Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Gemene deler tussen die Midde-Ooste en Suid-Afrika is “moeilike gesprekke”, soos dié rondom apartheid en die eenheidsgeprekke wat steeds tussen die NGK en VGK plaasvind. Só sê eerw dr Mae Elise Cannon (bo) wat deel was van ’n Amerikaanse afvaardiging wat in April met plaaslike kerklui soos ondermeer, van links, prof Allan Boesak, dr Nioma Venter en prof Leepo Modise, ontmoet het. Foto’s: Heléne Meissenheimer

‘Julle storie is kompleks maar diepgaande’ – Kerkleiers aan SA ná besoek wat op verklaring uitloop

Suid-Afrika se storie en geskiedenis is meer kompleks as wat sy besef het, maar ook “pragtig en diepgaande (profound)”.

Só het ’n Amerikaanse kerkleier onlangs gesê teen die einde van ’n besoek wat uitgeloop het op ’n gedeelde Vryheidsdagverklaring.

 

Lees: NG Kerk praat saam met kerke in Vryheidsdagverklaring oor onreg in Gasa en ‘vals narratief oor wit volksmoord in SA’

 

Eerw dr Mae Elise Cannon, die uitvoerende direkteur van Kerke vir Vrede in die Midde-Ooste, was deel van ’n Amerikaanse afvaardiging wat van 19-27 April met plaaslike kerklui ontmoet het.

Sy het genoem die Belhar-belydenis is een van die redes hoekom hulle gekies het om na Suid-Afrika te kom. Die belydenis is in 1986 deur die NG Sendingkerk (VGKSA vandag) aanvaar en sedertdien ook deur kerke soos die Gereformeerde Kerk van Amerika. Die groep se doel was om by plaaslike gelowiges te hoor “hoe kan ons die liggaam van Christus wees waar daar onderdrukking en onreg is.”

Die verklaring verwys ook na die Belhar-belydenis as volg: “The Belhar Confession serves as a roadmap for today by which the church may embody principles of the Good News of the Gospel in pursuit of unity, reconciliation, and justice.”

 

Die afvaardiging was onder meer van 23-24 April in Belhar in die Kaap vir ’n tweedagkonferensie waarvan die eerste dag oor aktuele sake en die tweede dag oor die Belydenis van Belhar gehandel het. Onder die ekumeniese groep was ds Rudi Swanepoel (bo) van die Taakspan Miga 6 vir versoening en geregtigheid en ds Hendry Tromp (onder), moderator van die VGK: Kaapstreek Sinode was ook by die konferensie.

Cannon het gesê ’n gemene deler tussen die Midde-Ooste en Suid-Afrika is moeilike gesprekke”, soos dié rondom apartheid en die eenheidsgeprekke wat steeds tussen die NGK en VGK plaasvind.

Die gedeelde verklaring lui onder meer: “.… (W)e affirm with urgency and clarity that the ongoing realities in Palestine demand our moral and theological response. We further recognise, in line with the witness of the global church and human rights bodies, that the situation reflects the characteristics of an apartheid system that enforces separation, domination, and systemic oppression over the Palestinian people. We echo the growing consensus among international legal scholars, human rights organizations, and genocide experts who have concluded that the threshold for genocide, as defined under international law, has been met in Gaza.”

Die afvaardiging was onder meer van 23-24 April in Belhar in die Kaap vir ’n tweedagkonferensie waarvan die eerste dag oor aktuele sake en die tweede dag oor die Belydenis van Belhar gehandel het. Proff Allan Boesak, Thias Kgatla en Leepo Modise was van die sprekers.

Lees ook: Wat is Belhar? 

 

Op die Vrydag het Kerkbode saam geluister hoe sprekers vanuit die VGK eerlik vertel van die opdraende pad met kerkeenheid wat hulle sedert 1994 intern, sowel as met die NG Kerk geloop het.

Dit was by tye ’n emosionele dag. Boesak het vertel wat die historiese, sosiale en teologiese konteks was waarbinne die Belhar-belydenis van 1986 ontstaan het.

Modise, die VGK se moderator, het in sy spreekbeurt onder meer verwys na die taal- en magstryd wat hulle intern beleef. Hy het ook verwys na die talle kere wat dit gelyk het of die NG Kerk tog daarin gaan slaag om die Belhar-belydenis te aanvaar en dan vasval weens hetsy kerkordelike redes of gebrek aan genoeg steun by NG lidmate. “Ons is tussen hoop en wanhoop,” het Modise vertel.

Luister podsending | KOLLIG: Allan Boesak oor kerkeenheid en Belhar se ontstaan

 

Dr Nioma Venter, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het aan die einde van die dag gesê sy is diep geraak deur die dag se gesprekke. Sy meen nie alles wat in die verlede tussen dié twee kerke gebeur het is al gehanteer nie. “Dit is waar ons vasval,” het sy as algemene sekretaris van die NG Kerk verduidelik en bygevoeg sy is dankbaar dat beide kerke steeds gewillig is om met mekaar te praat.

Sy het genoem van die kerkleiers van die NG en VGK het ’n afspraak om in Mei vir twee dae met mekaar te ontmoet. “Bid asseblief vir hierdie ontmoeting,” het sy bygevoeg.

Venter verduidelik die historiese verloop van die NG Kerk se posisie ten opsigte van die Belydenis van Belhar by navraag as volg: Die NG Kerk aanvaar die inhoud van die Belydenis van Belhar, maar kon by vorige sinodesittings nie die bepaalde meerderheidstem vir die insluiting daarvan by die belydenisskrifte van die kerk behaal nie. Die Algemene sinode het (in 1998) aanvaar dat die Belydenis van Belhar op sigself genome nie met die drie formuliere van eenheid in stryd is nie. Die NG Kerk se lidmate het ook “ter wille van die eenheidsproses en sy getuienis die wesenlike inhoud van die Belydenis van Belhar” aanvaar. In 2013 het ’n voorstel gedien dat Artikel 1 van die NG Kerk se Kerkorde uitgebrei sal word om die Belhar-belydenis in te sluit en sodoende die belydenisgrondslag te verruim. Artikel 44 van die Kerkorde bepaal dat ’n wysiging van die belydenis slegs kan geskied nadat elke streeksinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid én twee derdes van alle kerkrade elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het. Volgens Venter het 54,9% van die kerkverband (sinodes en gemeentes) destyds ten gunste van die wysiging van Artikel 1 gestem (45,1% daarteen). ’n Twee derde meerderheid is dus nie behaal nie.

Dit was teen hierdie tyd al laatmiddag. Binne die ruim ouditorium van die VG Gestiggemeente het van die kerkleiers opgemerk hulle voel die Here se teenwoordigheid hier vandag. As laaste spreker van die dag het eerw Eddy Aleman van die Gereformeerde Kerk in Amerika (RCA) vertel hy glo die Heilige Gees het hulle vandag hierheen gebring. Hy het gesê hulle sal graag die NG en VGK wil help om oor hulle verskille te kom.

“Historiese wonde affekteer steeds gemeenskappe en (hulle) hou ons dop … om mekaar lief te hê is soms die mees uitdagende ding. Ons is soms goed daarmee om God lief te hê maar ons doen ’n bad job om mekaar lief te hê … ek vra julle, NGK en VGKSA, om mekaar lief te hê,” het hy afgesluit.


Lees die volledige Vryheidsdag-verklaring hieronder.

Joint Statement on Freedom Day_ Solidarity, Truth, and the Call to Repentance and Justice

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top