Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Resensie | ’n Meesterlike hulpbron om die Evangelies mee te ontsluit

Sinopsis van die eerste drie Evangelies deur Hermie van Zyl

Uitgewer: Naledi, 2025

Resensent: HJ Prinsloo

Predikante onthou seker die oomblik toe jy as ’n voorgraadse student die verrassende, dog ontnugterende, ontdekking gemaak het: dat die volgorde waarin die Evangelies in die Nuwe Testament geposisioneer is, nie as die enigste kriteria vir hulle uitleg dien nie. Dit gebeur wanneer jy die Q-teorie leer, wat die volgorde van die Evangelies in verhouding tot mekaar beskryf, met Markus wat as vertrekpunt dien.

Tog bly dit ’n oorweldigende taak om die drie sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) met mekaar te kan vergelyk. Wat kom ooreen, waar verskil dit, wat is uniek aan elke vertelling? Prof Hermie van Zyl het dié uitdaging meesterlik aangespreek, deur ’n sinopsis te skep van die eerste drie Evangelies.

Miskien wonder jy hardop: nou wat op aarde is ’n sinopsis en hoe kan dit my help om meer effektief die Evangelies te kan vergelyk? ’n Sinopsis per definisie is ’n hulpbron wat die parallelle vertolkings van inhoud in die Evangelies met mekaar vergelyk.

Neem die kruisiging van Jesus as voorbeeld: Al drie Evangelies identifiseer die ligging as die plek van die skedel. Slegs twee van die Evangelies onthou dat hulle vir Jesus wyn aangebied het (wat Hy nie aanvaar het nie), terwyl hulle beskrywing van die wyn verskil. Slegs een Evangelie onthou die kruiswoorde van Jesus waar Hy bid: “Vader, vergeef hulle”. Al drie Evangelies onthou hoe daar oor Jesus se bokleed geloot is. Slegs twee Evangelies onthou dat die bord vasgekap is wat sê “Koning van die Jode”.

Met die sinopsis oop voor ’n mens kan jy met soveel meer detail die tekste vergelyk. So word jou eksegese meer genuanseerd en jou insig verryk. Die goeie nuus is dat jy nie weer jou Grieks hoef af te stof om hierdie sinopsis te kan gebruik nie, omrede dit volledig in Afrikaans beskikbaar is, terwyl dit ’n volledige Grieks-Afrikaanse woordelys insluit. Hetsy jy jouself binne die konteks van bediening of navorsing bevind, ’n sinopsis is ’n fantastiese hulpbron. Met hierdie publikasie het Van Zyl daarin geslaag om hierdie hulpbron toeganklik te maak vir enigeen.

Beskikbaar by Naledi.

Dr HJ Prinsloo is  predikant in die NG Kerk Koringberg, navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat, en deeltydse dosent by Hugenote Kollege en Cornerstone Institute.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top