Inspirerende leierskap deur Brand Pretorius en Jurie Schoeman
Uitgewer: Lux Verbi, 2025
Resensent: Rudi Swanepoel
Brand Pretorius en Jurie Schoeman het betreklik min bekendstelling nodig in Suid-Afrikaanse kringe. Met hulle onlangs verskene boek Inspirerende leierskap bevestig hulle waarom beide van hulle gerekende leiers is.
Inspirerende leierskap neem die vorm van ’n gesprek aan: Beide skrywers deel gedagtes oor bepaalde temas. Schoeman doen dit vanuit die Woord en Pretorius vanuit die sakewêreld. Maar dit gebeur ook dat sommige van hulle insigte gewoon persoonlik is en vanuit hulle deurleefde ervaringswêreld te voorskyn kom.
Met my aanvanklike kennisname van die boek en die konsep (‘gesprek’ of ‘tweespraak’) was ek effens skepties, aangesien vorige soortgelyke pogings (deur ander skrywers) al geforseerd gevoel het. Hier is dit egter glad nie die geval nie, inteendeel.
Schoeman en Pretorius práát met die leser en soos wat dit kundige retorici betaam, weet hulle dat die gedagtes wat die hardste praat uit die hart kom en dikwels die vorm van stories aanneem. Schoeman span die Bybelverhale vernuftig in en Pretorius se mededelings uit die sakewêreld tref telkens die kol.
In ’n tyd waar ’n mens akuut bewus is van ’n leierskapsvakuum, onderstreep Inspirerende leierskap die waarde van integriteit, nederigheid, medemenslikheid en liefde.
Hierdie boek sal inderdaad inspireer, leer en toerus. Dit is ’n móét lees.
Beskikbaar by Takealot.
Ds Rudi Swanepoel is predikant by die gemeente Aan-die-Berg in Johannesburg.
