Met die onlangse verwoestende brande in verskeie dele van ons land, is Diaconia se Hoop-en-Versoeningstrust een van die plekke waar NG lidmate en donateurs kan geld skenk en seker kan wees dat dit verantwoordelik aangewend word. Ons gesels met ds Alex Clark van Ceres, ’n lid van Diaconia en kontakpersoon vir Diaconia se Ramphulpaksie.
Hierdie artikel vorm deel van ’n storie-vennootskap tussen Kerkbode en Die Hoop-en-Versoeningstrust en Diaconia. Die Hoop-en-Versoeningstrust wil in die eerste plek ’n verskil maak in sosiale uitdagings soos vroeëkinderontwikkeling (veral in plattelandse gebiede) en die verligting van armoede. Lees meer oor die vennootskap onderaan hierdie berig.
Ds Clark bedank uit die staanspoor almal wat reeds ’n bydrae gelewer het: “Dankie aan elkeen wat bereid is om te help en hulle gawes op hierdie manier te gee. Ons vra dat God hierdie werk sal seën en dat ons die roeping wat ons ontvang om ander in nood te help, op hierdie manier sal uitleef.” Ons wou by hom weet …
Kerkbode (KB): “Ramphulp” is ʼn baie breë term, kan jy ’n paar voorbeelde noem van waarvoor die fonds aangewend word?
Alex Clark (AC): Ramphulp is, soos jy sê, ’n breë term. Die nood wat aangespreek word, is werklik groot en dit neem ’n groot verskeidenheid vorms aan. In die laaste paar weke was die nuus vol berigte oor dele van die land wat letterlik aan die brand is en erge droogte ervaar, terwyl daar terselfdertyd dele van Suid-Afrika en ons buurlande wegspoel in reënstorms. Die fonds word deur gemeentes genader wat te midde van hierdie gebeure kerk is, en probeer help om ondersteuning te bied, daar waar hulle is. Die fonds word aangewend in samewerking met hierdie gemeentes om juis hulle bestaande werk te ondersteun. Jy kan self dink aan die diversiteit in gemeentes en gemeenskappe en hoeveel verskillende aanwendings daar kan wees. Ons fokus is om mense in hulle onmiddellike nood by te staan, eerder as die herstel van strukture.
KB: Diaconia se Hoop-en-Versoeningstrust verkondig: “Saam word ons geroep om mense in nood by te staan.” In jou ervaring by Diaconia, wat is die dringendste “behoeftes” waarmee mense in ons land tans te kampe het?
AC: Die dringendheid en die behoefte self word bepaal deur die persoon op grondvlak se interpretasie van die omstandighede. Ons elkeen het ons eie vooropgestelde idees en persepsies. Ons het nie genoeg fondse om aan elkeen se versoeke te kan aandag gee nie, dus beteken dit dat ons ook met onderskeiding kyk na die versoeke en aansoeke wat ontvang word. Tans is die behoefte aan ondersteuning baie gerig op droogtehulp in die suide, en hulp te midde van oorstromings in die noorde van die land.
KB: As iemand jou sou vra hoekom hulle juis ’n donasie vir die Hoop-en-Versoeningstrust moet maak, wat sou jou antwoord wees?
AC: Elke Rand wat geskenk word, word uitbetaal aan die persone wat dit nodig het. Daar is nie ’n struktuur of kantore wat deur hierdie fonds in stand gehou word nie. Dit is werklik ’n in-en-uit. Deur die kerke se netwerk is dit ook moontlik om baie wyd te kan ondersteun in samewerking met ’n groot hoeveelheid ander rolspelers. Laastens het Diaconia, saam met die rolspelers wat dit verteenwoordig, ’n bewese rekord van hulp en ondersteuning wat nie op onsself fokus nie, maar op die Een wat ons gestuur het om sy hande en voete te wees.
KB: Kan jy ’n spesifieke storie deel waar ’n bydrae tot die Rampfonds ’n tasbare verskil in ’n gemeenskap gemaak het?
