“Mamma, dink jy hy weet waar ons gaan wees?” vra sy toe sy die motor se deur ooppluk. “Hallo Ammie! Hoe was jou dag?” vra ek sarkasies maar met geen effek nie. “Hallo, Mamma. Lekker dankie. Dink jy hy sal weet waar die vakansie-oord is?”
“Van wie praat jy, my liefie?” “Die PAASHAAS,” kom ’n effe gefrustreerde antwoord. Ek skrik eintlik toe ek besef dat Paasfees om die draai is. My gedagtes dwaal. Goeie Vrydag se nagmaal, Stilsaterdag en dan die lighteid van Paassondag – Paasfees bly vir my ’n hoogtepunt in die jaar. ’n Harde “Mammaaaa!” ruk my terug na die motor buite die skool.
Ek lê die aand in die bed en wonder hoe help ek my graadeentjie om die betekenis van hierdie fees te verstaan. Én hoe vier ’n mens Paasfees op ’n vakansie-oord? Ons bly altyd Paasnaweek tuis, maar vir die eerste maal in baie jare gaan ons hierdie jaar Paasfees elders vier. Én kan ’n mens Paasfees ekologies-sensitief vier? Ek begin lees en vir mense raad vra. Die een woord wat ek oor-en-oor hoor is “intensioneel”.
Iemand stel voor dat ’n mens die week voor Paasnaweek, wat as die Groot Heilige Week bekend staan, weer die hele Paasverhaal lees en beleef.
’n Gemeentelid stel voor dat ons probeer om ons eie Paasfeeseetgoed te maak. Vir my is Paastyd sinoniem met kerrievis en paasbolletjies. Ek kry baie resepte op die internet.
Met my lees kom ek op ’n inskrywing op Independent Online af wat beweer dat Suid-Afrikaners al in 2006 meer as ’n 100 miljoen malvalekkerpaaseiers gekoop het. Ek kan nie help om te dink hoe baie is ’n 100 miljoen plastiekpakkies nie en begin dadelik na alternatiewe soek. Een webblad stel voor dat ’n mens plastiekeiers met houtpaaseiers vervang. Houteiers kan vir jare gebruik word en die kleinspan kan hulle ook verf. Ander stel voor dat ’n mens paaseiers met so min as moontlik verpakking, veral plastiese en foelieverpakking wat nie herwin kan word nie, koop. Ek dink by myself dat miskien is die argitek Ludwig Mies van der Rohe se woorde – ‘less is more’ hierdie Paasfees aan die orde van die dag. Miskien eerder ’n paar goeie kwaliteit sjokolade-eiers as sakke vol goedkoop paaseiers.
Ek hou ook baie van die voorstel om Paassondag ’n Paasverhaal-skattejag te hou. Hierdie jaar gaan ons dogtertjie nie net na sjokolade-eiers soek nie, maar ook na verskillende objekte wat herinner aan die Paasverhaal. Dit lyk maklik om te doen omdat die meeste van die objekte reeds in ons huise of tuine (en hopelik op vakansie-oorde) te vinde is.
-
- Iets donkerkleurig wat ons gebrokenheid en sonde voorstel.
- Parfuum of enige lekkerruikgoed wat ons herinner aan die vrou wat Jesus met lekkerruikolie gesalf het.
- Brood wat ons herinner aan die eerste nagmaal wat Jesus voor sy gevangeneming ingestel het.
- ’n Blaar om ons te herinner aan die palmblare wat die skare voor Jesus neergelê het met sy intog in Jerusalem.
- ’n Muntstuk wat Judas se verraad simboliseer.
- Twee stokke wat die kruis voorstel.
- Iets rooi wat Jesus se dood simboliseer.
- ’n Klip wat ons herinner aan die klip voor Jesus se graf.
- Iets wat leeg is: Jesus het opgestaan!
- Iets wit om ons te herinner aan die lappe wat in die leë graf agtergebly het.
- Paaseiers wat ons help om te onthou dat Jesus se dood en opstanding vir ons nuwe lewe gebring het.
Ek sien sommer opnuut weer uit om Paasfees te vier – al is dit hierdie jaar op ’n vakansie-oord. Hierdie jaar vier ons Paasfees eenvoudiger en intensioneel.
Ds Fay van Eeden is predikant by Stellastraat en ’n blogger oor ekologiese sake.
