Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In Indië is daar ’n groter godsdienstige verdraagsaamheid as in die Midde-Ooste, hoor Annabelle Lombard in gesprek met Marina Louw.

Gebedsreis na Indië: Indrukke van Kulkutta, Murshidabad en Moeder Teresa se nalatenskap

“Ek het altyd gesê, as die Here my Indië toe wil stuur, sal hy my aan my ore daarheen moet sleep, want dit is die laaste plek waarheen ek sou kies om te gaan.” Só vertel Marina Louw, pas terug van ’n gebedsreis na Indië, aan Annabelle Lombard. Louw deel haar indrukke van Kulkutta en Murshidabad.

“Toe die versoek per e-pos van Frontiers SA kom, het dit my behoorlik soos ’n vuishou in die maag getref wat my wind uitslaan,” vertel Louw. Louw was egter gehoorsaam en toe die reëlings in ’n rekordtyd getref kon word, en alle deure net oopswaai, het sy geglo die Here lei hulle.

PODSENDING: Luister gerus na die hele onderhoud

Weens ‘n gevoel dat daar na drie dekades te min vrug was onder die 200 miljoen Bengalese in Suid-Asië, Wes-Bengale, Indië en Bangladesj, het Frontiers gebedspanne uitgestuur om hierdie areas vir ses weke lank met gebed te bedien en die plaaslike gemeentes te gaan versterk in hulle toewyding. Die organiseerders het gehoop dat minstens 15 mense sou aanmeld, maar 51 mense is in ses spanne gemobiliseer. Louw se span van vier dames het gereeld deur Zoom-byeenkomste ontmoet ter voorbereiding vir hulle reis na Wes-Bengale.

Marina Louw beskryf haarself as voltydse Jesusvolgeling, student van die Bybel, ma, ouma en vrywilliger by Frontiers

Kalkutta

Louw beskryf haarself as voltydse Jesusvolgeling, student van die Bybel, ma, ouma en vrywilliger by Frontiers. Sy was voorheen ’n Aardrykskunde-onderwyseres en is mal oor die natuur en om mense uit verskillende kulture te ontmoet. Sy was egter onvoorbereid op die totale aanslag wat Kalkutta op die sintuie sou wees. Sy beskryf die stad as “chaoties, besig en vuil, maar funksioneel met baie vriendelike mense.”

“Alhoewel Moslems slegs 14% van Indië se bevolking uitmaak, is dit 240 miljoen mense – meer Moslems as in die hele Arabiese skiereiland. Die Christene is ’n klein minderheid en daar is soms wrywing en onverdraagsaamheid, maar ons het nooit onveilig gevoel nie.”

 

KYK OOK: Straattoneel in Bara Bazar, Kalkutta

Die besoek aan Moeder Teresa se graf en haar “Missionaries of Charity” was aangrypend. Louw sê dit was spesiaal om te sien hoe Moeder Teresa se bediening – deur ’n klein vroutjie uit ’n arm gesin en deur gehoorsaamheid – soveel vrug kon dra. Sy het as 18-jarige by die klooster aangesluit, met die roeping om ’n sendeling in Indië te word. Mense het gesê sy is mal om dit as jongmeisie aan te pak. “Wat kan jy nou eintlik bereik?” is gevra. En sy het haar beroemde antwoord gegee “een persoon op ’n slag”. Haar ma het die nuus verwerk deur haarself vir 24 uur in haar kamer af te sonder, daarna het sy die advies gegee wat Moeder Teresa regdeur haar lewe sou onthou: “Put your hand in the hand of Jesus and never look back.” Sy het haar ma en suster nooit weer gesien nie. Hindoes en Moslems eer haar vir haar groot werk onder arm mense. Hulle aanbid selfs by haar kerk. In Indië is daar ’n groter godsdienstige verdraagsaamheid as in die Midde-Ooste. Mense word nie noodwendig deur hulle families verstoot net omdat hulle ’n katedraal besoek nie.

Murshidabad

Murshidabad is meer landelik en 80% Moslem. Daar het hulle ’n pastoor van Delhi ontmoet wat hulle na huiskerke geneem het wat bestaan uit Christene wat voorheen Moslems was.

Sy deel ook stories van twee vroue: Srishti en Shorifa. Shrishti is in ’n rolstoel en is deur haar familie verwerp omdat sy ’n Christen geword het. Sy is egter vol van die Heilige Gees en vreugde. Sy is nou een van die leiers van “Love India”, ’n gebedsnetwerk.

