Living our North Star: Aligning spiritual management innovation practices deur Marius Ungerer, met Guillaume Smit
Uitgewer: Bybel-Media, 2025
Resensent: Frederick Marais
Ek is baie dankbaar vir hierdie boek en beveel dit graag aan vir almal wat belangstel in die bestuurswetenskappe en innovasiepraktyke. Dit sal spesifiek van waarde wees vir almal wat hulleself in bestuursberoepe bevind en praktiese leiding soek oor hoe om hulle werkspraktyke te integreer met hulle geloofsoortuigings. Verder beveel ek die boek aan vir almal wat mense bedien wat in bestuursposisies werk. Koop die boek, lees dit en vat dit saam na jou gesprekke met die bestuurders in jou gemeente of vriendekring.
Daar is ’n groeiende bewuswording dat geloof en besigheid, leierskap en spiritualiteit nie as teenpole verstaan moet word nie, maar as komplementerend. Hierdie boek neem dit verder, met die dapper vertrekpunt dat spiritualiteit die potensiaal van bestuursinnovasie ontsluit (enable). Spiritualiteit is dus nie maar net iets wat getolereer moet word nie, maar dit ontsluit die potensiaal van die bestuurder! Living our North Star is nie kort boodskappe vir die biduur by die werk nie, maar ’n praktiese toergids vir bestuurders wat gereed is om die integrasie tussen geloof en werk te leef.
Die boek is gebore uit prof Marius Ungerer (emeritus professor van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool) se eie reis met bestuurders wat die werkplek toenemend as ’n ondraaglike uitdaging beleef en ervaar dat hulle onder soveel druk verkeer dat hulle die vreugde van werk verloor het. Wanneer leierskap en bestuur beoefen word vanuit ’n roepingsbewussyn (“North Star”) en ’n lewende spiritualiteit, het hy ontdek, kom die vreugde weer terug en word die transformasie volhoubaar. Die boek beskryf Ungerer se eie “bekering” tot die radikale integrasie van spiritualiteit en werk.
Living our North Star is daarom ’n soort tweespraak tussen harde, deeglike navorsing en kennis oor die praktyk van bestuur in die kompeterende wêreld van vandag (Ungerer), asook keurige opsommende opmerkings oor relevante geloofs- en Bybelse inhoude (deur dr Guillaume Smit, dosent Fakulteit Teologie aan Hugenote Kollege).
Dikwels kom hierdie soort boeke kort omdat geloof vanuit ’n fundamentalistiese lens beskou word, of omdat kennis oor die kompleksiteit van bestuur in besigheid onderskat word. Hierdie boek ly nie aan een van hierdie tekortkominge nie. Deeglike akademiese en historiese agtergrond word gegee ten opsigte van bestuurswetenskap. Aan die ander kant word spiritualiteit nie hanteer as ’n generiese term nie, maar begrond binne die Christelike geloofstradisie.
Mensgesentreerde benaderings in bestuurspraktyke is noodsaaklik, maar beperk wanneer dit kom by die radikale uitdagings wat organisasies vandag moet hanteer, konkludeer die skrywers. Spiritualiteit bou en ontsluit die veerkragtigheid wat bestuurders nodig het om die kompleksiteite van die sake-omgewing te hanteer.
Die skrywers bied werkswinkels aan oor die boek en kan by mariusu@sun.ac.za gekontak word.
Beskikbaar by Bybelmedia.
Dr Frederick Marais is direkteur van die Sentrum vir Innovasie by Hugenote Kollege.
