Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Klein Elizé Myburg was die enigste kind saam met sowat 40 boere, hulle vroue, ’n paar predikante en gaste wat op 1 Maart getuie was toe ’n 130 jaar-oue NG gemeente herstig is op Rhodes in die Oos-Kaap. Foto’s: Heléne Meissenheimer

NG Gemeente Rhodes: ‘Die pad na dié (her)stigting was ’n baie, baie lang pad …’

  • Na 130 jaar stig gemeente vir tweede keer af

  • Begin oor met een emeritus-dominee en 28 lidmate

  • Vier beeste al beloof vir Paasbasaar

Op Sondag 1 Maart sit klein Elizé Myburg en kyk hoe skryf haar pa Tiaan sy naam op die Stigtingsverklaring. Sy is die enigste kind tussen sowat 40 boere, hulle vroue, ’n paar predikante en gaste wat op hierdie oggend getuie wil wees wanneer Rhodes se 130 jaar-oue NG gemeente vir ’n tweede keer onafhanklik word. Die eerste keer was in 1892 met tussen 200 en 300 lidmate. Hierdie keer is die stigtingsverklaring deur 36 onderteken waarvan 28 lidmate is.

Binne die konteks van ’n kerkverband wat meer plattelandse as voorstedelike gemeentes het maar met minder lidmate en dus ’n toenemende werklikheid dat eersgenoemde nie ’n voltydse predikant kan onderhou nie, berig Heléne Meissenheimer vanaf hierdie Oos-Kaapse gemeente op die grens met Lesotho.

In Januarie vanjaar kry Kerkbode ’n e-pos vanaf Jaco (Donnie) Schoeman. Hy is ouderling van die NG Gemeente Barkly-Oos se wyksgemeente op Rhodes. Dit sluit ’n kennisgewing in vir plasing in Amptelike Nuus (waarin onder meer oor leraars en gemeentes se skuiwe berig word). Soos vereis deur die Kerkorde Reglement 27 meld dit die NG Gemeente Rhodes word op Sondag 1 Maart gestig. Ook dat hierdie gemeente voorheen bekend was as die NG Gemeente Rossville en dat dit 130 jaar oud is.

LEES OOK: Oos-Kaapse Sinode sê: ‘Hierheen stuur God ons …’

Ons wou meer uitvind. ’n Paar e-posse later gebeur dit dan dat ek op Vrydag 27 Februarie vir Kerkbode na Bloemfontein vlieg om vandaar in ’n Hyundai-sportsnutsmotor suidoos te ry oor die Oos-Kaap se grens na Barkly-Oos en daarna noord op ’n ruwe grondpad van 60 km na Rhodes.

Dit was die omgewing se boere wat bykans 130 jaar gelede die kerkgebou op Rhodes opgerig het.
Dit is mooier as mooi wêreld. Die grondpad volg die Bellrivier soos dit al kronkelend beur deur klip en vallei na waar groen berghange oog hou oor beeste, skape en mense. Dit vra dat ’n mens stop om dit in te neem.

Dit is die makliker toegangsroete. Die enigste ander opsie is oor Naudésnekpas, een van Suid-Afrika se hoogste (2 590 m) en langste (33 km) bergpasse oor die Drakensberge.

Rhodes se omgewing

Dit is mooier as mooi wêreld. Die grondpad volg die Bellrivier soos dit al kronkelend beur deur klip en vallei na waar groen berghange oog hou oor beeste, skape en mense. Dit vra dat ’n mens stop om dit in te neem. Tussendeur foto’s neem en rem-rem die R396 met sy slote, klipplate en skerp draaie navigeer, is ek verlig om na twee ure ’n bruin kennisgewingsbord te kry wat in Xhosa, Afrikaans en Engels ’n mens by Rhodes Village verwelkom.

Later kom ek agter dié pad is soos die lewe hier. “Hierdie is ’n mooi maar harde plek. Jy moet tough wees,” soos Wilna Jansen, ’n derde geslag Rhodes-boervrou dit later vir my gestel het. Sy en menige ander het ’n storie van weerlig wat beeste doodslaan of verkluimde lammers tydens sneeustorms. Hier ken boere droogtes én reënskade.

Willem Jansen het so 20 jaar gelede die korporatiewe lewe in Gauteng agtergelaat om saam met sy vrou Wilna op haar familieplaas met beeste en later ook merinoskape te kom boer.
Hannelie Nel boer saam met haar man Francois op haar familie se plaas aan die voet van Naudésnekpas. Sy meen hulle het dit die afgelope 52 jaar gemis om ’n predikant in hulle midde te hê.
“Hierdie is ’n mooi maar harde plek. Jy moet tough wees,” sê Wilna Jansen, ’n derde geslag Rhodes-boervrou. Hulle laat maak hierdie kalfie hans groot na sy ma deur weerlig doodgeslaan is. Donderweer kom gereeld voor.

