Nienkie en Anke Grobler bereik met ’n biblioteekboksprojek sowat 2 000 kinders in afgeleë gemeenskappe in die Oos-Kaap. Heléne Meissenheimer ry saam in hulle VW Caddy.
Nienkie Grobler doen een ding al vir sewe jaar. Sy deel haar liefde vir boeke en stories met voorskoolse kinders in ’n verafgeleë diep plattelandse deel van die Oos-Kaap. “Die kinders het dit so nodig …” vertel hierdie Oos-Kapenaar van iets-oor-die 60. Anke, haar 23-jarige dogter, ry die laaste paar jaar saam as haar ma met hulle VW Caddy die pad vat. Ry ’n mens saam stamp-stamp van een kleuterskooltjie na ’n ander sien en hoor jy die blydskap wat hierdie projek vir almal betrokke bring.
Lees ook: Gemeentebesoek in die Bo-Karoo: Drie dae op Carnarvon
Nienkie het jare se onderwyservaring in vroeëkinderontwikkeling (VKO). Anke het so ’n paar jaar gelede haar VKO-opleiding voltooi. Die twee hou ’n projek aan die lewe wat ’n VGK-predikant min of meer ’n dekade gelede met ses boeke in ’n leë bierkrat begin het op Cala – ’n dorpie waar vele sendelinge se voetspore lê. Dit gaan nou voort onder die vaandel van die Little Seeds Eenheid vir Vroeëkinderontwikkeling. Ds Melanie Thirion noem dit hulle Oos-Kaapse biblioteekboksprojek. Sy is deel van hierdie vennootskapinisiatief van Badisa en Diaconia van die NG en VGK.

Little Seeds lys hierdie projek in hulle 2023-verslag as een van hulle suksesstories. “The latest statistics from Cala and Elliot coordinator (Nienkie Grobler) is cause for celebration. Currently 92 daycare centers are part of our program, with approximately 2 000 children benefiting from the power of storytelling …” lui die inskrywing wat noem die projek behels weeklikse besoeke om die dagsorgskole te ondersteun, toe te rus en, natuurlik, boeke vir die kinders te bring.
Nog stories oor Little Seeds: Vroeëkinderontwikkeling: Die groter storie
Vir die skoolhoofde en onderrighelpers van hierdie dagsorgskooltjies in een van die armste dele van die land maak hierdie projek ’n broodnodige wêreld van geleenthede oop. Buiten Little Seeds is nog hulporganisasies wat met VKO wil help hier betrokke. Sommige help met voedselprogramme en ander met opleiding.
Dié projek help hulle baie. Só vertel mense van die dagsorgskooltjies wat ek ontmoet toe ek in Maart saam rondry in die “taxi library”, soos Nienkie hulle diens omskryf. Nolubabalo Zathu hou die meeste van die Bybelstories. “I strongly believe that this is a good thing for them to know Jesus even in their early days because I never knew Jesus until I was old enough … it is good for them to know that there is a Jesus Christ who can save our lives,” het sy verduidelik. Ander lig uit hoe bly hulle is oor wat hulle en die kinders leer. Nolufefe Mababa vat dit so saam: “I like this project too much. It protects the kids from child abuse and teach them new skills.”
Dit het alles begin met iemand wat gevra het “Wat kan ek doen?”

Die eerste biblioteekboekeboks
Daardie iemand was ds Derick Myburg. Hy is nou afgetree, maar was vir 33 jaar die VGK-predikant van drie gemeentes. Hy het gebly in die pastorie van die gemeente op Cala. Ons het gesels voor my vertrek Oos-Kaap toe. Hy het vertel hy het iewers gehoor dit is goed vir kinders om reeds voor hulle skoolgereed is blootstelling te kry aan boeke.*
“Kinders wat in boeke belangstel, stel belang om meer te lees en te leer … ek het besef dié kindertjies kry dit glad nie. Kos is skaars hier … dit het my aan die dink gesit. Hoe doen ’n ou dit? So het ek die idee gekry van ’n biblioteekboekeboks. Ek het begin met so ses boekies in ’n bierkrat waarmee ek so 20 skooltjies bedien het,” het hy verduidelik.
Die statistiek bevestig wat hy verwoord. Slegs 35% van Suid-Afrikaanse huishoudings met kinders besit ’n kinderboek (Sien kassie hieronder).
Hy sê vir hom is dit liefwees vir jou naaste. “Ek wens elke gemeente wil so ’n manier soek van uitreik,” het hy bygevoeg.


