Die Ierse rockgroep U2 het op Aswoensdag 2026 onverwags ’n nuwe EP, “Days of Ash,” vrygestel. Francois Mulder skryf oor hierdie versameling liedere wat soos moderne profetiese protespsalms en rou klaagliedere vir ’n gebroke wêreld klink.
Dit is Woensdagaand 18 Februarie 2026, 20:00.
Ná ’n aangrypende Aswoensdagerediens waartydens ek op meer as 50 gemeentelede ’n simboliese kruis met olyfolie en palmtakroet kon teken en die woorde “Jy is sterflik, maar Jesus het die dood oorwin!” kon sê, ontvang ek ’n (vir my aardskuddende) WhatsApp van my fliekvriend Wilhelm: ’n berig van The Guardian getiteld “U2: Days of Ash review!”
Wát!?
“Dis seker KI-fopnuus,” dink ek dadelik.
April Gekkedag?
Toe nie! Eerder ’n Aswoensdagwonder waar die Ierse rockgroep U2 ons oorweldig met tydige psalms van protes, ontstellende klaagliedere en gesange van hoop.
“Days of Ash,” ’n verrassings-EP – ’n extended play (EP) is korter as ’n tradisionele long play (LP) – van 23 minute en 32 sekondes verdeel in vyf liedere en een gedig, is doelbewus uitgereik op Aswoensdag, die begin van die Lydenstyd. Die as van Aswoensdag is ’n teken van menslike verganklikheid. Genesis 3:19 herinner elkeen: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” Verder is dit ook ’n teken van skuldbelydenis – dink maar aan die Bybelse gebruik om as op die hoof te strooi as teken van berou. Vandaar die naam “Days of Ash.”
LEES OOK: Leonard Cohen as moderne psalmis verken en gevier
Die ses snitte word aangebied as voorbereiding vir Paasnaweek se dans van dood en lewe – kruisiging en opstanding, bloed van teregstelling en bloed van nuwe lewe. Bono sing ’n rou gebed met die woorde: “I was made for worship before I spoke I sang / Songs of grief, of disbelief.”
U2 se liefde-en-haat verhouding met die VSA, verewig in die ikoniese “The Joshua Tree” album wat tentatief “The two Americas” getiteld was, word hier voortgesit met Bono as die troebadoer-betoger wat oor sy megafoon melodieus skree, kla en inspireer.
“You have the right to remain silent, or not!”
LEES OOK: Hóór die profete! Só verloop die eerste Afrikaanse teologiese konferensie oor U2
Met hierdie sinspeling op die oorbekende Amerikaanse arrestasie-sinsnede, begin die eerste lied, “American Obituary.” Prediker 3 herinner daar’s ’n tyd om stil te bly, maar ook ’n tyd om te praat. U2 kies om te praat deur hulle kuns. Om hulle boodskap teen die grotmure van ’n deurmekaar wêreld in te krap. So verbreek hulle ’n stilte van byna nege jaar sedert hulle vorige album van oorspronklike nuwe materiaal, “Songs of Experience.” Tog is daar wel die tipiese kunstenaarstwyfel: “Was it you, Lord, I was listening to? / I wonder as things fall asunder / Was it really you I heard?”
Profetiese kreet
“Days of Ash” ís ’n profetiese kreet uit die wildernis. Bono noem dit “six postcards from the present … wish we weren’t here” in teenstelling met die geykte “Wish you were here” woorde gewoonlik op poskaarte vanaf familie op vakansie. Die foto’s en boodskappe op hierdie poskaarte is ontstellend en uitdagend. Natuurlik is dit moeilik vir baie om die harde woorde van profete te verteer. Tog herinner die Kanadese sanger Bruce Cockburn in sy lied “Maybe the Poet” ons: “Pay attention to the poet / You need him and you know it / Maybe you and he will not agree / But you need him new ways to see / Maybe the voice of the Spirit / In which case you’d better hear it.”
In ’n onderhoud noem Bono tereg dat hierdie polities-gelaaide album in ’n erg gepolariseerde wêreld beslis aanhangers sal verdeel volgens voorspelbare partypolitieke kampe. Hulle wat sal handeklap teenoor diegene wat sal verklaar: “Hou op preek en sing eerder!” Maar stilbly is nie ’n opsie vir hierdie vier Iere nie wat met hulle 1983-proteslied “Sunday bloody Sunday” en hulle 1998-vredesgebed “Please” ’n groot impak gehad het op die vredesverdrae na al die “troubles” in hulle land vanaf die laat 1960’s.
Michelangelo en koning Dawid maak hulle verskyning in hierdie liedere saam met meer onlangse figure uit konflikgeteisterde wêrelddele soos Iran, Israel, Gasa en Oekraïne. Soos die profeet Miga in hoofstuk 1:4, “weeklaag en huil” hierdie liedere oor menselewens verwoes en vernietig.
