Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In Lydenstyd bely ons dat dit die hulpelose God – Christus aan die kruis – is wat ons help.

Nadia Marais: Die geskenk van hulpeloosheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons leef in ’n tyd waarin ons baie maklik oorweldig, magteloos, hulpeloos sou kon voel. Verskeie oorloë woed die wêreld oor, ’n dreigende kernoorlog is weer ’n akute werklikheid, ons probeer sin maak van die potensieel ingrypende implikasies van kunsmatige intelligensie, ons word daagliks gekonfronteer met geweld teen vroue en kinders.

 

Waar sal ons hulp vandaan kom?

 

Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer sou self met hierdie vraag worstel. ’n Mens hoef slegs die gedigte te lees wat hy tussen 1943 en 1945 vanuit die tronk geskryf het, gedigte soos “Who am I?” of “Night voices in Tegel”, om iets van sy mismoedigheid en hulpeloosheid – oorweldig deur magte en kragte en mense en gebeure soveel groter as hy – aan te voel. Hoe is God teenwoordig wanneer dit lyk asof alles verkeerd loop?

In een van sy briewe geskryf vanuit die tronk, gedateer 16 Julie 1944, neem Bonhoeffer God se teenwoordigheid in die wêreld – ’n wêreld gekenmerk, alreeds in sy tyd, deur sterkman-politiek – in oënskou. In onseker tye dring gelowigheid of religie ons na die mag van God in die wêreld, “God as deus ex machina”, waarsku Bonhoeffer. Ons gryp na ’n sterk God, ’n magtige God, wat in staat is daartoe om te help; om by wêreldgebeure in te gryp en te beheer en te bestuur. Ons vind troos in ’n God wat wêreldmagte, wat soveel groter is as ons, kan mitigeer. Ons soek ’n groot God, ’n sterk God, ’n seker God, om ons wat so sonder hulp voel, te help. Ons hulp, so dink ons, kan slegs van só ’n God af kom.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen.

‘Slégs die lydende God kan help’

Hoewel dit ons sekerlik kán troos, skryf Bonhoeffer, is hierdie níé die troos wat die Christelike geloof ons bied nie. Die God van die Christelike geloofstradisie word gekruisig, en sterf, deur God en mens verlaat (Markus 15:34). Die evangelie bied aan ons ’n ander verstaan van Godsmag. Die Bybel maak aanspraak op die magteloosheid en hulpeloosheid van God. Ons troos is dat Christus ons inderdaad help, maar Christus help ons vanuit Christus se hulpeloosheid. Christus help ons deur Goddelike weerloosheid.

In hierdie brief, geskryf minder as ’n jaar voor sy dood, herinner hy ons aan die evangelie se antwoord op die vraag: waar kom ons hulp vandaan?

Slégs die lydende God kan help, skryf Bonhoeffer.

In sy Kerklike Dogmatiek IV/1, in ’n afdeling oor die sondeval, waarsku die Switserse teoloog Karl Barth teen sterkman-politiek. Barth verwys in 1953, soos Bonhoeffer in 1944, na Christus se woorde aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Markus 15:34). Die nederigheid, weerloosheid, en hulpeloosheid van God staan in strakke kontras met die mens wat homself wil help, en wat in hierdie self-hulp dink dat God hom help. Dit is niks minder nie as grootheidswaan – “a delusion”, skryf Barth – om te dink dat ons weet hoe om onsself te help en te bevry en te red. So ’n persoon – iemand wat nie hulpeloos wil wees nie – hou vas aan ’n beskouing wat leeg en nutteloos is, verduidelik Barth.

Maar dit is ook hoegenaamd nie vreemd of uniek nie, meen Barth. Elke mens, sonder uitsondering, probeer om onsself te help; en dit is natúúrlik so dat ons deur die goedheid van God onsself en ook ander kán en ook móét help – maar daar is ’n grens, ’n limiet, aan wat ons vir onsself kan doen. God is ons enigste helper, wat aan ons – deur ons te kies en aan ons te voorsien – lewende hulp bied.

Dit is slegs deur Christus, die hulpelose man wat die almagtige God is, wat ons werklik gehelp kan word. In Christus, “the One who would not help Himself or raise any claim to the help of God”, ontvang ons die lewegewende hulp van die hulpelose.

Ingesluit in ’n brief gedateer 8 Julie 1944, skryf Bonhoeffer die aangrypende gedig “Christians and Heathens”:

 

People go to God when they’re in need,

plead for help, pray for blessing and bread,

for rescue from their sickness, guilt, and death.

So do they all, all of them, Christians and heathens.

 

People go to God when God’s in need,

find God poor, reviled, without shelter or bread,

see God devoured by sin, weakness, and death.

Christians stand by God in God’s own pain.

 

God goes to all people in their need,

fills body and soul with God’s own bread,

goes for Christians and heathens to Calvary’s death

and forgives them both.

 

In Lydenstyd bely ons dat dit die hulpelose God – Christus aan die kruis – is wat ons help. Wat waar was vir Bonhoeffer in 1944, en vir Barth in 1953, is ook waar vir ons vandag: slégs die lydende God ons kan help.

Mag ons in hierdie dae leer om die geskenk van hulpeloosheid te ontvang en te omarm.


Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Nadia Marais: Die geskenk van hulpeloosheid”

  1. Carel Jansen

    Iets loop baie verkeerd in die dogmatiek (sistematiese teologie) van die 21e eeu hier in Suid-Afrika. Om slegs Bonhoeffer en Barth as bronne te gebruik en dan die Skrif te laat buikspreek: “Die God van die Christelike geloofstradisie word gekruisig, en sterf, deur God en mens verlaat (Markus 15:34)”, lei tot ondeurdagte (en onmoontlike) teenstrydigheid. God deur God verlaat?? Of is die God van die Christelike gelooftradisie anders as die God wat “Hom” verlaat het? So bietjie ordentlike eksegese van bv Hebr 5:7 – 9 sal iets duidelik maak van die 2 nature van Christus, en daarin sy lyding. Om te praat van ‘n hulpelose God wat ons help. As God so hulpeloos is, is Hy nie meer God nie (NGB art 1) Ons probeer om God in te pas in ons klein prentjie en Hom reduseer tot die vlak van “ons help”. Hierdie sistematiese teologie het die Skrifopenbaring van God duidelik misgetas en die belydenis (begin al by NGB art 1, en dan art 8, art 10, art 17 – 21) iewers op die ashoop agtergelaat. As ek sistematiese teologie aan hierdie artikel meet, het die kerk met sy geloof so vervlak dat dit eintlik armoedig is. Baie hartseer, want so begryp ons regtig niks van Christus nie en net so min van Lydenstyd en Paastyd. My vraag is: hoe het ons teologie hierby uitgekom? (as dit nog enigsins teologie is).

Comments are closed.

Scroll to Top