Nienkie het in 2019 saam met hom in sy ou wit Nissan-bakkie begin rondry. Sy en haar gesin is lidmate van die NG Gemeente Elliot op Cala se buurdorp Khowa. Na sy aftrede in 2024, gaan sy daarmee voort. As sy vashaak met die Xhosa bel sy haar man, ’n polisieman op Khowa.
Sy het ook ’n kollega, Ntombomzi Monica Kanzi, wat op Khowa skooltjies bedien wat ook by die projek inskakel.
Die kratte en boeke is meer. Hulle het boeke gekry van gemeentes, by uitverkopings en by borge. Vandag bestaan die boksbiblioteek uit 100 plastiekkratte, elk met 20 boeke in. Elke skool kry drie sulke kratte per jaar wat na so drie maande omgeruil word. Elke krat het ’n lys van al die boeke binne-in. Die boeke sluit in ’n kleurvolle boek met kinderbybelverhale, storieboeke (Engels en Xhosa) en boeke oor die natuur. Daar is ook ’n boekie met illustrasies oor hoe om na die boeke te kyk en hulle reg te versorg.
Nienkie vertel laasjaar het hulle 10 boeke uit een boks verloor, maar so ’n groot verlies gebeur min. “Dit gaan oor die algemeen oraait met die boeke,” sê sy. Hulle het ’n stelsel van ’n boete as ’n boek beskadig is of wegraak, maar pas dit nie graag toe nie.
Sy sê wat sy by Myburg geleer het is dat hulle nie Kersvader moet probeer wees wat in elke behoefte probeer voorsien by die skooltjies nie. “Ons is hulle vriende. Ons probeer help waar ons kan,” voeg sy by.


“Nqo-nqo!”
Die meeste skooltjies kry swaar. Hier is nie elektrisiteit nie en een kraan bedien dikwels ’n hele gemeenskap. Almal het puttoilette. As daar nie ’n speelterrein is nie, herken ’n mens sommige geboue as ’n skooljie net aan ’n ry kleurvolle plastiek “potties” in die gras. Die kindertjies is natuurlik nog te klein om die puttoilet te gebruik.
Vir baie kinders is die middagete wat hulle by die skool kry al goeie ete vir die dag. Die meeste kinders woon by familielede wat van eina maatskaplike toelae oorleef en dalk geld wat die kinders se ouers uit die stede inbring.
Hier plant mense mielies, hou bokke, skape en beeste aan. Daar is net huiswinkels. Niks biblioteke nie. Selfs ’n enkele U-save het te swaar gekry om sy deure oop te hou.

“Dit is nie Nienkie nie, dit is God”
Wat is so lekker aan wat hulle doen? Dit wou ek graag weet aan die einde van ons oggend saam. By elke skool het ek opgelet dit is Anke wat die administrasie hanteer van boekkratte omruil en inhoud nagaan. Nienkie gryp ’n prenteboek en gaan sit plat op die vloer om daaruit voor te lees vir die kinders om haar. Dit is nou na sy met ’n sagte “nqo-nqo” by die deur gegroet het.
So toe ek vir Nienkie vra wat is vir haar lekker aan wat sy doen, vertel sy eerste sy is mal oor boeke, baie lief vir kinders en ook om in die natuur, God se handewerk, te wees. Sy dink ’n bietjie en voeg by, “dit is vir my goed en baie lekker … dit is nie ’n werk wat my druk nie, verstaan jy? Dit is net God se genade. Dit is Hy wat vir my help hierso. Dit is nie Nienkie nie, dit is God.”
RAAK BETROKKE: Little Seeds het ook vroeëkinderontwikkelingprogramme in die Noord- en Wes-Kaap. Vir meer inligting kontak Erica Hougaard by erika@littleseeds.org.za. Nienkie Grobler kan gekontak word by 061 502 8478.
- Die nasionale biblioteekdiens doen in vennootskap met die Nal’ibali Trust elke paar jaar ’n opname van leesgedrag in Suid-Afrika. Die bevindinge van die jongste een is in 2023 gepubliseer in die National Reading Barometer. Dit het gewys dat slegs 35% van huishoudings met kinders ’n kinderboek besit. Minder as 10% het meer as 10 boeke.
- Berig aangepas na publikasie.
Bybel-Media se Kinderkerskous dra by
Bybel-Media se Kinderkerskousprojek wil reusetekorte in prenteboeke vir kinders help regstel. Een manier is om projekte soos Little Seeds VKO-eenheid te ondersteun.
Bybel-Media se prentjieboek Die klip in Lisa se borskas is een van die boeke wat die Groblers met hulle boekprojek versprei. Die kleurvolle boekie, geskryf deur die predikant en spelterapeut, dr Siegfried Louw, wil kinders help om deur verlies te werk, hulle “emosies te omarm, en om hoop te vind vir die toekoms” soos beskryf op bybelmedia.org.za. Die boekie is beskikbaar in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho.
Klik hier om meer uit die vind hoe jy die Kinderkerskous kan help.


Is daar dalk n kontak in die Noord-Kaap wat Afrikaanse kinderboeke kan gebruik. Ek bly in Bloemfontein en kan baie bymekaar kry?
Hi Jeanette, ek wil baie graag met ‘n klein leesprojek op Groblershoop begin. Ek sal graag van jou Afrikaanse kinderboekies wil gebruik. Groete Christi