“American Obituary” word opgedra aan Renée Good, die 37-jarige Amerikaanse vrou wat op 7 Januarie 2026 in Minneapolis, Minnesota, doodgeskiet is te midde van betogings teen ICE (Immigration and Customs Enforcement). In ’n gesprek met God, soortgelyk aan 1997 se “Wake up dead man”, vra Bono: “Lord … could you stop a bullet in midair?” Die koor word ’n strydlied met ’n dosyn stemme wat uitdagend saam sing: “The power of the people is so much stronger than the people in power / In the streets with children playing / In the churches where they’re praying / We love you more than hate loves war.”
Profetiese spiritualiteit
“The Tears of Things” – bepeins wêreldkonflikte en menslike lyding en die vraag of hoop en geregtigheid nog moontlik is. Die titel kom van die Amerikaanse Franciskaanse priester Richard Rohr se gelyknamige boek. Daarin wys Rohr dat die grootste Bybelse profete ’n manier gevind het om nie net by verontwaardiging oor die ongeregtighede van hulle tyd te bly nie. Ware profetiese spiritualiteit stop nie by woede oor onreg nie, maar omarm trane en verdriet daaroor en beweeg dan na medelye, liefde en hoop. Verrassend is Dawid se gesprek vanuit die marmerblok met die beeldhouer Michelangelo: “I woke up made of marble / A shepherd boy in shock / Michelangelo release me / From a single block …” Deur die trane en worsteling om as kunswerk gebore te word kom die hart se kreet in ’n teruggryp na die konsep van Blaise Pascal: “Dear God you made us so you wouldn’t be alone / Every heart is exiled until a heart gets home / Don’t send us back to stone.” U2 se bekende gebed voor elke vertoning om “bruikbaar te wees,” eggo in die liriek: “You said ‘You’d make of me an instrument / For melody and word.’”
“Song of the Future” is ’n huldeblyk aan die Irannese tienerbetoger Sarina Esmailzadeh, wat op 23 September 2022 gesterf het nadat sy deur die veiligheidsmagte aangerand is tydens die “Woman, Life, Freedom” betogings in Karaj, Iran. “Love is a verb and not a noun,” herinner die liriek.
Yehuda Amichai (1924-2000) was Israel se mees bekende moderne digter. Sy gedig “Wildpeace” word hier voorgedra deur die Nigeriese kunstenaar Adeola Fayehun, met subtiele musiekklanke in die agtergrond. Dit is ’n smagting na ware vrede, met ’n verwysing na Miga 4:3 se profesie dat swaarde in ploegskare en spiese in snoeiskêre omvorm sal word. Ook Jesaja se profesie in hoofstuk 11:6 dat ’n wolf by ’n lam sal vertoef, word genoem. Die tragedie van eeue se konflik verwoord hy as volg: “And the howl of the orphans is passed from one generation to the next, as in a relay race: the baton never falls.”
Woede. Geweld. Trane.
“One Life at a Time” is ’n lied oor die Palestynse aktivis Awdah Hathaleen, wat die waarde van elke individuele lewe en die moeilike pad na ware vrede beklemtoon. Awdah, ’n konsultant vir die bekroonde film “No Other Land,” is op 28 Julie 2025 vermoor in die dorpie Umm al-Khair in die Wesbank, deur ’n Israelse setlaar. In die lirieke word 1 Johannes 4:18 aangehaal: “Perfect love drives out all fear.” Dan volg die uitdaging: “To be the changes that have to be.”
7 Januarie 2006. 23 September 2022. 28 Julie 2025. Drie datums op grafstene. Woede. Geweld. Trane. Ontnugtering. Vrae. En ek en jy? En die kerk? Kyk ons weg, bid ons, doen ons iets? In ’n spesiale eenmalige nuwe uitgawe van hulle tydskrif Propaganda skryf Bono met skerp kritiek oor die kerk se geneigdheid om eerder stil te bly: “The Christian church has to accept its role in the deafening silence that greeted the Holocaust of the Jewish people, Hitler’s final solution.” In hierdie Lydenstyd, kom ons luister na die Woord en die kunstenaars wat dit nuwe wysies en rympatrone gee.
Kom ons sing saam met Bono en sy Ierse bende: “In this, your holy war / There’s nothing holy here for me… Everybody is my people / Let my people go”.
Juis in hierdie gepolariseerde oomblik is die profete en psalmiste broodnodig om kalmte, bepeinsing en perspektief te bring. En veral die kerk van Jesus Christus moet luister. Psalm 146:3 waarsku tereg: “Moenie op vooraanstaandes (politici, prinse, priesters en predikante) vertrou nie, op ’n mens, by wie daar geen verlossing is nie.” Selfs “vooraanstaandes” wat skynbaar die Christendom bevoordeel? Beslis. Verál diesulkes. Veral wanneer beweer word dat namens God gepraat word. Of hulle nou Republikeine of Demokrate, Konserwatief of Liberaal, Katoliek of Gereformeerd is. Daarom die waarskuwing in “The Tears of Things:” “… when people go around talking to God / It always ends in tears.”
