Between two rivers: Ancient Mesopotamia and the birth of history deur Moudhy Al‑Rashid
Uitgewer: Hodder Press, 2025
Resensent: Fanie Cronjé
In haar boek Between two rivers skets dr Moudhy Al‑Rashid ’n fassinerende beeld van antieke Mesopotamië (land tussen twee riviere) – min of meer die gebied van die hedendaagse Irak. In plaas daarvan om óf met konings en oorloë, óf groot gebeurtenisse te begin, volg Al‑Rashid eerder die spoor van artefakte wat kennelik vir alledaagse, huishoudelike gebruik bedoel was, asook spykerskriftekste wat bestaan uit gewone dinge soos byvoorbeeld “skool”-opdragte, kwitansies, inventarisse, mediese aantekeninge en sterrekundige lyste. Die resultaat is ’n geskiedenis van onder af; intiem, tasbaar, lewendig, met ’n oog vir die geringste voorwerp, woord of getal wat verklap hoe die mense van destyds geleef, gewerk, aanbid en onthou het.
Elke hoofstuk wentel om ’n bepaalde soort voorwerp (artefak) of literêre tipe. Voorwerpe soos stene, kleitablette – ook dié bedoel vir onderrig – gedenknaalde, kwitansies en rituele instruksies word benut as toegang tot ’n breër sosiale en kognitiewe wêreld wat daaragter lê. Deur na te speur en in toeganklike taal, met ’n gemaklike verteltrant, te beskryf hoe die tipe voorwerpe gemaak, gebruik, gestoor en gelees is, maak die outeur ’n ou wêreld van tipiese leerpraktyke, boekhouding, genesing en aanbidding vir belangstellende lesers oop. Sy slaag deurgaans daarin om met haar vertellings die mense van destyds vir ons te laat lewe.
Die mense in die boek is doelbewus alledaags. Ons ontdek ’n wiegeliedjie wat op ’n kleitablet bewaar is, ’n tipiese ma wat huishouding en arbeid balanseer; ’n “kroegman” se kwitansies wat die destydse lewe kleur, ’n slaaf wat om sy vryheid onderhandel; en selfs ’n prinses wat met ’n vroeë versameling artefakte verbind word. Al hierdie al te gewone dinge, maak hierdie antieke mense se lewe onverwags al te herkenbaar.
Die outeur argumenteer deurlopend dat om te leer skryf en om te kon skryf, meer as net die bemeestering van tegnologie behels het. Sy meen dat dit ’n beduidende rol gespeel het as medium waardeur geskiedenis en historiese bewustheid gevorm is. Lyste, kontrakte, kwitansies en skoolopdragte het byvoorbeeld ook gedien om pligte, kennis en geheue vas te lê. Deur die byhou van registers as beide skeppend en dwingend uit te lig, toon Al‑Rashid hoe skryfwerk ’n tegnologie van sorg en verbintenis én ’n instrument van belastinginvordering, toesig en beheer kon wees.
Met hierdie boek slaag die outeur daarin om ’n gesonde balans tussen weldeurdagte navorsing en toeganklike leesbaarheid te bewerkstellig. Al‑Rashid se noukeurige bespreking van spykerskrif (ook wigskrif genoem), word met lewendige vertellings en hedendaagse vergelykings vervleg, sodat spesialiskennis verstaanbaar oorgedra word, sonder om die kompleksiteit daarvan te versag. Die raamwerk ten opsigte van die hantering van argeologiese vondste – veral die bekende Ennigaldi‑Nanna‑versameling – dien as ’n kragtige metafoor vir ’n beskawing wat sy eie verlede geskep en bewaar het.
Uiteindelik nooi Between two rivers lesers om ooreenkomste oor millennia heen te sien: sorg oor familie, skuld, gesondheid en geregtigheid verbind antieke Mesopotamiërs met ons. Deur artefakte te laat “praat” nooi hierdie boek persone; egte mense, eerder as net name en gebeure in ons lewe van vandag in. En so help dit ons in ons nadenke oor hoe geheue, skryf en alledaagse praktyke gemeenskapsidentiteit help vorm. Vir enigiemand wat nuuskierig is oor die oorsprong van skrif, stede en historiese denke, of wat die wêreld agter die Ou Testament-tekste beter wil verstaan, bied Al‑Rashid ’n leesbare, menslike inleiding tot die lande tussen die Tigris en Eufraat.
Beskikbaar by Amazon.
Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG Gemeente Lynnwood.
