Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Proponente Jacqueline Smith, Stéfan Coetzee en Flippie Kotzé saam met die dagbestuur van die kuratorium van die Vrystaat. Foto's: Verskaf

Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UV se klas van 2025

Op 18 November 2025 by die NG Kerk Fichardtpark, Bloemfontein het die kuratorium van die Vrystaat een kandidaat gelegitimeer wat artikuleer van diensleraar na volle leraarsbevoegdheid en twee na colloquium doctum.

Lees ook: Beroepbare proponente en diensleraars: Ontmoet UP se klas van 2025

PROPONENTE

Jacqueline Smith se oog is gevestig op die mensdom wat God se liefde so nodig het, en daarom het sending ook ‘n spesiale plek in haar hart. Sy glo dat sending binne die gemeenskap van die gemeente begin en uitbrei na die nasies soos wat ons Here Jesus ons gestuur het. Sy stel die meeste belang in die erediens en die verkondiging van God se Woord as bedieningsvelde. Jacqueline hou daarvan om die gemeente te betrek by die erediens deur die gebruik van kreatiewe weergawes van die Sondagliturgie. Sy voel dat elke lidmaat deel van God se gemeente is en daarom in elke klein detail betrek moet word.

Haar grade wat sy verwerf het sluit in: BTh, BAHons (Nabye Oosterse Studies), MA (Nabye Oosterse Studies) en ’n PGDip (Teologie). Haar skripsietema vir haar MTh-graad was “Jan Hus, martyr or heretic? The role of memory in historiography”. Sy kan gekontak word op e-pos by smith.xx6767@gmail.com of by 073 810 2868.

Jacqueline Smith.

COLLOQUIUM DOCTUM

Johannes Stefanus (Stéfan) Coetzee is in 1978 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer in 1996 aan Hoërskool Eldoraigne in Centurion, Pretoria. Na skool het Stéfan vir twee jaar in Engeland gaan werk. In 1999 pak hy ’n loopbaan in inligtingstegnologie aan en kwalifiseer hy as rekenaar- en netwerktegnikus. Hy werk vir verskeie fimas in Johannesburg en Rustenburg totdat hy sy roeping ontvang om teologie te studeer in 2004. In 2005 skryf hy in as student by die Afrikaanse Protestantse Akademie waar hy die grade BA en BTh (cum laude) voltooi. Tydens ’n dekade in die voltydse bediening was hy leraar op Brits, Noord-Wes en Senekal, Vrystaat. Stéfan se groot liefde is die verkondiging van die Goddelike Woord. Hy is getroud met Marilet en die trotse pa van twee seuns, Stéfan, 15 en Fourie, 11 en een dogter Hez-Mari, 13. Hulle is tans woonagtig te Bethlehem.

Stéfan Coetzee.

Philippus Erasmus (Flippie) Kotzé is in 1979 gebore en het in Petrusburg op ’n plaas grootgeword. In 1997 matrikuleer hy aan die Hoërskool AJC Jooste op Petrusburg. In 2001 verwerf hy sy BA Teol graad, in 2002 sy BA Teol (Hons) en in 2004 sy MDiv-graad. Hy word in 2004 gelegitimeer. Hy is vanaf 2006 tot 2012 voltyds leraar in die NG gemeente Koffiefontein en in 2012 tot 2014 voltyds leraar in die Klipkerk op Schweizer-Reneke. In 2015 bedank hy vrywillig as predikant van die NG Kerk. Hy bevind hom in die boerdery en in 2022 werk hy oorsee. Hy ervaar die Here roep hom terug na die bediening en vanaf 2023 is hy werksaam in die NG gemeente van Petrusburg as ouderling en doen pastorale sorg. Hy neem met tye preke waar.

Sy belangstellingsveld is pastorale sorg (veral persone wat sukkel met verslawing, depressie ens), koinonia (gemeentebou) en gemeenskapswerk (evangelisasie). Sy hart lê ook sterk by die jeug en om hulle in gesonde verhoudings te sien floreer. Hy is lief vir goeie een tot een gesprekke en hou van huisbesoek. Hy het twee pragtige kinders, Mayleen en Phillip.

Flippie Kotze.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top