Goeie leeroomblikke vra veel meer as ’n storie of metafoor wat in enkele minute gedeel word, skryf Anriëtte de Ridder.
Laat ek sommer begin deur te sê: Ek steek nou my nek uit as ek die kindermoment bevraagteken. Byna die helfte van NG gemeentes doen ’n kindermoment in die erediens. Vir die meeste mense, veral ouer mense, bly dit ’n kosbare en hoopvolle teken in die kerk. Die foto-vertoon van ’n groepie kinders voor in die liturgiese ruimte, die onverwagse oulike antwoorde wat hulle op die predikant se vrae gee, die gemeente wat lekker lag, en die maklike geblikte opsomming van die preek wat kom, is vir baie volwassenes soos warm malvapoeding ná ’n Sondagmiddagete – die spreekwoordelike kersie op die koek. Ons sal dit nie maklik verruil vir enige iets nie. Miskien is dit juis omdat die happie so soet proe, dat ons nie maklik kritiese vrae daaroor wil vra nie.
Maar wat as hierdie warm happie poeding ons weerhou van ’n volle maaltyd van geloofsvorming? Wat as die dierbaarheid van die oomblik maak dat ons nie dieper vrae vra oor waarmee ons nou eintlik besig is nie? En wat is die langtermyn gevolge van hierdie geestelike peuselkos?
Doel van ‘n kindermoment
Wat is die doel van ’n kindermoment? Een antwoord wat ek dikwels kry, is dat dit die Woord aan jonger kinders verduidelik. Met ander woorde: Dit is dan ’n kognitiewe leermoment waar kennis gedeel word. Maar as dit die doel is, moet ons eerlik vrae vra oor hoe effektief dit regtig is en hoe dit verskil van kategese? Myns insiens is dit nie altyd effektief nie, want dit neem die volwassenes se inhoud – die teks en preek – as vertrekpunt en sit dit om in ’n “ligte” weergawe vir kinders. Ek moes eenmaal hoor hoe ’n profetiese teks met ’n jagstorie verduidelik word. Dit was baie vermaaklik, maar geen kind was ná die tyd enige Bybelinhoud ryker nie!
Die langtermyn gevolg hiervan is dat kinders maklik leer dat hulle die “oulike item” op die spyskaart is, eerder as mede-eters aan die tafel. Hulle word bekyk, maar nie noodwendig betrek nie. En wanneer kinders ná die kindermoment uitstap, leer hulle ook nie regtig om saam met volwassenes te aanbid, geloofsgewoontes in te oefen, of die ritme van die erediens as húlle ruimte te beleef nie. Volwassenes leer op hulle beurt ook nie hoe om saam met kinders te aanbid nie; hulle raak gewoond daaraan dat die res van die diens net fynproewerskos vir grootmense is.
Goeie leeroomblikke vra veel meer as ’n storie of metafoor wat in enkele minute gedeel word. Goeie geloofsvorming neem ontwikkelingsfases in ag en leerstyle. Ware leer vind plaas binne verhoudings, betrek die sintuie, en is deelnemend van aard – juis dit wat in goeie kategese-ontmoetings ingebou behoort te wees.
Aansluiting met kategese
Daarom sou ’n beter idee wees om die kindermoment by die inhoud van die kategeseles te laat aansluit, want dan sal die inhoud ten minste die aandag verkry wat dit verdien. Toe ek iemand egter die ander dag vra, hoekom sluit hulle kindermoment aan by die volwassenes se preek en nie die kinders se kategeseles nie, toe was die persoon se antwoord: “Want die Woordverkondiging staan tog sentraal.” Ek sou redeneer: Die Woord staan sentraal, en nie die preek nie. En die Woord staan tog ook sentraal in die kategese!
So, kom ons wees eerlik, kindermomente is nie die beste resep vir leer nie. Dit is eerder vermaaklik vir volwassenes en dit sus ons gewete. “Ten minste het ons darem iets vir die kinders gedoen.”
Maar wat van die redenasie dat dit kinders laat deel voel van die gemeente?
Navorsing wys dat geloof die beste gevorm word in verhoudings. En verhoudingsbou begin nie wanneer kinders op ’n verhoog voor ons kom sit nie. Dit begin wanneer ons hulle name leer ken, belangstel, luister, en omgee. As die gemeente regtig kinders belangrik ag en hulle geloof wil vorm, sal ons tyd inruim in die erediens om na die kinders in die banke te draai, hulle raak te sien, met hulle oor geloof te gesels en hulle werklik te leer ken.
Middeweg te vinde?
Beteken dit ons moet die kindermoment skrap? Nee, hou maar die happie malvapoeding. Dit is beter as om geen moeite met die kinders te maak nie. Maar begin deur die spyskaart uit te brei, sodat die kinders nie aan geestelike skeurbuik begin ly nie. Noem dit eerder omgeetyd of familietyd, en moenie altyd die kinders na vore roep nie. Fokus daarop om die hele gemeente te betrek en deelname en verhoudingsbou te verhoog.
Gebruik dan eerder die tyd van die “kindermoment” om interaksievrae te vra. Gebruik dit om geloofgewoontes in te oefen. Gebruik dit om die kerkjaar of spesiale kerkbiddae of vakansiedae te vier. Gebruik dit om lewensoorgange te vier. Gebruik dit om mense van verskillende ouderdomme en agtergronde aan mekaar te verbind en te laat tuis kom. Laat kinders nie net die voorwerp van die oomblik wees nie, maar deelnemers aan die geloofsgemeenskap. En laat volwassenes nie net toeskouers wees nie, maar mede-eters aan dieselfde tafel. Dan is die kindermoment nie meer mosterd ná die maal – ’n laaste, haastige byvoeging vir die kinders – nie, maar deel van die tafel waar die hele geloofsfamilie saam eet.
Op die ou end vra gesonde geloofsvorming meer van ons. Kinders se geloof word nie gevorm deur kort prekies alleen nie, maar deur die inoefening van geloof, die ervaring van liefde, die ruimte om volledig deel te wees, en die geleentheid om saam met ander ouderdomme te gee én te ontvang.
Die vraag is dus nie of ons die poeding moet wegvat nie. Die vraag is of ons bereid is om saam ’n voller tafel te dek.
Vir praktiese idees kan predikante en erediensbeplanners met dié skakel inskryf vir die weeklikse e-pos, DinkJeug Wenk van die Week. Dit bevat ’n interouderdom familie-oomblik vir elke Sondag se erediens: www.dinkjeug.co.za/skryf-in-vir-wenk/
Ds Anriëtte de Ridder is predikant in sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening in die Wes-Kaapse Sinode.
