Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wat is die Bybelse argument vir of teen die erkenning van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag? André Bartlett se standpunt.

Hoe om ’n boekprys te wen (Wenk: Jy doen nie wat jy geleer is nie!)

In die week waarin die wenners van die Hertzogprys  aangekondig is, het Koos Kombuis half grappenderwys op LitNet gevra: “Is die Hertzogprys nog relevant?”

Dit is natuurlik ’n heel ander soort prys as die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds, maar die vraag bly interessant: Is sulke pryse nog belangrik? Relevant? Of raak dit maar net nog ’n plek waar uitgewers spiere bult en probeer wys wie die meeste invloed het? Waar akademici vir mekaar besluit wat belangrik genoeg is om raakgesien te word, en waar dieselfde name oor en oor na vore kom?

LEES OOK: Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds: Tom Smith wen groot en twee nuwe toekennings sien die lig

Ek moet eerlik wees: Ek het óók so gevoel … totdat mý naam tussen die wenners verskyn het.

 

As iemand twee jaar gelede gesê het dat Care for Africa die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys sou wen, sou ek waarskynlik vir hulle gelag het. Nie omdat die boek swak is nie – inteendeel – maar omdat dit nooit volgens die gewone reëls van sukses in die uitgewerswêreld ontstaan het nie.

 

Daar was aanvanklik nie geld vir die projek nie. Ons het nie geweet of daar genoeg sterk bydraes sou wees nie. Van die mense wat ons gehoop het sou saamskryf of redigeer, was eenvoudig te besig. Die boek het ook nie netjies binne een genre geval nie: Dit was tegelyk akademies, prakties, persoonlik en kerklik. Te akademies vir sommige lesers, waarskynlik weer nie akademies genoeg vir ander nie. Daarby was dit nooit bedoel as ’n kommersiële projek nie. Dit beteken natuurlik daar was geen groot bemarkingsbegroting, boekwinkelveldtog of verwagting van verkoopsyfers nie.

Met ander woorde: Amper alles wat vir jou gesê word nodig is om ’n “suksesvolle” boek te maak, het ontbreek.

Die storie begin in 2024, toe NetACT (Network for African Congregational Theology), die Christelike Lektuurfonds (CLF) en Clairvaux Skrywershuis ’n mini-konferensie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington aangebied het. Die tema was Afrika-ekoteologie. Dit was deel van ’n skrywersretraite vir Afrikateoloë, met deelnemers van regoor die vasteland: Benin, Botswana, Kenia, Ghana, Malawi, Mosambiek, Namibië, Uganda en Suid-Afrika. Hulle het perspektiewe gebring wat gevorm is deur droogte, oorstromings, mynbou, voedseltekorte, bewaring, stedelike armoede en spiritualiteit wat diep verweef is met grond en gemeenskap.

Daar bestaan reeds belangrike boeke oor dié onderwerp, maar tydens die konferensie het een bekommernis telkens na vore gekom: Gesprekke oor ekologie en teologie word steeds grootliks in Westerse terme gevoer. Hoewel dié benaderings waarde het, sluit dit nie altyd aan by die werklike ekologiese omstandighede van Afrika nie.

Namate die gesprekke voortgegaan het, het ’n besef al sterker geword: Afrika moet sy eie stemme in ekoteologie laat hoor – stemme wat uit Afrika se werklikhede en worstelinge spruit.

Ná die konferensie het een vraag bly hang: Gaan ons ’n boek hiervan maak? En indien wel, hoe moet so ’n boek lyk? Nog ’n akademiese bundel vir universiteitsrakke? Of iets meer bruikbaar – ’n hulpmiddel vir predikante, studente, aktiviste en geloofsgemeenskappe; ’n boek wat taal gee vir die krisis waarin ons leef, wat stories van hoop vertel, en wat mense help om sin te maak van die ekologiese uitdagings waarmee ons elke dag gekonfronteer word?

CLF het nie regtig geld gehad nie, maar daar was wel genoeg ondersteuning om voort te gaan met die projek.

Ek het ’n oproep vir bydraes geskryf en dit deur netwerke regoor die vasteland versprei: teologiese fakulteite, kerkdenominasies, lede van NetACT, die Reformed Family Forum, en vorige ontvangers van die CLF-Elize Tempelhoff-toekenning vir omgewingsgeregtigheid en -bewustheid. Kort hierna het ek met prof Ernst Conradie van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ’n afspraak gemaak. Hy is een van Suid-Afrika se voorste ekoteoloë, en ek het gehoop hy sou bereid wees om as redakteur op te tree.

Hy was egter reeds te besig, maar het Jacques Beukes, ’n ekoteoloog van Unisa, en Fay van Eeden, ’n predikant en omgewingsaktivis in Pretoria, aanbeveel.

Hy het my ook met ’n belangrike waarskuwing gelos: “Onthou ook, Mias, Suid-Afrika kan nie namens die hele vasteland praat nie.”

Daardie sin het by my gebly.

Kort daarna het ek, Jacques en Fay op ’n eenvoudige uitgangspunt besluit: Laat die stemme eerste kom. Die boek sou vorm aanneem uit wat bydraers aan ons toevertrou.

En toe het die stemme gekom.

Die meeste bydraes het uit Suid-Afrika gekom, maar daar was ook bydraes uit Nigerië, Tanzanië, Ghana, Uganda, Kenia, Malawi en Zambië. Die skrywers was teoloë, predikante, studente, joernaliste en aktiviste.

