’n Viering van U2 se geloofsuitinge het ’n opleidingsgeleentheid getransformeer tot ’n fees, vertel Francois Mulder. DJ Mulller het die foto’s geneem en die podsending vervaardig.
Ek loop nog stééds op die wolke na 6 en 7 Augustus 2024 se U2-konferensie op Wellington by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit. Voortaan is dié datum een van vyf monumentale U2-datums in my musikale en teologiese U2-reis saam met vier konserte wat ek bevoorreg was om in persoon te beleef (in Johannesburg 1998, Kaapstad 2011, en twee in Texas 2017).
Hierdie unieke geleentheid – die eerste Afrikaanse teologiese konferensie oor U2 – het gemaak dat my liefde vir Jesus én U2 vir twee dae sáám kon dans! ’n Verkenning en viering van laasgenoemde se kreatiewe geloofsuitinge het ’n VBO-kursus getransformeer in ’n fees van ritme, melodie en poëties-profetiese liriek.
LEES OOK: Sonder liefde is ek bankrot, skryf Bono in nuwe, omvattende lewensverhaal
Vir diegene wat nie weet nie: ’n U-2 is ’n koue-oorlog era Amerikaanse spioenasievliegtuig, maar óók die naam van my gunsteling-rockband – gevorm in 1978 in Dublin, Ierland – wat bestaan uit Bono (sanger), The Edge (kitaar), Adam Clayton (baskitaar) en Larry Mullen Jnr (dromme).
Dit was my voorreg om die konferensie te open (en ook af te sluit) met dieselfde seëning:
“Ek seën jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees … in the name of Love, in die Naam van Jahweh, die Magnificent, in die Naam van Hom who carried the cross and all my shame … mag die Gees van God hier beweeg in mysterious ways.” Die kursief-gedrukte woorde in die seën is lirieke asook liedtitels van U2.
Luister ook na DJ Muller van Kaapkerk se twee podsending-episodes oor hierdie konferensie:
LEES OOK: Bekroonde rolprent ‘Oppenheimer’ skets ’n tragiese held en genie met voete van klei
Dit was heerlik en leersaam om te kon sit aan die voete van Johann Rossouw, Marnus Havenga en Alex Clark. Nes die Psalms kan U2 se lirieke gelees, geëksegetiseer en geanaliseer word, maar moet eintlik geluister, gesing, gedans, gehuil en geskree word. Juis dáárom het ek en my rocker-seun Theo (van die groep Kloudink) vyf U2-liedere gesing tydens die konferensie (hy op kitaar en ek op stem): Love is all we have left, Grace, Wake up dead Man, Sunday bloody Sunday en Jahweh.
Maar waarom ’n rockgroep? Waarom populêre kultuuruitinge soos populêre musiek, films, romans en kuns bestudeer? Waarom nie nét die Bybel nie?
Want gelowiges kyk films, stroom TV-reekse, lees topverkoperboeke en luister musiek. En beslis nie net die sogenaamde “christelike” weergawes van bogenoemde nie. Omdat die digters, sangers, skilders en filmmakers van ons tyd dikwels die tydsgees vir ons op kreatiewe wyse oopbreek. Ons moet leer hoe om die stemme van ons dag in alle lewensfere te hoor en te evalueer om dan die “vis te eet” maar die grate uit te spoeg. Net soos Paulus wat die digters, filosowe en profete van sy tyd gelees het. Daarom in sy advies aan Titus en die gemeente op Kreta haal hy die digter-profeet Epimenides uit Kreta aan in Titus 1:12. In Handelinge 17:28 en 1 Korintiërs 15:33 haal hy weer die ongelowige digters Aratus en Menander aan. “Alle waarheid is God se waarheid” herinner Augustinus ons.
LEES OOK: Wild, Woes en Wonderlik | Evangelie ‘deur die sintuie ervaar’ op Jacobsdal
Tydens die konferensie se eerste sessie kon elkeen sy of haar gunsteling U2-lied (met redes) deel en speel oor die klanksisteem. Die trane het gevloei en daar is passievol vertel soos wat vreugdevolle en rou lewensmomente gekoppel is aan U2-liedere wat aan daardie momente klank gegee het.
