“Ek glo ons sal weer opstaan, maar ek dink ons moet eerlik genoeg wees om te sê dit slaan seer en diep.” Só vertel Elaine Harrison van LC3 Heart Network, Robertson se interkerklike hulpnetwerk wat na die onlangse vloed nie net kos en klere uitdeel nie, maar ook aan maniere dink om hulle gemeenskap met emosionele trauma te help.
Dit is een week sedert die Breederivier weens swaar reën ’n pad van ongekende vernietiging tussen 12 en 13 Mei deur die Kaapse Wynlande gelaat het. Langs die R62 is wingerde en groenteboorde nog vaal van opdrifsels en modder.
By die kerksaal van die NG Gemeente Robertson-Oos tref ons ’n groot bedrywigheid aan. Oral is mense besig tussen gelaaide houttafels om komberse, klere, skoene en kos te sorteer. Elaine vertel hierdie is donasies wat net in die afgelope vier dae ingekom het. Die eerste skenkings is reeds uitgedeel. Sy kry min tyd vir gesels. Haar selfoon is besig soos plaaslike besighede inbel met navrae oor waarmee hulle kan help. Sy verdwyn gou om ’n skenking van ketels te ontvang.


By Ernst Botha, ’n derdegeslag boer hoor ons hierdie keer se vloed was iets ongekend.“Dit was ’n totale vloed van ’n omvang wat ons nie ken in hierdie area nie,” sê hy en verduidelik dat die water tot twee meter bo die 100 jaar vloedlyn was en op plekke selfs meer as dit.
Dit was die vierde keer in vier jaar dat hierdie rivier sy walle oorstroom het. Op Van Loveren strek een van die vier wynmakerneefs, Bussell Retief, sy hande bo sy kop om te wys waar is die water bo-oor die deur van een van hulle invoerstore. Binne die stoor het hulle begin skoonmaak – al die modderbesmeerde wynbottels en bokse lê gestapel in ’n hoek.
Elaine en hierdie boere is van die mense wat ek en die joernalis Wilmi Wheeler van KaapKerk met ’n onlangse besoek aan Robertson ontmoet het. Ons was daar om twee soorte stories vas te vang: stories van skade én van hoe en waar die kerk opdaag om te help. Van altwee was daar baie.


Bussell se vrou Annemarie het ons ’n tamaai pot gewys waarin ’n vreemdeling breyani gebring het. Sy kon 50 mense op hulle plaas daarmee kos gee. Ook mense van hulle gemeente op Ashton het sop gebring.
Sy vertel nóg ’n oomblik wat vir haar uitstaan was toe ds Janlu Kuyler van Robertson Moedergemeente in Pinksterweek ’n impromptu boodskap vir hulle werkers kom bring het. “Dit was ’n Goddelike oomblik in die chaos,” vertel sy.
By die stukkende Rooibrug kry ons vir Ashton-gemeente se ds Dhaniel Gouws. Hy vertel van saambid vir mekaar na Pinksterdienste.
Op Robertson vertel Johan Hugo die meeste van die huise in die deel van die Silwerstrandgholflandgoed langs die rivier was onder water. Hy is die algemene bestuurder daar en sê hy was verstom hoe vinnig vir almal slaapplek aangebied is. “Jou kerke, jou organisasies, almal het net ingestaan. Dit is hierdie absolute saamstaan van hierdie dorp en gemeenskap wat vir my uitstaan. Dit gee my eintlik hoendervleis om daaroor te praat,” sê hy.
“Ek is nie ’n drukkiemens nie maar nou sommige dae is dit al wat ek doen,” voeg hy by.
Al het Bussell en sy vrou Annemarie se huis ook oorstroom, is Van Loveren een van die gelukkiger plase. In Landbouweekblad van 22 Mei het boere vertel daar is mense wat alles verloor het. Die Wes-Kaapse regering het ook aansoek gedoen om die Breederiviervallei tot ’n rampgebied te verklaar. Infrastruktuur soos brûe en kraglyne het in die slag gebly.
Sommige ouers roei deesdae hulle kinders met kano’s oor die rivier, want dit is vinniger as om kilometers se ompaaie te ry om by skole uit te kom.
Eers onmiddelike nood: kos en klere
Elaine sê sy was geskok toe sy op sosiale media foto’s en video’s van die skade in hulle vallei sien. “Toe het ons begin inspring,” vertel hierdie oud-maatskaplike werker wat saam met haar man vir die weermag gewerk het tot hulle in 2021 hier kom aftree het.
Die “ons” is almal wat betrokke is by die Langeberg Christian Commerce Community (of sommer net LC3) Heart Network. Elaine koördineer hierdie uitgebreide span wat onder meer kerkleiers van die VGK, NGK en AGS insluit sowel as verskeie boere en plaaslike sakemense.

Sy vertel almal het eers hulle eie netwerke gehad, maar toe stig hulle hierdie hulporganisasie vir ’n meer gekoördineerde reaksie.
Die kerksaal van die NG Gemeente Robertson-Oos is hulle sentrale verspreidingspunt. Een van die besige sorteerders vandag is wyksraadslid Pauline Hess. Sy vertel dit is vir haar lekker om hier te help, want sy weet al die goed gaan by mense uitkom wat dit nodig het. Nog ’n paar vroue vertel hulle was by die kerk vir hulle weeklikse Bybelstudie en het toe sommer gebly om te help.
Ds Randow Jantjies van die VGK is een van die netwerk se direkteure. Hy vertel wat hierdie organisasie hom aan herinner is Matteus 25 van vers 35 waar Jesus gesê het: “Ek was honger en julle het vir My iets gegee om te eet. Naak en julle het vir My klere gegee”.


“Ek dink dit is die groot as waarmee die hele netwerk draai. Ons probeer op ’n praktiese manier die evangelie wat ons verkondig maar ook Jesus se liefde vir mense sigbaar probeer maak,” voeg hy by.
Trauma as tweede vloed
Janlu sê hy is bekommerd oor ’n “tweede vloed”. Hy verduidelik hy bedoel daarmee emosionele trauma. “Hier is ’n paar kleiner boere wat nou baie swaar trek as gevolg van vorige vloede maar ook hierdie vloed. Ek glo hulle gaan weer opstaan maar dit gaan nie maklik wees nie,” verduidelik die predikant wat pas deur sy vierde vloed in vier jaar is.

Hierdie gedagte van pastorale sorg is nie nuut nie. Soos dr Nioma Venter in 2022 in ’n Kerkbode-artikel geskryf het “heropbou en genesing is die unieke rol van die kerk wanneer dit kom by rampondersteuning. Dit lê op die vlak van die pastoraat en is daarom die roeping van die kerk”.
Ook by Elaine en van haar netwerklede hoor ’n mens ’n gevoel dat hulle gemeenskap meer as komberse en kospakkies gaan nodig kry op die lang pad na herstel. “Ek glo ons gaan opstaan, maar ek dink ons almal is maar nog ’n bietjie in ’n skokfase,” sê sy.
“Om uit te stap op jou voorstoep en wat gister mooi boorde was is nou opdrifsels … ek dink die emosioneel, psigiese en geestelike impak gaan nog later kom, verduidelik sy.
Elaine noem sy dink aan moontlik ’n netwerk van beraders opbou. Dan voeg sy by: “Ek dink ons as gemeenskap van gelowiges moet hierop attent wees om ondersteuning te kan gee wanneer dit nodig is”.
