Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Johannes Mouton van Table View Gemeente skryf: “Pa, ek is nie meer gemaklik in die NG Kerk nie,” sê my seun een aand. Onkant gevang, vra ek die eerste ding wat in my kop kom, “wil jy nou ook na ’n charismatiese kerk toe gaan?” “Nee pa,” antwoord hy, “ek hou nie van hulle nie … ek voel ongemaklik in die NG Kerk omdat die kerk nie lyk soos my leefwêreld nie … dit lyk nie soos die ‘real world’ nie … dis die enigste plek waar ek kom waar ek net wit mense sien.” Ek weet nie wat om hom te antwoord nie.
LEES OOK: Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?
Hy is ’n meestersgraadstudent in ’n klas waar wit studente by verre in die minderheid is. Sy twee studieleiers is albei swart. Sy studentevriende saam met wie hy kuier is hoofsaaklik swart. En ek dink aan die kerkvergaderings wat ek bywoon. Die VBO-kursusse. Die predikantebyeenkoms wat vir Augustus beplan word. Die semigrasie van wit mense na hoofsaaklik wit areas, woonbuurte en gemeentes en die feit dat ons dit so gelate aanvaar. Ek dink aan my eie leefwêreld. Hy is reg. Ek voel aangekla en moedeloos. Hoe is dit moontlik dat ons 30 jaar na apartheid steeds in hierdie situasie is?
LEES OOK | Marileen Steyn: Kerkherinneringe van nét ’n vrou
As ’n missionale kerk behoort ons tog anders te lyk? Een van die boustene van missionale teologie is dat die kerk ’n alternatiewe gemeenskap moet wees. Lesslie Newbigin en David Bosch het uitgewys dat die kerk die waardes van die koninkryk nou al moet weerspieël. In ons lewe en strukture moet ons dit beliggaam waartoe ons die samelewing oproep. Met ander woorde, in ’n multikulturele samelewing is dit ’n aanklag as ’n missionale kerk na soveel jare steeds hoofsaaklik monokultureel is. Dis vir my sleg dat my seun nie die “real world” in ons kerk beleef nie. Ons moet die voorbeeld stel. Ek sal nog dieper selfondersoek moet doen. Ons sal dieper moet dink oor ons voetspoor in hierdie land. Ek sug saam met Antjie Krog in haar nuutste boek (Binnerym van bloed): Hoe sukkel ons nie vandag nog om mekaar saam te verbeel nie?