Die bydraes het gehandel oor geleefde werklikhede: Herwinningsprojekte by seminariums, debatte oor skaliegas in die Karoo, renosterstropery, volhoubaarheid, voedselonsekerheid en gemeenskapstuine in Tshwane – plekke waar die bewerking van grond ook ’n vorm van geloof en getuienis geword het. Die Groen Span. The Green Anglicans. SAFCEI.

Weer en weer het dieselfde waarheid na vore gekom: Ekologiese geregtigheid is nie ’n randkwessie in Afrika nie. Dit is deel van die alledaagse lewe – verweef met droogtes, oorstromings, die uitbuiting van natuurlike hulpbronne, siekte en verplasing.

Namate die hoofstukke vermeerder het, het die omvang van die projek ook gegroei.

Maar Conradie se waarskuwing het teruggekeer: Kan ons werklik van ’n boek oor Afrika-ekoteologie praat as die redaksiespan net uit Suid-Afrikaners bestaan?

Die bekommernis was geldig. Sonder breër verteenwoordiging loop ’n mens die gevaar dat ’n beperkte groep weer namens die hele vasteland praat.

Daarom het ek my vriend, die Nigeriese teoloog Hassan Musa, gekontak. Hy het ook ’n hoofstuk geskryf en ek het vroeër sy boek oor Bybelse hermeneutiek in Afrikakontekste geredigeer. Hy het onmiddellik ingestem om deel van die redaksiespan te word. Die manuskrip het daardeur sterker geword – teologies, maar ook in sy breër Afrikaperspektief.

Toe het ’n ander probleem opgeduik: Ons het ’n voltooide manuskrip, ’n toegewyde redaksiespan en ’n boek wat gereed is vir drukwerk – maar geen geld om dit te publiseer nie.

Ek het ons gewone befondsers genader, maar niemand kon help nie. Die koste om ’n boek van meer as vierhonderd bladsye te vervaardig, was veel groter as wat ons aanvanklik besef het.

Dit was toe dat NetACT en Vennote in Getuienis instem om die projek te ondersteun, op een voorwaarde: Die boek moes oop-toegang bly. Gratis. Beskikbaar vir almal.

Die rede was eenvoudig. Te veel Afrika-navorsing bly ontoeganklik vir die mense wat dit die nodigste het. Akademiese boeke is dikwels te duur vir studente, predikante en navorsers regoor die vasteland.

Die visie het dus duidelik geword: ’n Student in Malawi, ’n predikant in Ghana of ’n aktivis in Kenia moet die boek op ’n selfoon kan aflaai en dit sonder koste via WhatsApp kan aanstuur.

Die doel was nooit wins nie – dit was deelname.

Terwyl die manuskrip ontwikkel het, het iets anders ook duidelik geword: Hierdie was nie abstrakte akademiese argumente nie. Dit was geleefde werklikhede, geskryf met dringendheid, hartseer, eerlikheid en hoop.

Toe die finale manuskrip op my lessenaar beland, het ek die emosionele gewig daarvan gevoel. In reaksie daarop het ek die slothoofstuk geskryf, The weight of water: A theological reflection on development and ecological justice; minder ’n gevolgtrekking as ’n persoonlike nadenke oor onsekerheid, verantwoordelikheid en ekologiese geloof in Afrika.

Met vyf-en-dertig hoofstukke en meer as vierhonderd bladsye, het Care for Africa minder soos ’n enkele boek gevoel en meer soos ’n koor van stemme – ’n hulpbron vir studente, predikante, aktiviste en akademici. Dit hou spanninge, verskille en teenstrydighede bymekaar, omdat ekologiese geregtigheid in Afrika self kompleks en onafgehandel is.

En toe gebeur iets onverwags: Care for Africa: Witnesses of earthkeeping and ecological justice is op die kortlys vir die 2026 Andrew Murray-Desmond Tutu-prys – een van Suid-Afrika se mees gesogte pryse vir Christelike literatuur. ’n Maand later word ons uitgenooi na die prysuitdelingsfunksie ons het gewen!

In baie opsigte het dit nie sin gemaak nie.

Care for Africa is nie ’n topverkoper nie; die drukoplaag was klein en daar is meer kopieë vir bemarking weggegee as wat verkoop is. Die boek is nooit vir die mark geskryf nie – die meeste lesers het dit deur CLF se oop-toegang-platform ontdek, eerder as in boekwinkels.

Maar miskien is dit juis die punt.

Die boek het nie erkenning gekry omdat dit die gewone reëls van die uitgewerswese gevolg het nie; dit het erkenning gekry omdat dit geweier het om dit te doen.

Dit was samewerkend eerder as individualisties; oop eerder as eksklusief; kontinentaal eerder as bloot nasionaal. Dit het kennis nie as ’n produk beskou wat beskerm moet word nie, maar as iets wat gedeel behoort te word.

En daarom dink ek weer terug aan Koos Kombuis se vraag: Is sulke pryse nog relevant?

Wel, oom Koos, die feit dat Care for Africa vanjaar een van die mees gesogte pryse vir Suid-Afrikaanse Christelike literatuur gewen het, laat my wonder of daar nie tog weer ’n skuif na relevansie besig is om plaas te vind nie.

En miskien is dit ook ’n uitnodiging aan uitgewers: Om soms die risiko met vreemde boeke en gemengde genres te neem, en ruimte te maak vir stemme, stories en gesprekke wat andersins maklik ongesiens sou verbygaan.

Of dalk is ek eenvoudig te na aan die saak om dit objektief te sien.

 

  • Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys beloop R25 000 en die beoordelaars was prof Demaine Solomons, dr Sandiswa Lerato Kobe en dr James Goddard.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top