Rudolph Scharneck is ’n dominee wat graag die misterieuse stiltes van die hoogtes opsoek. Soms vind hy dit in die wilde vrede van hoë bergpieke, ander kere in die klank van die wind wanneer sy gemotoriseerde sweeftuig die ideale hoogte bereik en hy uiteindelik die enjin kan afskakel.
“Die belangrikste dinge is stap en vlieg,” sê hy toe ek hom vra wat hy doen vir ontspanning. “Wanneer my program dit toelaat, probeer ek een oggend per week ’n staproete saam met vriende doen. Soms begin ons al voor vier in die donker met koplampe om teen ’n berg uit te klim en is teen nege- of tienuur weer tuis. Verder slaap ons nou en dan ’n nag in die berge oor. Ek vlieg ook ’n gemotoriseerde sweeftuig wat ek by die Cape Gliding Club in Worcester huur. Dit is eintlik maar soos ’n gewone tweesitplekvliegtuig wat langer vlerke het. Ek kan gewoonweg opstyg en dan die enjin in die lug afskakel en sweef. So beleef ek op ’n ander manier iets van die natuur.”
Rudolph is sedert 2019 predikant by NG Goudini op Rawsonville in die Wes-Kaap.

“Ons is ’n plattelandse gemeente, maar relatief groot en aktief. Ons bedien baie plase in die Breedevallei wat grootliks wyndruiwe produseer, maar baie van ons lidmate werk ook op Worcester of in die stad. Daar is mense van alle ouderdomme; aktiewe jong volwassenes, maar ook baie ouer mense en ons het ’n sterk jeugbediening wat deur ons baie bekwame jeugwerker bestuur word. Die gemeente het werklik ’n hart vir die gemeenskap en is by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke. Veral ons plaaslike Badisa-kantoor steun swaar op ondersteuning uit die gemeente,” sê hy.
Voorheen was hy dominee op Greytown, ook ’n gemeenskap wat ’n groot indruk op hom gelaat het.
“By Greytown-gemeente het ek geweldig baie van die bediening geleer en baie kosbare vriendskappe gesmee. Dis ook in ons tyd op Greytown wat ons ons dogtertjie aangeneem het en ek die geleentheid gekry het om een van my groot drome waar te maak deur te leer vlieg,” sê hy.
Hy vertel van een van die moeilikste tye in sy lewe, wat later tot die grootste vreugde gelei het.
“In 2012 het ons die pad met infertiliteit geloop. Dit was verreweg die moeilikste tyd van my lewe. Enge iemand wat al die pad geloop het, sal kan getuig hoe eensaam en diep traumaties die pad is. Ons het daardie jaar vir ’n in-vitro-behandeling gegaan wat opsigself ’n uitmergelende proses is. Dit het nie uitgewerk nie en het ons lewe in chaos gedompel. Intussen moes ons voortgaan met ons dinge. Ons het destyds gekies om nie algemeen bekend te maak van die pad wat ons loop nie, so ons het redelik alleen deur alles geworstel. Ek het ’n paar groot lesse hieruit geleer.”
Luister ook: Podsending: ‘Die droogte het ons gemaak wie ons is’ – paartjie uit die Karoo deel hoe swaarkry hulle gevorm het
Meer as een keer in ons gesprek vertel hy van die grootste vreugde vandag in hom en sy vrou, Jean-Mari, ’n grondslagfase-onderwyseres, se lewe. Hulle dogtertjie, Talitha.
“My Meisiekind, is in graad 5 en in Laerskool Worcester-Oos. Sy leef die lewe voluit en is net so avontuurlustig soos ek!” lag hy.
Rudolph is al jare lank betrokke by KANSA (die Kankervereninging van Suid-Afrika) waar hy tans die voorsitter is van die vrywilligerskomitee van die Wes-Kaap, Suid-Kaap en Noord-Kaap asook die Boland-streek.
Behalwe vir gemeente- en gemeenskapswerk, bergklim en vlieg, is hy ook sedert verlede jaar die skriba van die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.
“Alhoewel dit by tye veeleisende werk is, is dit vir my baie vervullend en stimulerend om die kerk op hierdie manier te dien,” sê hy.
Ons gesels oor Suid-Afrika. Wat bekommer hom?
Lees ook: Johan van der Merwe: Wat het van die dapper NG Kerk geword?
“Die vrees waarin mense vasgevang is. My ervaring is dat mense in Suid-Afrika in vrees leef. Ons is bang vir baie verskillende dinge. Wanneer ons bang is, is ons instink om na ons eie belange om te sien. Vrees maak dat ons na binne kyk, uitsluitlik op onsself fokus. Vrees kan selfs maak dat mense wat gewoonlik goeie mense is wat vir ander omgee, skielik hulle medemens erg te na kom,” sê hy.
En hy kan praat oor vrees, want hy ken van waag ten spyte van hoë risiko’s.
“Min mense weet dit, maar ek is eintlik ’n baie versigtige ou. As ek iets doen wat skynbaar erg waaghalsig mag voorkom, kan jy weet ek het al die risiko’s deeglik vanuit verskillende oogpunte oorweeg.”
Rudolph Scharneck is lief vir die Here, lief vir mense en lief vir die natuur. ’n Goeie kombinasie! Dit is sy geloof in die Here wat hom in moeilike tye dra en hoop gee vir die toekoms – al is daar altyd risiko’s.
“Op ’n baie praktiese vlak was die een ding wat my nog altyd, van my jongste tye af, staande gehou het die vaste geloof dat die Here my deur die moeilikste tye dra en sal bly dra. Jesus het God se genade aan die wêreld ten toon gestel en gewys dat ’n mens nie ’n weermag of groot rykdom nodig het om die wêreld te verander nie. Soms moet jy net een dag op ’n slag vat, en bid vir krag vir daardie dag. Iewers kom die dag wat jy terugkyk en besef jy het deur die situasie gekom.”
Terwyl ek na Rudolph se woorde luister, dink ek aan Emilie Autumn se woorde: “And falling’s just another way to fly …”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Kerk Villieria en die Echo-Jeugbediening.