Dié dorp en kerk se storie loop saam

Toe ek en Schoeman later gesels, sê hy “die pad na die stigting (op 1 Maart 2026) was ’n baie, baie lang pad …” Inderdaad. Dit was die omgewing se boere wat in 1892, so 134 jaar gelede, die kerkgebou op Rhodes opgerig het. Só vertel Wilna se man, Willem, my later. Hulle het so 20 jaar gelede die korporatiewe lewe in Gauteng agtergelaat om op haar familieplaas met beeste en later ook merinoskape te kom boer.

Willem vertel die boere het nagmaalshuisies in Rhodes gebou waarin hulle met nagmaalnaweke kom oorbly het. Baie van die huisies bestaan nog.

Voor die gemeente op Rhodes gestig is, het NG lidmate hier in die vroeër jare geval onder bediening van Lady Grey gemeente, en later die NG Gemeente op Barkly-Oos. Die naaste dorp. Dit is dieselfde gemeente waarvan hulle nou in 2026 weer “op vriendskapsvoet” afstig. Ek lees later in die gemeente se eeufeesboek, Rhodes 100: 1891-1991, dat Rhodes se eerste NG gemeente tussen 250 en 300 lidmate gehad het.

’n Lidmaat, Hanna Reeders, het die boek saamgestel. Sy noem die gemeente se naam was Rossville, vernoem na ’n Skotse NG dominee op Lady Grey wat die lidmate op Rhodes te perd besoek het voor hulle ’n eie gemeente gehad het. Sy foto hang vandag in hulle konsistorie. Hier hang ook portrette van die gemeente se eerste eie predikant, ds Helgard Müller en die 15 na hom tot by ds Beyers Brink. Müller wou die dorp se naam na Rossville verander wat amper ’n skeuring veroorsaak het met 103 lidmate wat ’n petisie geteken het. Dit is ook opgeteken in Reeders se eeufeesboek. So ook dat Brink die laaste predikant was van die Rossville-gemeente. Die gemeente was in sy tyd nie meer geldelik in staat om ’n eie leraar te onderhou nie. Brink se seun, ds Johan (Oubaas) Brink, onthou ook daardie jare. Hy vertel sy pa het gesê die gemeente en die dorp het een storie,” sê die emeritus-leraar van die Vrystaat wat ook Goudland-sinode se moderator was.

San Gottschalk (links) bid saam met drie vroue voor hulle die kerk se blommerangskikkings en dekor doen. Na die oggenddiens is die blomme aangery na die landbousaal. Angeline Tobi (heelonder) het gehelp om die blomme aan te dra.

Johan onthou die tekort aan finansies. Hy vertel in die gemeente se 75ste bestaansjaar het die vroue met ses maande se beskuitverkope geld ingesamel sodat die geleentheid gevier kon word. Hy sê hy het die beginsels van basaar hou by hierdie gemeente geleer en dit tydens sy bediening toegepas.

Sy pa het ’n ander beroep in 1973 aanvaar. Die gemeente het gehoor dat hulle moes ontbind en weer by hulle buurgemeente, Barkly-Oos, inskakel. So word hierdie gemeente se sowat 100 lidmate in 1974 weer deel van hierdie gemeente. Reeders onthou dit só: “Dit was vir ons een van die grootste terugslae om ons eie gemeente noodgedwonge prys te gee …”

Ander onthou ook dat dit ’n moeilike besluit was. Dr Gerdrie van der Merwe verwys daarna as “’n pynlike proses wat ons nie moet onderskat nie” in sy gedenkbundel* saamgestel vir Barkly-Oos Gemeente se 150 jarige herdenking getitel, ’n Liefdesgemeenskap tussen berge en valleie: Die verhaal van die NG Gemeente Barkly-Oos.

Met my inry by die dorp sien ek op regs ’n sokkerveld waarop ’n trop skape wei terwyl kinders ’n bal rondskop. Hulle is van die meestal Xhosasprekende gemeenskap wat in die woonbuurt Zakhele bly.
Xolelwa (haar naam beteken vergifnis in Xhosa) Thonkha is die toerismebeampte. Sy wys graag foto’s van haar mooiste dag toe sy in die historiese NG kerk getrou het.

 

Twee gemeenskappe op een dorp

Rhodes is diep, diep landelik. Met my inry by die dorp sien ek op regs ’n sokkerveld waarop ’n trop skape wei terwyl kinders ’n bal rondskop. Hulle is van die meestal Xhosasprekende gemeenskap wat in die woonbuurt Zakhele bly.

Die NG gemeente ondersteun ’n evangelis met Bybels om hier uit te deel.