My twee aanbiedinge was getiteld “Grace versus karma: die evangelie volgens Bono” en “Sit op jou Bono-brille: U2 en ’n Christelike wêreldbeeld”. In eersgenoemde is Bono se verstaan van die verbreking van karma (oorsaak en gevolg) deur die kruisdood en opstanding van Jesus (grace) uitgelig. Brian Walsh se omskrywing van die Christelike wêreldbeeld is voorgehou as ’n “bril” wat opgesit behoort te word en waardeur ons kyk na die wêreld en die kunste:
“The Biblical drama is of a good creation, loved and sustained by God, devastatingly distorted though not annihilated as a result of human egocentricity, and rescued, restored and forgiven by the Christ who will complete that restoration in the final consummation.”
Zelda la Grange – president Mandela se voormalige privaatsekretaris – het die volgende boodskap spesiaal gestuur vir die konferensie:
“Die groep U2 en Bono was van kleintyd af vir my ’n inspirasie. Hulle diep verbintenis met spiritualiteit en geregtigheid het my van vroeg af aangetrek. Dit was eers toe ek vir Bono in lewende lywe ontmoet het in die vroeë 2000s, dat ek verstaan het dat daar soveel meer aan hom was as net ’n bekende musikant. Sy toegewydheid tot sy medemens spreek van ’n diep verbintenis met sy geloof waarin daar geen plek is vir oordeel of diskriminasie nie. Met Madiba se afsterwe in 2013 het Bono en sy vrou Ali my bygestaan en verskeie kere vir en saam met my gebid. Die standvastigheid van hulle geloof en die werk wat hulle regoor die wêreld doen namens diegene wat uitdagings ervaar bly ’n inspirasie – vir almal wat hulle musiek en loopbaan volg.”
Iets van Bono se “diep verbintenis met spiritualiteit en geregtigheid” hoor ons in sy Kerslied Peace on Earth waarin hy as profeet jou Kersfeesvieringe ontstig met die woorde:
“Sick of sorrow / Sick of pain / Sick of hearing again and again / That there’s gonna be / Peace on Earth … Jesus, this song you wrote / The words are sticking in my throat / Peace on Earth / Hear it every Christmas time / But hope and history won’t rhyme …”
Die lied weerspieël ’n heilige ongeduld vermeng met klaagliedere oor die toestand van die wêreld en die kerk en ons leë woorde.
U2 en geloofsgrammatika (Marnus Havenga)
Marnus Havenga se aanbieding was ’n verstommende vergelyking tussen Bono (1960- ) en Augustinus (354-430). Dit was die nuutste en varsste “Bono-bril” wat ek in jare kon opsit. In beide se outobiografieë (Bono se Surrender in 2022 en Augustinus se Belydenisse in 397) kom die tema van die cor inquietum (rustelose hart) na vore in ’n opregte soeke wat vir Bono tydelik tot rus kom in die sing van die “Onse Vader” (Surrender, bl 543) en vir Augustinus in die sing van Psalms. Aan hom word die bekende woorde “as jy sing, bid jy twee maal” toegedig. ’n Verdere ooreenkoms tussen hulle is die onuitwisbare indruk wat hulle moeders op hulle gelaat het, veral in terme van sang en musiek. Augustinus se moeder Monica het gereeld in sy ore gesing terwyl Bono se ma Iris se dood toe hy maar 14 was, musiek in hom wakker gemaak het met ’n passie en woede wat rock-, punk- en die opera-musiek van sy pa in hom vermeng het. Augustinus skryf na sy bekering verskeie boeke, onder andere oor die Psalms, terwyl Bono en Eugene Peterson in ’n onderhoud hulle liefde vir en toonsetting en vertaling van die Psalms bespreek.
U2 se al hoe stiller, al hoe ligtender gebed (Johann Rossouw)
Dinsdag se program is afgesluit in die kapel waartydens Johann Rossouw ’n “paraliturgie” aangebied het met ’n fiktiewe verhaal van ’n predikant se jeugbekering en -roeping via die musiek van U2 en sy latere lewensloop en geestelike verdieping, geëggo deur geselekteerde snitte uit die U2-korpus. In die verhaal verwys die hoofkarakter na U2 as die “Profete van Dublin” wat met hulle 1987-album The Joshua Tree nie net die wêreld verower het nie, maar hom die lig laat sien het uit die duisternis van ’n politieke bestel in Suid-Afrika wat die evangelie misbruik het om een groep bo ’n ander te stel.
