Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dinkstof | Verstaan die Ou Testament: God se plan sal bly staan in Josef se verhaal

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Nadat Jakob en sy familie hulleself in Egipte tuismaak, hoor ons nie meer veel van hulle nie, behalwe wanneer Jakob sterf. Dit is waaroor die laaste drie hoofstukke van Genesis gaan. Jakob seën sy seuns (of die meeste van hulle) en seën ook die twee seuns van Josef, Efraim en Manasse, wat later twee stamme in Israel word. Maar nadat Jakob begrawe is in die grot van Magpela, gebeur daar iets in Genesis 50 wat ontstel.

LEES OOK | Verstaan die Ou Testament: Juda se transformasie

Josef se broers kom bymekaar en wonder wat gaan gebeur nou dat hulle vader dood is. Hulle is bang dat Josef uiteindelik gaan wraak neem op hulle en die plan wat hulle maak is weereens vol misleiding. Hulle vertel vir Josef dat Jakob voor sy dood vir Josef versoek het om sy broers te vergewe. Die teks vertel ons nooit van so ʼn gebeurtenis nie, so hulle het dit heelwaarskynlik uit hulle duim gesuig. Dit beteken dat hulle die hele tyd gedink het dat Josef se vergifnis nie eg was nie en slegs ʼn fasade ter wille van hulle vader Jakob. Dit beteken ook dat hulle nie verstaan het wat Josef soveel keer in hoofstuk 45 gesê het nie: “God het my hierheen gestuur, nie julle nie.” Jesus se bekende woorde is ook op die broers van toepassing: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Josef se broers is inderdaad clueless.

LEES OOK: Die betekenis van trane in Josef se “rags to riches”-verhaal

Voor ons hulle té vinnig veroordeel, moet ons onsself herinner dat vergifnis in ons wêreld eintlik skaars is, juis omdat dit so moeilik is. Vergifnis is nie goedkoop nie. En dalk was die broers net eerlik met mekaar. Hulle sukkel om te glo dat Josef hulle regtig vergewe het. Dit is tog menslik en verstaanbaar.

Josef se reaksie is om weer te huil en dan sê hy ʼn vreemde ding in vers 19: “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek?” Wat beteken die tweede deel van die sin? Een kommentator dink dit beteken iets soos: “Wie is ek om God se planne in die wiele te ry?” En dit is die verskil tussen Josef en sy broers. Hy het werklik God se plan verstaan en hulle nie. Na alles wat gebeur het en wat hulle om hulle sien afspeel het, verstaan hulle nog steeds nie.

Dan herhaal Josef alles wat hy al vyf hoofstukke terug gesê het en praat mooi met hulle om hulle te troos en te verseker dat niks nou gaan verander nie. God se plan sal bly staan. Die parmantige klikbek van Genesis 37 het radikaal verander. As ons maar net so seker kon wees van God se plan vir ons lewe!

Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top