Francois Mulder bespreek die plofbare film wat jou atoomkrag aan jou lyf laat voel en pas sewe Oscars gewen het.
Ek is gebore in Bryan Adams se “Summer of ’69” – 24 jaar ná die wêreld se eerste atoombom Hiroshima saam met 70 000 mense platgevee het op 6 Augustus 1945. Veertig jaar later in 1985 vra Sting (van die rockgroep The Police) in sy lied ‘Russians’ (geïnspireer deur ’n melodie van die Ukraïnies-gebore komponis Sergei Prokofiev) die volgende:
“How can I save my little boy from Oppenheimer’s deadly toy?
There is no monopoly on common sense, on either side of the political fence …”
Oppenheimer? Harry, die Suid-Afrikaanse mynmagnaat? Nee, J Robert Oppenheimer (22 April 1904 – 18 Februarie 1967) – die Amerikaanse teoretiese fisikus wat dikwels die “vader van die atoombom” genoem word. Hy was aan die hoof van die Amerikaanse regering se hoogs geheime Manhattanprojek tydens die Tweede Wêreldoorlog – ’n wedloop met die Nazi’s se wetenskaplikes om eerste ’n atoombom te ontwikkel.
LEES OOK: Teologiese navorsing: Oor leierskap en toekomsvisie
Ook in Suid-Afrika in die tagtigs van my hoërskooljare leef ons onder die wolk van ’n Koue Oorlog wat reeds sedert die einde van die 2e wêreldoorlog woed. Amerika en die Sowjet-Unie se kernwapens was op mekaar gerig, terwyl my generasie die laastes was wat verpligte militêre grensdiens moes doen in die destydse Suidwes-Afrika ter wille van apartheid maar ook ’n klein onderafdeling van die Weste se skaakspel teen die Rooi Gevaar.
In 2023, 48 jaar ná Hiroshima en Nagasaki, tref “Barbenheimer” toe die wêreld. Dié getygolf oortuig fliekgangers wêreldwyd om op dieselfde dag Greta Gerwig se prettige en satiriese pienk Barbie-film sáám met regisseur Christopher Nolan se donker “Oppenheimer” te kyk. En die kasregisters klingel lustig, ook hier aan die suidpunt van Afrika. Teen ’n begroting van 100 miljoen Dollar staan die atoombomfliek op ’n verstommende wins van 960 miljoen Dollar – die meeste nóg vir ’n biografiese rolprent.

LEES OOK: Verdeeldheid: As die pole juig en die middel swyg
Genomineer in 13 kategorieë vir die Oscars, het Nolan en kie op Sondagaand 10 Maart weggestap met sewe trofeë vir onder andere beste byspeler (Robert Downey Jr), beste akteur (Cillian Murphy), beste regisseur (Christopher Nolan) en die beste film.
Oppenheimer is ’n intense ervaring op die grootskerm. Suid-Afrika se Film-en-Publikasieraad se gradering vir die film waarsku 16 D L N P S V. Soos met Oliver Stone se Platoon, stap jy na 180 minute vuisvoos en moeg by die teater uit. Dit is ’n plofbare film wat jou atoomkrag aan jou lyf laat voel. Die briljante visuele effekte vat jou tot binne-in die chaos en krag van ’n atoomontploffing. Die meesleurende musiek en klank druk jou vas in jou sitplek. Intellektueel word jy deurentyd gestimuleer en gedwing om diep te dink, te oorweeg en te bevraagteken. Die spanningslyn van naderende onheil en ondergang hou jou ongemaklik regdeur die film.
Oppenheimer begin met die volgende aanhaling op die skerm: “Prometheus stole fire from the gods and gave it to man. For this, he was chained to a rock and tortured for eternity.”
