Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Malan Meyer van Kaapstad skryf: Daar is groot konsternasie op hoofstroom- en sosiale media na die onlangse algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). Die sinode het besluit dat gemeentes wat, ten spyte van vorige sinodale besluite, steeds susters in die amp van leraar en ouderling beroep, hulleself buite die kerkverband plaas. Verder is besluit om ekumeniese bande, in ’n sekere sin, met die NG Kerk in Suid-Afrika te verbreek. Hierdie besluite het sterk negatiewe reaksie uit NG Kerk-kringe ontlok, veral aangesien die NG Kerk reeds sedert 1990 susters tot hierdie ampte beroep.
LEES OOK | Brief: ‘Dié standpunt oor vroue breek af en maak seer’
Baie meen dat die kwessie van vroue in die amp (VIDA) nie ’n rede behoort te wees waarom twee kerkverbande met dieselfde belydenisgrondslag bande verbreek nie, aangesien dit nie ’n sogenaamde “evangeliesaak” is nie. Dit is waar dat niemand verlossing ontvang deurdat ’n vrou ’n toga aantrek en op ’n kansel preek nie – net so min as deurdat sy dit nié doen nie. Tog moet gevra word wie bepaal het dat slegs verskille oor evangeliese kernwaarhede geldige redes vir kerklike breuke is.
Die Gereformeerde tradisie het nog altyd beklemtoon dat die Skrif op twee maniere praat: Wet en Evangelie. Die Heidelbergse Kategismus leer dat die Wet ons sonde openbaar, die Evangelie ons verlossing verkondig, en die Wet ons leer hoe om dankbaar te leef. Zacharias Ursinus skryf selfs dat die hele leer van die kerk onder Wet en Evangelie saamgevat kan word. In die GKSA word die Wet oor die algemeen meer uitgelees in die liturgie as in die NG Kerk.
In die tradisie word die Wet verstaan as morele of natuurwet, ingebed in die skeppingsorde. Verskille oor VIDA en selfdegeslagverhoudings dui daarom op ’n dieper meningsverskil oor die aard van die skepping self.
LEES OOK: #leefLiGter: Skakel soggens in vir gedagte vir die dag
Van die stigting van die GKSA af lê die mees sigbare verskil tussen die twee verbande in die onderhouding van die tweede gebod, veral soos toegepas deur die regulerende beginsel van aanbidding. Volgens Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 96 mag God slegs aanbid word op die wyse wat Hy in sy Woord voorskryf. GK’s hou gevolglik tradisioneel by slegs die sing van God se Woord, die onderhouding van oggend- én aanddienste op die Here se dag en geen VIDA. NG gemeentes vertoon daarenteen dikwels ’n liturgiese spanning tussen ’n meer lutherse oggenddiens vir een demografiese groep en ’n evangelies- of charismatiese aanddiens vir ’n ander een met VIDA.
Die voormalige NG moderator Piet Strauss het selfs akademies aangedui dat die belydenisskrifte nie in die praktyk die genormeerde norm in die NG Kerk is nie. Die gevolgtrekking is dat, hoewel die twee verbande grootliks dieselfde teologie op papier deel, hulle vroomheid en geloofspraktyk wesenlik verskil. In die lig van die beginsel lex orandi, lex credendi is dit geen verrassing dat hierdie kerkverbande uiteindelik uit mekaar gedryf het nie.