“Sit terug jou swaard!” is steeds die opdrag van Jesus (Matteus 26:52). “Nie deur mag of krag nie, maar deur my Gees,” sê die Here in Sagaria 4:6.
‘n Droom oor vrede
Ná herhaalde, aaneenlopende luister na “Days of Ash,” déél ek in die woede, verslaentheid en trane oor ’n asgevulde wêreld. En ek is al te bewus van die drie vingers wat terugwys na my. Maar hoop oorspoel my ook, want ná Aswoensdag en die 40 dae van vas, verootmoediging en gebed, kom die Verskriklike en Bloedige Vrydag, ’n klipharde Stil Saterdag en dan die hoopgewende en feestelike Opstandingsfees. Die album eindig met die hoopvolle “Yours Eternally” (saam met die sangers Ed Sheeran en Taras Topolia van onderskeidelik Engeland en Oekraïne) – ’n emosionele lied in die vorm van ’n brief vanaf ’n Oekraïense soldaat waarin hy droom oor vrede. Die lied eindig met die woord “Volia” (воля) – ’n diepgaande Oekraïense konsep wat vertaal kan word as “vryheid” of “vrymaking”. Dit verteenwoordig ’n diepgewortelde kulturele waarde wat persoonlike vryheid kombineer met die krag, wilskrag en vasberadenheid om nooit moed op te gee nie.
“Still dream / About waking up free / As we can be / Forget / Whatever doesn’t fit / Regret / Regret none of it / Don’t bet / On getting rid of me / Yours eternally / Volia, volia / Volia, volia / Volia, volia / Volia, volia.”
Mag jy “Volia” beleef terwyl jy na “Days of Ash” luister – en dankbaar feesvier oor die kruis van Golgota en die leë graf van die opgestane Jesus Christus.
Ds Francois Mulder is predikant in Blancogemeente, George.

Baie dankie vir die goeie artikel wat beide jou liefde vir die Here en U2 se musiek so mooi uitbeeld. Julle verwoord op ‘n aangrypende manier ons gewone mense se hartseer en weemoed oor ‘n stukkende wêreld. Mag ons onthou om die swaard terug te sit en nie daarmee te leef nie.
Dankie Francois dat jy jou passie oor musiek en vir God en die liefde vir en kennis van U2 se musiek op so diep treffende manier deel met ons. Ons bekendstel aan hierdie musiek van hulle maar dan veral aan die intense boodskap van die lerieke. Ek sou dit nie gaan uitsoek het om te luister nie, maar nou kon ek hierdie lees wat alles persoonlik maak, dwing tot selfondersoek, juis nou, in lydenstyd, nou in ons wereld. Soveel boodskappe in dit wat jy skryf uit hulle lerieke wat my anders laat dink…nie wie luister ek en wat hoor ek…wat brand in my binneste…huil ek oor ons wereld soos Jesus gehuil het toe Hy Jerusalem sien…
In hierdie lydenstyd is die swaarkry van die wêreld baie opvallend. Jou warmte, insig en passie val op, dit inspireer.
Baie dankie!
Baie dankie vir jul terugvoer, opmerkings en aanmoediging, Cecile, Corli en Wilhelm!!! Ek moet juis preek Sondag oor Jesus se “innig jammer” vir die skare / die siekes / die armes / die “sonder ‘n Herder” dwalendes …
Francois, jy het waarlik ‘n gawe om met jou musiekkennis en begrip en omgee vir die gebrokenheid en verdorwenheid van die mens, hierdie insiggewende en diep treffende skrywe te kon saamstel. Dit resoneer diep in my soms wanhopige hart. DANKIE.
‘n Uitstekende review op U2 se nuwe album. Die insig waarmee die stuk geskryf is het kort-kort aan my hart geraak. In n wereld met soveel verdeeldheid is daar nogsteeds brawe mense wat sing en kan skryf en nie vrees vir die oordeel van ander. Ek dink sommer aan die vers Jakobus 1:12:
‘Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy standvastig bly , sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe aan die wat Hom liefhet’. Net Jesus kan ons vrymaak om te kan sing en skryf en lag en dans voor God . In n wereld vol oordeel en haat wil ek saam U2 sing ‘volia”…. Leef vry …leef gelukkig ,want ons Bewaarder sluimer of slaap nooit ! Dankie vir die treffende skryfstuk!!
Wat ń uitstekende saamvleg van die die hede, die verlede van die Skrif en die musiek. Die skrywe getuig van nougesette navorsing en kennis en liefde vir die Woord.
Baie dankie oom Charles, Charmaine en Marinda – julle woorde beteken baie vir my.