Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Neville Cloete onthou een voorval uit November 1979 nog asof dit gister was. Foto's: Verskaf

Getuienis van oom Neville Cloete uit Zambië: ‘Toe kom daar ’n vrede oor my’

Ds Willem Schoeman skryf: As leraar van die Dutch Reformed Church of Zambia ontmoet ek interessante mense hier in Zambië. Sommige met uitsonderlike getuienisse wat ek graag met die wêreld wil deel. Getuienisse van God se sorg, sy grootheid en sy hand van beskerming.

Oom Neville Cloete woon op die plaas Eastwood Farm op die dorpie Livingstone aan die voet van die wêreldbekende Victoria-valle. Dit is op die grens tussen Zambië en Zimbabwe. Toe ek oom Neville die eerste keer op sy plaas ontmoet het, vertel hy my dat iemand hom onlangs gevra het: “Neville, glo jy nog?”

Waarop hy toe antwoord: “Ja, ek glo nog. Kom dat ek jou vertel …”

Hy gaan toe voort om te vertel van ’n besondere dag in sy lewe waar hy die Here se bonatuurlike hand van beskerming ervaar het.

Dit was 4 November 1979. Oom Neville sê hy onthou dit asof dit gister was.

Oom Neville Cloete woon op die plaas Eastwood Farm op die dorpie Livingstone. Foto’s: Verskaf

Hy het reeds tweeuur in die oggend – in die donkerte van die nag – uitgegaan om die koeie te melk. Teen omtrent vyfuur was hy klaar en het huis toe gegaan om tee te maak en die dag met mevrou Elsje Strydom bespreek. Hy het haar “Ma Strydom” genoem, alhoewel dit nie sy biologiese ma was nie. Mevrou Elsje Strydom was toe reeds weduwee en was vroeër getroud met mnr Strydom – ’n ingenieur vanaf Joubertina en neef van die eerste minister.

Skielik was daar ’n klop aan die stoepdeur en hy het gegaan om te kyk wie dit was. By die deur staan drie manne met AK47’s. Hulle het vir hom gesê om saam met hulle te loop en het sy hande agter sy rug vasgemaak. Toe het hulle hom die bosse ingeneem. Daar het hulle hom met die AK47 agter die kop geslaan, sodat hy ’n paar oomblikke bewusteloos was. Kort daarna het hy weer bygekom en hulle het hom op sy knieë laat staan. Toe hy opkyk was daar nog van die manne met die Ak47’s teen die bokante van die kom. Daar was nou omtrent tien. Die klomp was Matabeles uit Zimbabwe wat volgelinge van Joshua Nkoma was. Joshua Nkoma was Robert Mugabe se kompetisie op daardie stadium.

Donker wolke het saamgepak sodat dit skemer geraak het. ’n Fyn reën het begin val. Sy twee honde het saam met hom gestap en een hond het by hom kom sit. Toe het hulle hom allerlei vrae begin vra. Vrae soos: “Wie ken jy?” Hulle het hom gevra hoekom gaan sy ligte in die nag aan en af. Huisves hy dalk mense wat hulle teëstaan? Hy het verduidelik dat hy net ’n doodgewone melker was en nie by enige politiek betrokke was nie. Die rede hoekom die ligte so aan en af gaan, is omdat die koeie so vroeg gemelk moet word. Hy het al die vrae so eerlik as moontlik en na die beste van sy vermoë beantwoord. Soos die donker wolke saamgepak het, het dit al hoe meer skemer rondom hulle geraak.

Skielik het daar ’n helder lig uit die hemel reg langs hom geval. ’n Totale vrede het oor hom gespoel en al die geweldige angs wat hy beleef het, het heeltemal verdwyn. Hy het by homself gedink: As dit is hoe die hemel is – om soveel vrede te ervaar – dan gee hy nie om om hemel toe te gaan nie. Hy het toe vir die manne gesê dat hy nie langer enige vrae gaan beantwoord nie. Hulle kan maar skiet as hulle wil skiet.

Hy sien toe hoe die manne onder mekaar gesels. Hulle gedrag het verander. Waar hulle eers baie aggressief was, het hulle met vrede en deernis begin optree. Hulle het sy hande losgemaak en sy regterhand masseer waar hy baie seergekry het. Die drie wat hom kom haal het, het hom weer teruggeneem huis toe.

By die huis aangekom was die Zambiese polisie reeds daar. Mevrou Elsje Strydom het intussen die polisie gebel. Die polisie het vir die manne met die AK47’s gevra om ’n verklaring af te lê, maar hulle het geweier en net weggeloop. Oom Neville wou eers nie ’n verklaring aflê nie, maar hulle het vir hom verduidelik dat president Kenneth Kaunda graag wou weet wat met die boere op Livingstone gebeur. Toe lê hy ’n verklaring af en vertel alles presies soos dit gebeur het.

Omtrent twee weke later was een van die drie manne weer daar. Oom Neville het aanvanklik gedink die man het teruggekom om wraak te neem. Die man het saam met hom gestap tot hulle by ’n mopanieboom gekom het. Daar het die man oom Neville se hand gevat en vir hom gesê: “I apologise for what happened. It will never happen again.”

Kort daarna het president Kenneth Kaunda “Operation Clean up” aangekondig waar alle gewapende Zimbabwiërs wat in Zambië was, moes terugkeer Zimbabwe toe.

Na soveel jare is oom Neville nog hier om hierdie besondere getuienis te vertel. Alle eer gaan aan die Here!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top