Dié klassieke aanhaling uit die Griekse mitologie vorm die basis van ons hoofkarakter se morele dilemma en sielewroeging regdeur die film. Ten aanskoue van die eerste atoombomtoets op 16 Julie 1945, uiter Oppenheimer ontnugter die volgende woorde uit die Hindoegeskrif – die Bhagavad Gita: “Now I am become Death, the destroyer of worlds.”
Met méér as 200 000 mense wat uiteindelik sterf agv die twee atoombomme wat Japan tref, besef Oppenheimer wat hy en sy kollegas vermag het. In 1993 herinner Sting die wêreld:
“I never saw no miracle of science
that didn’t go from a blessing to a curse.
I never saw no military solution
that didn’t always end up as something worse.”
Jacques Ellul noem bogenoemde “the technological bluff.”
Johnny Clegg sing op sy album “Heat, dust and dreams” van die sogenaamde “inevitable consequence of progress” wat die mensdom en natuur vernietig.
Oppenheimer sukkel egter om homself te verontskuldig, goeie intensies ten spyt. In die woorde van Jesaja 59:3 beleef hy sy “… hande is met bloed bevlek …” Skuldgevoelens en nagmerries teister hom. Daarom wil hy probeer vergoed, wil hy probeer regmaak, wil hy keer. As die man van die oomblik op almal se lippe en op voorblaaie wêreldwyd, waarsku hy in die openbaar teen die gevare van ’n kernwapenwedloop. Hy word egter deur president Truman en ander oorloggesinde burokrate en politici geïgnoreer en uiteindelik geneutraliseer tydens die McCarthy-era se heksejag van die vyftigs deurdat sy sekuriteitsklaring weggeneem word as gevolg van twyfelagtige verbintenisse met liberale, kommunistiese figure.
In Nolan se film sien ons ’n tragiese held en genie met voete van klei. Hy versinnebeeld die menslike toestand en konfronteer jou met jou eie geneigdheid tot jaloesie, selfsug, gierigheid, haat, wraak en wellus. Dít is die slegte nuus van Oppenheimer wat in die oë gekyk móét word.
Ja, ons as mensdom is sondaars, in staat tot totale selfvernietiging met die druk van ’n knoppie – die Goddelike skeppingsopdrag tot rentmeesterskap, geloof, hoop en liefde heeltemal vergete.
Maar daar ís ook goeie nuus.
Méér aardskuddend as Oppenheimer se bomme is die verlossingsboodskap van Jesus. Sy plaasvervangende dood bring geregtigheid. Sy opstanding bring hoop en ’n toekomsverwagting. Oor sy eerste koms na ons wêreld sing Bruce Cockburn:
“Redemption rips through the surface of time, in the cry of a tiny Babe.”
In 1979, midde-in die kernwapenwedloop, sing Cockburn in sy lied “Wondering where the Lions are” oor sy emosies en gevoel na ’n gesprek met ’n familielid wat in die Amerikaanse geheimediens was. In dié gesprek het die familielid vertel dat, op daardie stadium, Rusland en Amerika ten minste geheime kanale van kommunikasie asook ’n ongeskrewe verstandhouding rakende die gebruik van hulle kernarsenaal gehad het, maar dat hy wakker lê oor China en dié se kernkragprogram. Die volgende oggend het Cockburn wakker geword met ’n melodie en die volgende woorde:
“Sun’s up, uh huh, looks okay
The world survives into another day
And I’m thinking about eternity
Some kind of ecstasy got a hold on me”
Ná die waarskuwing van Nolan se Oppenheimer met veral die apokaliptiese beelde van ’n moontlike Armageddoneinde op hande, staan ek deesdae gereeld op met Cockburn se woorde en wysie in my kop en op my lippe as ’n dankgebed dat ons steeds hier is en dat die knoppie van selfvernietiging nog nie gedruk is nie.
En dan pak ek die dag aan met Jesus se belofte en implisiete uitdaging in Matteus 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Kyrie eleison, Heer wees ons genadig.
- Ds Francois Mulder is ’n filmverslaafde en -versamelaar en predikant in Blancogemeente, George.