AC: ’n Paar jaar gelede het ons in samewerking met georganiseerde landbou en ’n paar gemeentes gehelp om veevoer by ’n aantal landboubesighede in die Boland geborg te kry. Die fonds het gehelp om vir die vervoer hiervan te betaal, sodat die veevoer versprei kon word in dele van die Groot-Karoo. Gemeenskappe is ekonomies afhanklik van landbou, en daarsonder kon hierdie groter gemeenskappe nie oorleef nie; die fonds is toe daarvoor aangewend. Natuurlik was die volumes beperk, maar dit het ’n tasbare verskil gemaak.
KB: Die Hoop-en-Versoeningstrust kan Artikel 18A-sertifikate uitreik. Vir diegene wat nie vertroud is met die term nie, hoe bevoordeel dit Suid-Afrikaanse skenkers en besighede wat die fonds wil ondersteun?
AC: Dit is ’n skriftelike bewys wat ’n besigheid ontvang vir hulle bydrae wat by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) ingedien word en ’n belastingvoordeel inhou. Die reëls rondom die bedrae en werkwyse is by SARS beskikbaar. Dit word in ag geneem wanneer die besigheid, of individu, aan die einde van die belastingjaar hulle belastingaanspreeklikheid by SARS bepaal.
Vir meer inligting oor die Artikel 18A-sertifikaat, lees gerus hierdie dokument.
KB: As iemand nie ’n groot finansiële bydrae kan bekostig nie, maar steeds wil help, op watter ander maniere kan hulle betrokke raak by die werk wat by Kaapkerk of deur die Trust gedoen word?
AC: Elke klein en groot bydrae maak ’n verskil. Daar is ’n spreekwoord uit Madagaskar wat verklaar dat dit die sagte reën is wat die rivier in vloed bring. Die fonds help dus om vir ’n groot hoeveelheid mense die geleentheid te bied, om wat binne hulle vermoë is, te kan gee. Wat jy gee maak ’n verskil.
KB: Wat is iets wat jy wens jy vir donateurs of mense wat wil help in tye van krisis kon verduidelik?
AC: Mense wil graag help, omdat ons graag vir ander wil omgee. Ons hulp vloei soms vanuit ons eie behoeftes en hou nie in gedagte wat die persone vir wie ons wil help, se behoefte is nie. Wanneer jy dus wil help, moet jy ontvanklik wees om te hoor wat regtig nodig is. Die fonds help om hulp te verleen nádat daar met die mense op die grond in gesprek getree is, om te hoor wat die behoeftes is.
KB: Waarom juis ’n fonds en nie ’n veldtog vir ander soort skenkings nie?
AC: Dit gaan oor beskikbare kapasiteit van die vrywilligers wat hierby betrokke is en die volhoubaarheid van die hulp wat gebied word.
Maak ʼn bydrae hier:
The Hope and Reconcilitaion Trust
Rekeningnommer: 116 997 5933
Nedbank, Tjekrekening
Tak: Southern Peninsula (198 765)
SWIFT-kode: NEDSZAJJ
Verwysing: Rampfonds
Navrae oor die ramphulp kan gerig word aan Alex Clark by 083 492 5753
Artikel 18A-sertifikate is beskikbaar op versoek by diaconia@kaapkerk.co.za
- Hierdie artikel vorm deel van ’n storie-vennootskap tussen Kerkbode en Die Hoop-en-Versoeningstrust en Diaconia. Die Hoop-en-Versoeningstrust wil in die eerste plek ’n verskil maak in sosiale uitdagings soos vroeëkinderontwikkeling (veral in plattelandse gebiede) en die verligting van armoede. Inisiatiewe soos opvoedkundige programme, gemeenskapsontwikkeling, kapasiteitsbou, vaardigheidsontwikkeling en ’n verskeidenheid van opleidingsgeleenthede is wyses waarop die hoofdoel bereik word. Die trust lewer intensioneel bydraes tot dialoog in ’n samelewing met ’n behoefte aan eenheid, versoening en geregtigheid. Diaconia is die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk Wes-Kaap en die VG Kerk Kaapland en neem verantwoordelikheid vir Die Hoop-en-Versoeningstrust.