Johann se verhaal eindig met ’n uitdaging aan die hoofkarakter asook ons as hoorders, tot totale oorgawe. Na verskeie terugslae in die lewe, bly die enigste hoop om “… in gemeenskap met die Ongeskape Lig te tree …” As filosofie-professor by die Universiteit van die Vrystaat asook Ortodokse priester in ’n gemeente, is sy verwysing na die “Ongeskape Lig” besonders, omdat dit een van die klassieke Ortodokse metafore vir God is. So vind Paulus se bekering destyds op pad na Damaskus plaas (wat intertekstueel verweef is met hierdie ‘paraliturgie’), in ’n konfrontasie met die “Ongeskape Lig”.
You still haven’t found the U2 you are looking for … (Alex Clark)
Alex Clark het in sy aanbieding gewys op die oorreaksie van veral die Christelike media in Amerika op U2 se – in Bono se woorde “rustelose geloofsbelydenis” – trefferlied “I still haven’t found what I’m looking for” in 1987. Die lewenslange soeke waarvan die skrywer van die Bybelboek Prediker getuig, eggo in hierdie hunkerende moderne psalm. Die soeke na sin is diep verweef in U2 se musiek en liriek. Te dikwels word die “Hoe lank nog Here?” psalms en klaagliedere van kunstenaars egter stilgemaak en vervang met goedkoop, plastiek antwoorde. Jesus se Matteus 7 vers 7 opdrag om te vra, te soek en te klop word gesystap en vervang met ’n wêreld- en realiteitsvreemde voorspoedsgodsdiens wat die Amerikaanse droom eerder as die navolging van Jesus Christus preek (en verkoop). Waar is die kerk se moderne klaagpsalms? vra Bono in ’n onlangse onderhoud. Alex vra uitdagend: Wie is die profetiese stemme wat ons moet hoor, waarna die kerk moet luister? Die sessie word afgesluit met die speel van die relatief onbekende maar aangrypende lied “Wave of sorrow” waarin Bono die saligsprekinge van Matteus 5 oorgeskryf het om grond te vat in die onreg van die Ethiopië van 1984 en die agterstrate van Westerse stede.
Profete
Tydens ’n vraag-en-antwoord sessie is ’n krities belangrike aanhaling van die Kanadese sanger Bruce Cockburn voorgehou:
“Pay attention to the poet / You need him and you know it / Maybe you and he will not agree / But you need him new ways to see / Maybe the voice of the Spirit / In which case you’d better hear it” (Maybe the Poet)
Dikwels is die Ou-Testamentiese profete verguis (bv Jeremia) as gevolg van hulle ongewilde en anti-tydsgees boodskap. So ook profete uit die NG Kerk se hartseer geskiedenis met apartheid (dink aan oa prof BB Keet en ander). Ons móét die profete van ons tyd hoor, nes Paulus van ouds met die digter-profeet Epimenides uit Kreta. Wie is die profete wat van buite die kerk en geloofsgemeenskap roep as instrumente van God? Watter ongemaklike boodskappe rakende onreg, uitbuiting, materialisme en verdeeldheid moet die kerk hoor? Beslis U2 se 1991-lied “One” wat nes hulle lied “Please” pleit om verdraagsaamheid en eenheid in verskeidenheid (in Ierland maar ook van toepassing op Suid-Afrika): “We’re one, but we’re not the same / We get to carry each other / One …”
Vreugdevolle herbesoek
Dit was ’n absolute vreugde om die musikale klankbaan van my jeug en lewe te kon herbesoek, vier en bespreek saam met mede-U2-waardeerders wat soos ek in die bediening staan. Ek voel nie meer alleen nie. ’n Amerikaanse vriendin praat van haar “tribe” en van die “United Nations of U2.” Hierdie is my “tribe”, my mense!