Marina Louw deel ook stories van twee vroue: Srishti (hierbo) en Shorifa. Shrishti is in ’n rolstoel en is deur haar familie verwerp omdat sy ’n Christen geword het. Sy is egter vol van die Heilige Gees en vreugde. Sy is nou een van die leiers van “Love India”, ’n gebedsnetwerk.

Shorifa is die pastoor van ’n huiskerk vir 35 dames. Hierdie Christenvroue het uit die Moslemgeloof tot bekering gekom. Die meeste van hulle is deur hulle mans geskei, omdat hulle net dogters in die lewe gebring het. In daardie kultuur het ’n geskeide vrou geen beskerming nie en ’n man hoef net drie maal hardop te verklaar “ek skei jou”, dan is dit afgehandel. Jou familie draai dan ook hulle rug op jou, omdat jy skande oor hulle gebring het. Dit is maklik om te sien, waarom hulle die Moslemgeloof kon agterlaat. Shorifa se ouers het haar op 11-jarige ouderdom laat trou en teen 18 het haar man van haar geskei omdat sy vier dogters gehad het. Sy het in daardie tyd probeer selfdood pleeg, maar Jesus het aan haar verskyn en die tou van haar nek afgehaal. Sy bedien nou met ongelooflike outoriteit, ten spyte van die patriargale kultuur.

Moeder Teresa se graf

’n Hoogtepunt van die gebedsreis was toe hulle op ’n brug in Kalkutta gebid het vir die stad en ’n klein Indiese vlaggie teen hulle voete kom vaswaai het as ’n teken dat die Here ons gehoor het. ’n Laagtepunt was by ’n Kali-tempel waar gesê is die tempel kan nie oopmaak vir die lang ry besoekers nie, want die godin slaap en kan nie wakker gemaak word nie. Ook die minaret se treurroep het haar aan die hart gegryp. “Dit is ’n tragedie dat mense vyf keer per dag hulle rug op Jesus draai.”

“Die Heilige Gees het ons gebede geedit.”

Die taalgrens was nie ’n groot probleem nie, vertel Louw. In Kalkutta praat baie mense basiese Engels. Hulle gebruik ook baie handgebare en die Moslems het ’n verwysing van Jesus wat as profeet in die Koran genoem word. Hulle verwys na Jesus as “Isa Almasih” (Jesus die Messias). Die span het kaartjies met prentjies van die evangelie en klein geskenkies soos “Bar Ones” uitgedeel. “Die Heilige Gees is die beste onderwyser.”

Ten spyte van die kulturele kompleksiteite en die moontlikheid van sosiale verwerping, beklemtoon Louw ’n groeiende geestelike oopheid en die krag van eenvoudige dade van gehoorsaamheid. “Ons droom daarvan om die koninkryk te laat kom in daardie deel van die wêreld. Ons glo die Heilige Gees werk en die Skrif is soos ’n hamer wat rotse stadig maar seker breek.” Sy moedig mense ook aan om betrokke te raak by vriendskapsevangelisasie en bied praktiese hulpbronne aan vir dié wat belangstel om sendingwerk onder Moslemgemeenskappe te ondersteun.

Kerrie op piesangblare

“Die eerste stap is gebed”

Louw tree graag by kerke op om te vertel van haar sendingbesoeke. Sy beskryf dit as haar “happy place” as sy voor ’n kleingroep op groot saal vol mense kan getuig en hulle inspireer om betrokke te raak by sending. Vir mense wat wel die roeping in hulle hart het, moedig sy aan om te begin bid vir Moslems. Ons moet mense deur Jesus se oë van liefde en deernis sien.

Veral tydens Ramadan, is Moslems baie bewus van spiritualiteit en is hulle dikwels baie meer ontvanklik vir geestelike gesprekke. Reik uit na jou Moslemkollega. Vriendskapsevangelisasie is ’n wonderlike dissipelskapmetode. Wees net ’n vriend vir die Moslems wat jy ken. Moenie hulle ’n “projek” maak nie, geniet net hulle teenwoordigheid en bied aan om vir hulle te bid in die naam van Jesus. As daar eers ’n vertrouensverhouding is, sal die kans dalk kom om iets oor jou eie geloof te deel. Die vrug op die saad wat jy saai is nie iets waaroor ons ons hoef te bekommer nie. As ons dit wel sien, is dit ’n bonus, maar ons opdrag is in die eerste plek om te vertel van wat die Here vir ons gedoen het.

Louw nooi mense om haar te kontak by marina@frontiers.org.za vir gebedsgeleenthede of inligting oor ’n toep wat daaglikse gebedspunte verskaf.

Lees ook: Lig in donker plekke


Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan van Skuilkrans NG Gemeente.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top