Een wat met haar voete in beide wêrelde leef is Xolelwa (haar naam beteken vergifnis in Xhosa) Thonkha. Sy is die toerismebeampte met haar kantoor in die hoofstraat. Xolelwa het my vertel sy kom van die omgewing. Toe sy die dag wil trou, het sy die kerkraad gevra of sy in die NG Kerk mag trou omdat dit vir haar so ’n mooi gebou is. Die kerkraad het ingestem want “sy is deel van die gemeenskap”.

Sy het vir my foto’s van die dag gewys. Die dag was vir haar so mooi sy sê sy het gevoel sy is in die hemel. Die kerk was volgepak.

Die NG Kerk is al kerkgebou in die sakekant van die dorp. Dit is in 1892 ingewy – ’n jaar na die dorp tot stand gekom het. ’n Mens gebruik ‘sakekant’ ligtelik. Hier is nie ’n Spar of ’n Pep, ’n dokterspreekkamer, bankteller of selfs ’n lamppaal nie. In die meer Xhosasprekende deel is ’n kliniek en laerskool en in Rhodes se hoofstraat is ’n biblioteek.

Franz Gottschalk (76) is die afgetrede dominee wat sedert Desember 2024 by die gemeente leraar is. Hy en sy vrou San woon op die dorp. In Willem se woorde was hulle instruksie aan hulle dominee eenvoudig “preek en huisbesoek”. Van sy kant vertel Gottschalk dat hy en sy musikale vrou, San, dwarsdeur sy bediening op plattelandse gemeentes was. “Ons geheim is om nie kant te kies nie,” sê hy.

Al kommersiële lewe in die hoofstraat is die Rhodes Hotel met sy winkeltjie, ’n koffiewinkel met kunsgalery (en heerlike koffie en koek) en natuurlik die toerismekantoor.

In die eeufeesboek lees ’n mens die dorp het in die 1970’s amper in ’n spookdorp verander. Toe word dit “herontdek” en soos Reeders dit stel as ’n plek waar veral stedelinge stilte en rus kom soek. Toerisme het ’n verdere hupstoot gekry met die oopmaak van ’n suksesvolle ski-oord, Tiffendell, naby die dorp. Dié het ongelukkig glo weens die Covid-pandemie sy deure moes sluit. Dit was ’n groot slag vir hierdie klein gemeenskap waar vele plase ook gaste-akkommodasie het. Die gewilde Rhodes Run, ’n ekstreme padwedloop deur die Drakensberge in die winter bring gelukkig steeds heelwat besoekers en die gemeente het ’n reëling om aandetes te verskaf wat ’n welkome inkomste beteken.

Mense hier is sterk op mekaar aangewese. Franz Gottschalk (76) is die afgetrede dominee wat sedert Desember 2024 by die gemeente leraar is. Hy en sy vrou San woon op die dorp. Hy vertel my daar is ’n lys – as iemand Barkly-Oos toe gaan, dan kry so een instruksies as daar Takealot-pakkies of iets anders is om saam te bring.

Oor ’n predikant se rol, dienstye en ’n slegte grondpad

’n Mens hoor meermale by die lidmate van Rhodes dat dit vir hulle nog groot betekenis het om ’n predikant in die gemeenskap te hê. Willem vertel vandat hulle ’n predikant op die dorp het wat dienste hou en by mense uitkom, het diensbywoning verbeter vanaf so 14-18 op ’n Sondag tot by 30. Daar het ook ’n paar Engelse besoekers bygekom soos Jill Steynberg. Sy vertel my later as sy iets nie verstaan in die diens nie vra sy haar vriendin.

Hannelie Nel boer saam met haar man Francois op haar familie se plaas aan die voet van Naudésnekpas. Sy meen hulle het dit die afgelope 52 jaar gemis om ’n predikant in hulle midde te hê. Rhodes kon vanaf die 1990’s elke tweede Sondag weer dienste in hulle eie kerk hou, maar sy vertel hulle kon nie met die predikant na kerk gesels nie want hy moes weer terugjaag na Barkly-Oos om daar diens te hou. “Dit het my teen die bors gestuit,” voeg sy by.

Ouderling Willem Jansen het die stigtingvergadering gelei. Christiaan Kotzé (links voor) het as skriba van die Ring van Dordrecht die amptelike stigting van die NG Gemeente Rhodes bygewoon.
Emeritus-ds Johan Brink (sit links) het op hierdie dorp grootgeword terwyl sy pa hier predikant was. Hy is gevra om die oggenddiens te lei. Die tema van sy boodskap was “Jesus se genade”.

