Die toekoms is ’n onbekende reis wat voor ons lê en vrees en onsekerheid is ’n natuurlike reaksie wanneer ons dink wat die pad alles mag inhou – veral as jy die dominee is wat moet voorloop in jou gemeente en gemeenskap. Divan Vrey skryf hieroor in sy MTh-tesis aan die Universiteit Stellenbosch met die tema: “A case for ‘anticipatory leadership’: Christian eschatology and anticipation as a leadership competency for ministers in ‘an age of perplexity’.” Doret Niemandt vind meer uit.
Dit is maklik om vasgevang te raak in die bekommernisse oor wat die toekoms mag bring. Ons hou nie daarvan om nie in beheer te wees nie en dit is ongelukkig die VUCA-wêreld waarin ons lewe, sê Vrey (VUCA staan vir “volatility”, “uncertainty”, “complexity” en “ambiguity”). Konstante, onvoorspelbare verandering het die norm geword vir ons wêreld en so ook die kerk. En wat dit so erg maak, is dat hierdie kompleksiteit, onsekerheid en die spoed van verandering die heeltyd toeneem. Daar is in ons eie land verskeie ekonomiese, politieke en sosiale onsekerhede wat ons leiers lamlê. Saam daarmee lewer globalisering groot vooruitgang wat konstante aanpassing verg. Terwyl die samelewing die welstand waardeer wat wêreldwye innovasies en ontwikkelings bring, is daar onbeplande gevolge as newe-effekte. Die moderne landskap is gevul met omstandighede wat vol kompleksiteite is wat geweldige onsekerheid in die sosiale weefsel van die samelewing tussenwerp. Daar is so baie bewegende dele in hierdie era, dat Vrey dit in sy titel beskryf as “an age of perplexity”.
LUISTER OOK: Kerkbode Kollig Episode 4: Op reis met God
Die vraag is dan, hoe lei godsdiensleiers die gemeenskappe waarin hulle hulleself bevind in hierdie vinnig veranderende en ontwrigtende wêreld? Hoe jy dink oor die toekoms bepaal jou toekoms, sê Vrey. En as ons nie dink oor ons toekoms nie, dobbel ons eintlik met ons toekoms. Om net te fokus op die hier en die nou is onverantwoordelik. Vrey verwys na Hartmut Rosa se “contraction of the present” – wanneer daar so baie onsekerhede is en ons net probeer sin maak van die hede. Die verlede voel baie lank gelede en die toekoms is so onseker, dat ons net fokus op nou. Vrey noem dat dit is hoe ons ’n “proximity bias” teenoor die hede ontwikkel – wanneer mense in leierskapsrolle net fokus op dit wat in hulle onmiddellike omgewing aan die gang is.
Ons het egter ’n invloed op hoe ons toekoms gevorm word en dit is daarom belangrik om eienaarskap daarvoor te neem. Die alternatief is dat iemand anders se verbeelding vorm gee aan ons toekoms. Gemeentes en gemeenskappe hoef nie net te oorleef nie, maar kan floreer in die toekoms. Volgens Vrey hang dit egter af van die kwaliteit van besluite wat ons nou neem.
Hy noem drie maniere wat ons kan help om te dink oor die toekoms:
Reclaiming the future – Om aanspraak te maak op die toekoms. Dit beteken om oop te wees vir verandering en dit nie te sien as ’n bedreiging nie. Die toekoms is eerder gevul met potensiaal en nuwe moontlikhede.
Reframing the future – Om anders te kyk na die toekoms. Dit beteken om met nuwe oë te kyk, om nie die toekoms te vrees nie, maar dit te omarm met afwagting en hoop.
Recreating the future – Om te droom oor nuwe toekomsmoontlikhede. Dit beteken om saam met God te herskep en saam te werk na God se voorkeurtoekoms. Dit gaan oor onderskeiding saam met geloofsgemeenskappe en om die groter prentjie te sien.
God is in ons toekoms en God is hoop, daarom is ons toekoms gevul met hoop, sê Vrey. Dit moet die uitkyk en houding wees van godsdiensleiers. Hierdie hoop moet ook aan gemeentes en gemeenskappe oorgedra word en so ons aandag na die toekoms verskuif, God se voorkeurtoekoms.
LEES OOK: Verdeeldheid |As die pole juig en die middel swyg
Vrey noem hierdie manier van leiding neem “antisiperende leierskap”. Hierdie leierskapsbevoegdheid of kapasiteit het te doen met afwagting, verwagting en hoop en help leiers om te reageer op die eise van die moderne omgewing. Hy gebruik die beeld van stereoskopiese visie. Dit beteken om dieper en verder te kan kyk as net hier reg voor jou. Die manier waarop jy na die wêreld kyk hou die groter prentjie van God se visie in gedagte. “Die Christelike tradisie bevat die domein van eskatologie wat ryk besinning oor die onderwerp van tyd, tydelikheid en die toekoms het. Dit kan godsdiensleiers help om te midde van groot onsekerhede getrou gemeenskappe te lei,” sê Vrey. Antisiperende leierskap kan godsdiensleiers help om in ’n konteks van oorweldigende verandering getrou hulle roeping uit te leef en gemeenskappe te begelei.
Die toekoms as ’n onbekende reis wat voor ons lê, is dan nie meer gevul met vrees nie, maar met die afwagting van ’n groot avontuur op pad na God se voorkeurtoekoms. Dít is hoe dominees moet voorloop op hierdie onbekende pad!
- Ds Divan Vrey is predikant van die NG Gemeente Parow-Welgelegen.
- Dr Doret Niemandt is predikant van die NG Gemeente Valleisig.
- Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).