Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Die NG Kerk Jacobsdal het op Vrydag 2 Augustus hulle jaarlikse spys-, drank- en Evangelie-paring gehou, skryf ds Mias Nortier vertel meer oor dié ongewone, interaktiewe geleentheid.
Vanjaar se tema het die gehoor op ’n reis geneem deur die Skrif, van Genesis tot Openbaring, om die tema: “Wild, Woes en Wonderlik” te verken. Van die wildheid van die skepping tot die woeste gebeure wat ons geloof vorm, en uiteindelik die wonderbaarlike beloftes wat op ons wag, sien ons God se hand aan die werk in die chaos en orde van ons wêreld.
I. Die Wildheid van die Skepping
Kom ons begin aan die begin, in Genesis 1:1-2:
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef”
Stel jou die wildheid van hierdie toneel voor. Die aarde, woes en leeg, gehul in duisternis, met die Gees van God wat oor die oerwater beweeg. Hier, in hierdie wilde en ongetemde omgewing, begin God sy skeppingswerk. Hy spreek lig in die bestaan, skei die waters, en bring land, plantegroei, en lewende wesens voort.
Vir hierdie eerste fase van die tema, was beesvleis kerrie met klappermelk, Karoo naanbrood en Jägtee bedien.
Die Skepping was wild en ongetemd, maar God se woord het orde en skoonheid gebring. In Genesis 1:31 lees ons:
“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.”
Uit die wildheid het iets wonderbaarliks ontstaan, wat God se heerlikheid en doel weerspieël. Die kerrie bestaan uit klomp en uiteenlopende sterk geure, maar saam vorm dit een van die lekkerste disse wat al vyf sintuie betower.
II. Die Woeste Gebeure van die Menslike Geskiedenis
Soos ons deur die Skrif beweeg, kom ons baie woeste en rumoerige gebeure teë. Dink aan die verhaal van Noag in Genesis 6-9. Die boosheid van die mensdom het sy hoogtepunt bereik, en God besluit om die aarde met ’n groot vloed te reinig. Tog, te midde van hierdie woeste gebeurtenis, voorsien God redding deur die ark, en bewaar Noag en sy gesin.
In Eksodus ervaar die Israeliete die woeste agtervolging van Farao se leër ná hul wonderbaarlike ontsnapping uit Egipte. By die Rooi See, met die sekerheid van die dood in die gesig, tree God in. Eksodus 14:21-22 sê:
“Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die Here het die see deur ’n sterk oostewind die hele nag laat terugdryf en die see opgedroog, en die waters het geskei. En die kinders van Israel het dwarsdeur die see op droë grond gegaan, en die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter- en hul linkerhand.”
Vir hierdie tweede fase van die tema, was gerookte vlakvark-fillet Wellington bedien, met Japannese radys puree en tuisgemaakte mosterd mayonnaise. Dit was gekomplementeer deur ’n Portugees geïnspireerde Beiraõ-likeur mengeldrankie.
God se krag en verlossing is duidelik te midde van woeste situasies. Keer op keer wys God dat Hy in beheer is, en chaos in oorwinning verander.
III. Die Wonderlike Beloftes en Vervulling
In die Nuwe Testament sien ons die vervulling van God se wonderlike beloftes. In die wilde en nederige omgewing van ’n krip word Jesus Christus gebore. Sy lewe, dood, en opstanding is die uiteindelike demonstrasie van God se liefde en krag.
In Openbaring sien ons die kulminasie van God se wonderbaarlike plan. Openbaring 21:1-4 beskryf die nuwe hemel en die nuwe aarde:
“1. Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. 2. En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos ’n bruid wat versier is vir haar man. 3. Ek het toe ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4. Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ’n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.”
Vir hierdie laaste fase van die tema, was melktert-knypkoek bedien met warm ‘eggnog’ as drankie wat dit komplementeer.
Wat ’n wonderlike belofte! Uiteindelik lei al die wilde en woeste oomblikke tot ’n heerlike en ewige werklikheid waar God in volmaakte harmonie met sy mense woon.