Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die kerk behoort “die sataniese leerstelling” (Karl Barth se woorde) dat oorlog onvermydelik is teen te staan.

Nadia Marais | Oorlog en gerugte van oorlog: Geseënd is die vredemakers

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Oraloor word ons gekonfronteer met oorlog en gerugte van oorlog. Volgens die Kopenhagen Vredesverslag (2025) woed daar wêreldwyd meer as 50 gewapende konflikte, waarvan 11 volskaalse oorloë is. Volgens hierdie verslag is dit die grootste hoeveelheid gewapende konflikte sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Die Switserse teoloog Karl Barth sou in 1951, in sy Kerklike Dogmatiek III/4 (wat handel oor die skeppingsleer), ’n in-diepte teologiese refleksie oor die probleem van oorlog – en veral die probleem van ’n geregverdigde oorlog – bied. Hy bespreek die probleem van oorlog in ’n afdeling wat handel oor die beskerming van lewe, ’n hantering van die sesde gebod om nie dood te maak nie. Die gebod, argumenteer Barth, moet nie net negatief gelees word – vir wat dit verbied – nie, maar ook positief, vir wat dit gebied: die beskerming van lewe. Maar wat beteken dit vir ons, vandag? Hoe behoort ons oor oorlog te dink?

Onbetrokke toeskouer?

Vandag is elkeen van ons ’n militêre persoon, hetsy direk of indirek, omdat ons almal deel het aan die lyding wat oorlog veroorsaak en die optrede wat oorlog van ons vra. Ons kan ons verantwoordelikheid as militêre persone nie bloot systap nie, argumenteer Barth, want daar bestaan nie so iets soos ’n onbetrokke toeskouer in oorlog nie. Elke persoon moet vra of ’n gegewe oorlog geregverdig of ongeregverdig is, en regverdigings wat wel gebied word – soos wanneer militêre leiers ’n oorlog heilig verklaar – opweeg.

Dit sou maklik wees, waarsku Barth, om geflous te word deur propaganda: dat ’n oorlog genoodsaak word deur edele bedoelings soos geregtigheid, eerbaarheid, en vryheid. Die waarheid is egter dat oorlog gedryf word deur materiële belang. Oorlog gaan oor mag en rykdom; oor die instandhouding of uitbreiding van magsverhoudinge en die beskerming of oorname van ’n grondgebied of natuurlike hulpbronne. Dit is, in die moderne tyd, veral ekonomiese mag wat gewapende konflik dryf, meen Barth – daarom die belangrike vraag:

Beskik ons oor die mag om te leef, of besit daardie mag ons?

Sesde gebod

Oorlog behels niks minder nie as massamoord, meen Barth: om soveel as moontlik mense aan die opponerende kant te vermoor. Dit is nie eens meer net individue wat mekaar kan vermoor nie, of selfs hele weermagte nie, maar nou – met die moontlikheid van atoombomme en kernoorlog – selfs hele nasies. “How unequivocally ugly war now is!”, skryf Barth. Ons behoort nooit gewoond te raak aan oorlog, asof dit normaal, asof dit ’n gegewe is, nie. “Christian ethics cannot insist too loudly that such mass slaughter might well be mass murder,” waarsku Barth, en daarom kan enige Christelike regverdiging van oorlog slégs gebied word nadat alles gedoen is om dit te vermy: “only at the very last hour in the darkest of days.” Die kerk behoort “die sataniese leerstelling” (Barth se woorde) dat oorlog onvermydelik is en daarom geregverdig en reg wanneer dit uitbreek, sodat Christene daaraan deel móét neem omdat dit ’n heilige oorlog is, teen te staan.

Trouens, binne die kerk behoort die vraag oor oorlog selfs strenger, met méér voorbehoud, hanteer te word as ander etiese kwessies (soos selfdood, aborsie, en doodstraf, noem Barth hier uitdruklik). In oorloë word nie net die sesde gebod nie, maar feitlik elke gebod verbreek, aldus Barth. Die meeste mense wat in ’n oorlog opgevang word, word nie beter mense as gevolg daarvan nie – hulle oorleef dalk die gevolge van oorlog maar herstel nooit volkome van die trauma wat dit veroorsaak nie. Oorlog kan en behoort nie sondermeer in die kerk verdedig te word nie: binne die Christelike etiek sou dit neerkom op “a flat betrayal of the Gospel”, skryf hy. Die belangrikste rol van die Christelike etiek is om “a distinctive horror of war and aloofness from it” te kultiveer.

Insig en moed

Die rol van ’n regering is – selfs in ’n tyd van oorlog – nie om lewe te vernietig nie maar eerder om lewe te onderhou en te kultiveer, en wanneer ’n regering dit blyk te vergeet is dit die kerk se rol om hulle daaraan te herinner. ’n Staat se belangrikste taak op hande is die herstel van ’n politieke orde waarin lewe betekenisvol en regverdig is. Dit beteken dat regerings en individue so gefokus behoort te wees op vrede, en hulle so volledig daarvoor behoort te beywer, dat oorlog uiteindelik onnodig word. Dit vra geen geloof, insig, of moed om oorloghisterie – “to howl with the wolves” dat oorlog nodig mag wees nie – aan te vuur nie, skryf Barth, maar:

“What does require Christian faith, insight and courage – and the Christian Church and Christian ethics are there to show them – is to tell nations and governments that peace is the real emergency to which all our time, powers, and ability must be devoted from the very outset in order that human beings may live and live properly.”

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal die aarde beërwe.


Dr Nadia Maria doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Nadia Marais | Oorlog en gerugte van oorlog: Geseënd is die vredemakers”

Comments are closed.

Scroll to Top