur die kruis van Christus.

Met eerbied en erns.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: ‘Kerk se roeping is nie om neutrale gespreksruimte vir wêreldgodsdienste te wees’”

  1. Philip Coetzee

    Amen. Die Tien Gebooie leer ons dat God ʼn jaloerse God is. Dus, om mededeelsaam te wees moet met godelike onderskeiding behartig en bestuur word. Dit laat my onwillekeurig dink aan ʼn narsis, ʼn persoon wat net in hul self glo as reg, maar terselfde tyd veranderlikke persoonlikhede het en openbaar. Daarom, soos geestelike liberalisme en humanisme wat jou onderskeidings vermoë vedof sodat jy soos ʼn tolbos enige rigting gewaai kan word, ongeakerd en rigtingloos in jou geloofslewe. Hoe kan enige regdenkende Christen twee gode wil dien?

Comments are closed.

Scroll to Top