Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oor die wel en wee én chaos van ma-wees

Jy IS ’n ma duisend deur Francine Prins en Maryke Hansen

Uitgewer: Bybelkor, 2025

Resensent: Monozel Els

“Ontmoet God in die chaos van ma-wees,” is die subtitiel van Jy IS ’n ma duisend deur Francine Prins en Maryke Hansen. Hierdie boek het my diep geraak in ’n seisoen waar my eie wêreld alreeds effens omgekeer is. My baba is nou een jaar oud. Elke dag leer hy my iets nuuts – oor geduld, oor gebed en oor ’n liefde wat nie vra of verdien wil word nie. Om eerlik te wees: hy hou sy ma besig!

’n Huis wat eens netjies en gereed vir gaste was, lyk nou anders. Die dae word gevul met sagte waarskuwings, vinnige hande wat keer en woorde soos: “Nee, moenie dit in jou mond sit nie.” Juis daarom het hierdie boek my laat glimlag, want dit beskryf ’n chaos wat vir my bekend en eg geword het.

Tog is hierdie boek meer as net ligte humor. Dit nooi jou om stil te raak – om jou eie onsekerhede raak te sien en om ’n mammahart te herken wat leer wag, vertrou en oorgee. Wat my veral bemoedig het, is die eenvoudige waarheid dat God nie wag vir stilte om teenwoordig te wees nie. Hy is reeds daar, midde-in die warboel.

Hierdie boek herinner my daaraan dat elke klein oomblik van ma-wees heilig is en dat God juis in hierdie chaos besig is om harte – ook myne – te vorm.

Beskikbaar by Bybelmedia.

Ds Monozel Els is deeltyds predikant by die NG Kerk Drie Riviere in Vereeniging.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top