In my nadenke oor hierdie konferensie, het Dietrich Bonhoeffer se “new expression of faith” soos vervat in sy Letters and papers from prison, by my opgekom. Sy woorde daag ons elkeen asook die kunstenaars onder ons uit tot die soek en luister na en skep van nuwe kunsvorme en kreatiewe geloofsuitinge waarmee die evangelie van die Gekruisigde én Opgestane Jesus Christus uitgedra kan word:
“It is not for us to foretell the day, but the day will come when people will be called to utter the word of God in such a way that the world is changed and renewed. There will be a new language, perhaps, quite unreligious, but liberating and saving, like the language of Jesus, so that people are horrified at it and yet conquered by its power” (Bonhoeffer, 1981:102).
- Ds Francois Mulder is ’n leraar by Blancogemeente op George.
Wat ‘n belewenis om Johann Rossouw se “Paraliturgie” in persoon te kon beleef. “Uit die stilte, na die Stilte.” Hier is die skakel na die video-opname van Johann se aanbieding wat DJ Muller gemaak het in die kapel op Dinsdagaand. Begroot 53 minute van diep luister sonder onderbrekings. https://youtu.be/xumXRe4l_jM
Lyk of dit ‘n uitsonderlike geleentheid was. Baie dankie, het dit baie geniet
Baie dankie Wilhelm 🙌🏻
Toe ek die die Bruce Cockburn aanhaling raak lees, veral in die konteks van U2, het dit my onmiddelik laat dink aan nog ‘n Cockburn aanhaling: “[You’ve] got to kick at the darkness ‘till it bleeds daylight”. Ek dink dit som die evangeliese benadering van U2 op vir my, veral die Rock-rebel gees waarmee hulle geloof-gebasseerde musiek skryf. Ek het deeglik die artikel geniet! Dit het ‘n “Unforgettable fire” aan dit gehad.
Baie dankie Roshai 🙌🏻
Truly well written. For me an especially profound line in your review is:
_”Nes die Psalms kan U2 se lirieke gelees, geëksegetiseer en geanaliseer word, maar moet eintlik geluister, gesing, gedans, gehuil en geskree word.”_
What a blessing and a gift from God when we meet people to whom we can honestly say…I thought I was the only one, but turns out I’m not alone!
Thank you so much Retief 🙌🏻
Ds Francois Muller se unieke verstaan van die impak van hededaagse moderne musiek se impak om die evangelie te verkondig is inderdaad uniek, profeties en uitmuntend. Francois is duidelik een van die grootse volgers en ondersteuners van alternatiewe musiek behalwe gewone gospel om die evangelie te verkondig. Sy verduidelikings oor hoe die groep en veral Bono op `n unieke manier evangelisasie doen en honderde duisende dissipels vir Jesus Christus maak slaan by tye my asem weg. Nie net gebruik ds Francois self U2 se musiek in sy eredienste met sy unieke sangstem nie, maar hy gee `n nuwe beeld van stereotipering van volgelinge van Jesus nie Sondae gelowiges is in pakke nie. Hy breek deur U2 en Bono vir ons die boodskap van Oorgawe en genade van Jesus deur die groep, maar ook ander alternatiewe musiek groepe en mense wat die Here lief het. Ons kan net dankie sê vir hom vir die diepte verstaan van U2 se visie en verduideliking van hul liedere om die evangelie te verkondig op soms ook `n subtiele manier. Welgedaan Francois. Mag die Here jou bediening seën en nog dss deur alternatiewe musiek die stereotipe beeld van gelowiges oopbreek en so God se genade vir almal ook buite die kerk laat verstaan en verkondig. Welgedaan met `n briljante artikel, sang en toespraak
Baie dankie Morne 🙌🏻
Francois skryf inderdaad in poëtiese taal met suiwer beskrywende klanke wat sorg vir ‘n musikale vloei van woorde. Uiters insiggewend, veral vir die hedendaagse Kind van God wat ‘n meer kunstige uitkyk op d lewe het.
Mens se denke word verlig om met ‘n nuwe uitkyk na hedendaagse musiek te luister en so die volheid van God se liefdesboodskap deur Jesus raak te hoor. Welgedaan Francois. Skryf gerus weer.
Baie dankie Jeanette 🙌🏻