Die gemeente op Rhodes het die laaste 30 jaar groter outonomiteit gehad met ’n eie kerkraad en ook weer ’n eie basaar. Die grondpad vanaf Barkly-Oos het egter teen die 2000’s so versleg dat sommige predikante geweier het om dit te ry tensy iemand hulle met ’n bakkie kom haal. Huisbesoeke het skaarser geword. Lidmate verwoord so hulle frustrasie: “Ons het ’n gemeente gehad wat herderloos is … geen versorging nie. As jy ’n predikant net twee keer per maand sien bou jy nie ’n band nie”.

’n Geskikte dienstyd was ook ’n uitdaging. Dit moes of vroeg wees sodat die predikant betyds terug is vir Barkly-Oos se tienuurdiens (albei gemeentes se voorkeurtyd) of daarna. Vroeg het in die winter beteken dat Rhodes se mense om agtuur kerk hou in temperature van tot -12 grade. Willem vertel die mense moes kom, dik gepantser in lae klere en komberse, dan wasem hulle asems in wolkies voor hulle mond soos hulle sing.

Dié situasie moes verbeter. In laat 2024 het Rhodes se kerkraad van ses besluit om in 2025 aansoek te doen by die Sinode van Oos-Kaapland om ’n “sabbatsjaar” gegun te word. Dit het beteken hulle wou die jaar gebruik om uit te vind hoe lyk hulle pad as gemeente vorentoe. Die gemeente op Barkly-Oos was toe sonder predikant na hulle laaste predikant, ds Rheinier Nel, in laat 2024 ’n beroep na Bethulie aangeneem het.

Donnie vertel hulle het die sowat 28 lidmate op Rhodes gevra wat hulle daarvan dink om weer deel van ’n eie gemeente wees. Hy sê die reaksie het hulle verstom, want hoewel daar glo enkelinge is wat teen die gedagte gekant is, was die meeste geweldig positief.

Willem vertel hulle glo die Here het dit toe so beskik dat hulle paaie in Desember 2024 gekruis het met dié van dominee Gottschalk. Hulle het hom genooi om die Kersdagdiens te lei, iets wat groot is in hulle gemeenskap. Sowat 130 mense was by die diens.

Hierna het hulle hom gevra of hy sou oorweeg om vir drie maande hulle predikant te wees. Hy het ingestem en uiteindelik die hele jaar gebly – elke keer is sy kontrak met drie maande verleng (volgens die kerkorde mag predikante ouer as 70 net korttermynkontrakte aanvaar).

LEES OOK: Brief: Enkele riglyne om leraars ouer as 70 jaar in gemeentes as leraars aan te stel

In Willem se woorde was hulle instruksie aan hulle dominee eenvoudig “preek en huisbesoek”. Van sy kant vertel Gottschalk dat hy en sy musikale vrou, San, dwarsdeur sy bediening op plattelandse gemeentes was. “Ons geheim is om nie kant te kies nie,” sê hy.

Die kerkraad het opgelet daar was groei in twee sleutelmaatstawwe, kerkbywoning en inkomste. Hulle gewilde Paasfeesbasaar se inkomste het intussen ook al toegeneem van R60 000 tot R100 000 hoofsaaklik vanuit die vleisverkope van beeste wat boere geskenk het. Vir vanjaar s’n is reeds vier beeste belowe (hier is nog nie bek-en-klouseergevalle nie.

Dit het haalbaar begin lyk om weer ’n onafhanklike gemeente met ’n eie dominee te wees.

Die kerkraad het by die kerkleierskap van die Oos-Kaapse sinode aangeklop vir raad vir die regte kerkordelike pad om te kies. Die advies wat hulle gekry het was volg Reglement 27 van die NG Kerkorde. Donnie verduidelik dié instruksie in die Kerkorde gaan spesifiek oor “die vermeerdering van gemeentes” waarby ingesluit word om af te stig as eie onafhanklike gemeente.

Op Saterdag 28 Februarie het die wykskerkraad ’n laaste keer in hierdie hoedanigheid saamgekom vir ’n braai op die Jansens se plaas. ’n Donderstorm het losgebars en dit het deurnag gereën, maar Sondagoggend het meer as 40 mense besluit hulle sal die nat grondpaaie aanvat om die amptelike stigtingvergadering mee te maak in die kerksaal.

Christiaan Kotzé het as skriba van die Ring van Dordrecht die stigtingsdokument saam met Jansen onderteken. Hy het by die erediens hierna aan die gemeente vanuit hierdie dokument voorgelees en toe ook ingelig oor nog ’n oplossing waarna hulle vorentoe sou kon kyk – om lidmate wat geroepe voel vir bediening as bedienaars of diensleraars te laat oplei.

Verskeie oud-predikante is ook genooi as gaste. Een van hulle was emeritus-ds Johan Brink wat gevra was om die oggenddiens te lei. Die tema van sy boodskap was “Jesus se genade”.

“Die kerkie op Rhodes is waar die Here vandag sy genade kom aflewer,” het hy gesê.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top